Category: Argiewe

  • Stefan Jansen was Lankal Gereed

    Stefan Jansen was Lankal Gereed

    Sanger en Liedjieskrywer, Stefan Jansen, het Donderdag aand vier nuwe enkelsnitte bekend gestel tydens sy vertoning by die AfriForum teater in Pretoria. Stefan het groot sukses met sy enkelsnit, Suikerbos, geniet en het dit opgevolg met sy lied, As Ek Jou Onthou, maar hierdie geleentheid het hy as ‘n groot mylpaal in sy loopbaan beskryf.

    ‘’Dit was my heel eerste teater show wat net uit my eie oorspronklike musiek bestaan het,’’ het Stefan gedeel.

    Die vertoning is geopen deur The Stinging Rogers wat akoestiese weergawes van hulle liedjies Kansas City, Restless en One By One gespeel het. Hulle het ook die gehoor verras met twee nuwe Afrikaanse Liedjies getiteld; Onskuld van ‘n Kind en Perspektief.

    Met die gehoor goed opgewarm het Stefan hulle vir ‘n uur en ‘n half lank in die palm van sy hand gehou en elke persoon op ‘n reis gevul met oorspronklikke musiek en staaltjies geneem.

    Hierdie was ‘n oomblik waaroor die 33-jarige musikant al sedert Hoërskool gedroom het. Stefan het in Standerd agt begin kitaar speel en het toe al gedroom van ‘n loopbaan in musiek. Die geleentheid het eers in later jare realiseer maar Stefan vertel hoe hy voltyds agter die skerms gewerk het om hierdie droom te bewaarheid.

    Stefan het toe besluit om na skool regte te studeer en het homself binne ‘n suksesvolle loopbaan as ‘n Prokureur, en toe ‘n Spesialis Makelaar gevestig. ‘n Huisbraak het egter alles verander. ‘’Hulle het by my huis ingebreek en ‘n baie duur ‘amp’ gesteel en toe die versekering uitbetaal het, het iets in my kop gekliek. Ek het besef dat ek sonder baie dinge in my lewe kon klaar kom. As ek my lewenskostes kon sny en my kar verkoop, sou ek met ‘n minimale inkomste kon uitkom en ek sou my droom kon volg,’’ deel Stefan laggend.

    Stefan het voltyds begin musiek maak en het kitare begin bou vir ekstra inkomste. Hy het reeds begin liedjies skryf, maar het meestal in ‘coverbands’ gesing. Die bas-kitaar speler in een van die bands was Tertius Human, ‘n Gerekende musiekvervaardiger in die Afrikaanse bedryf. Tertius het vir Stefan studio toe genooi en hulle het ‘n paar van sy liedjies opgeneem.

    ‘’Dit het goed geklink, maar dit het goed geklink omdat dit goed vervaardig was en ek het besef dat ek sou moes skaaf aan my skryfstyl,’’ vertel Stefan. Hy het sy lirieke begin slyp en die gevolg was Suikerbos. Tertius het dit ook opgeneem en dit aan Vonk Musiek se Kobie Koen voogelê. Koen het vir Stefan ‘n platekontrak aangebied en hy het verder in die studio begin werkskaf.

    Stefan beskryf die vertoning by die AfriForum teater as ‘n samestelling van sy eerlikste werk tot op hede. Sy nuwe enkelsnitte wat hy bekend gestel het sluit in Katryn, Janie, Lankal Gereed en Blind Induik En Bid.

    Stefan het elkeen van die liedjies opreg geskryf oor sake wat hom na aan die hart lê.  Lankal Gereed handel oor die vrees wat hy mee gestoei het om ‘n loopbaan in musiek aan te pak het. Hy was lankal gereed, maar het tyd gemors omdat hy bang was. In hierdie lied deel hy dat jy moet hard werk aan jou drome en elke geleentheid moet aangryp.

    Blind Induik En Bid is ‘n liedjie wat hy geskryf het omdat hy geneigd is om makllik verlief te raak en keer op keer sy kop stamp omdat hy blindelings in ‘n ding induik.  ‘’Ek is ‘n hopelose romantikus,’’ lag Stefan, ‘’en soms sien jy net wat jy wil sien wanneer jy verlief is.

    Janie is ‘n lied wat Stefan vir sy fiktiewe buurvrou geskryf het. In die lied vra hy vir Janie ‘’Waarheen gaan al die bure?’’ die lied handel oor die mense wat die land verlaat met die wete dat hulle iets van hulself hier moet agterlaat.  Stefan het al baie oorsee gereis en beskryf Suid-Afrika, met al sy probleme, as ‘n juweel en die enigste plek waar hy voel hy behoort.

    Katryn is ‘n lied met ‘n diep persoonlike betekenis vir Stefan en word opgedra aan sy suster. ‘’Dis ‘n gesprek wat my al meer as tien jaar lank geneem het om te begin,’’ vertel Stefan. Stefan se sussie het net na skool ‘n groot mediese terugslag tydens ‘n operasie beleef en hy het nie geweet hoe om dit te verwerk nie. Met hierdie lied verbreek hy ‘n jare lange stilte en vertel hy van die krag wat die kleinste en fynste een in die gesin het.

    Stefan het gedeel dat hy dankbaar is dat die geleentheid om sy musiek te deel nou gekom het. ‘’Dit het gebeur in ‘n tyd waar my musiek gereed was om gedeel te word. Dit was nie ‘n makilike pad nie, maar nou kyk ek net vorentoe.’’

    Stefan sluit sy vertoning in die AfriForum Teater af deur ‘n tiendae lange toer in Clarens af te skop. Verder beplan hy ‘n Europese toer in Junie en Julie en beoog om sy eerste vollengte album in vroeg 2023 vry te stel.

  • AS JY DEUR HEL GAAN – DOZI

    AS JY DEUR HEL GAAN – DOZI

    Dozi, ‘n geliefde en bekende in Suid-Afrikaanse musiekkringe, reik sy musiekvideo, As Jy Deur Hel Gaan, uit wat opgedra is aan vrede.

    Die musiekvideo gaan beeldmateriaal van die oorstromings in Australië en die oorlog in die Oekraïne insluit. Die hoop is om fokus te vestig dat ons almal moet saamstaan en sodoende enigiets kan oorwin. Hierdie musiekvideo wat vrede uitbeeld, eindig met die bewoording, “Wat het geword van die wêreld? Daar is minder pyn en lyding in vrede…”

    Vanaf die uitreiking van Dozi se eerste album, Mercy in 1999, sing hy die land aan die brand met sy warm stem. As Jy Deur Hel Gaan is beskikbaar op Dozi se negentiende studio album, getiteld Vrede, tesame met 11 ander oorspronklike snitte. Dié liedjie is een van sy gunstelinge op die album. Hy voel nie net is dit van toepassing op die huidige situasie nie, maar dat ‘n mens lirieke skryf moet dit iets relevant wees tot mense se lewens.

    Hierdie lied van vrede is op verskeie digitale platforms, soos Spotify, Deezer, Apple Music en iTunes beskikbaar.

    As Jy Deur Hel Gaan se musiekvideo word Vrydag, 11 Maart op Real Music/Vonk Musiek se YouTube kanaal vrygestel.

    Facebook Instagram Tiktok
  • HENNING JOUBERT EN TiNO, TRANSKAROO

    HENNING JOUBERT EN TiNO, TRANSKAROO

    Sangers Henning Joubert en Tino het uit twee verskillende stasies vertrek toe hulle, hul loopbane in die musiekbedryf begin het, maar op hul nuwe enkelsnit, Transkaroo, het die twee manne hul stemme op een spoor gelê om ‘n nuwe weergawe te skep van die gewilde ou Herman Holtzhauzen treffer.

    Henning was ‘n lid van die Revolutionere Afrikaanse Rock Groep, Beeskraal en het gereeld saam met die orkes getoer. Tydens die toere het Henning heelwat musikante ontmoet wat hom genader het om vir hulle kitaar te speel. Hy het later weggebreek van Beeskraal en begin speel op ‘n vryskutbasis vir kunstenaars soos William Blackrose, Steyn Fourie en ‘n paar “cover bands”. Gedurende ‘n optrede in London, het Henning en Dozi ontmoet en ‘n maand later het hy op ‘n permanente basis saam met hom begin toer. Volgens Henning was Dozi sy diensplig.

    Hy het later ook vir Robbie Wessels en Bok van Blerk gespeel, maar in 2001 het hy die Sakkie-Langarm-Boereorkes kompetisie gewen en het dit hom gemotiveer om ‘n solo-loopbaan aan te pak. Hy het verskeie albums vrygestel ondermeer; Vuuraansteek Boeremusiek, Spookfontein en Namib Nagte.

    Tino aan die ander kant is nog redelik groen in die musiekbedryf. Tino oftewel Tinotenda Singe is in 2002 in Harare, Zimbabwe gebore.  As kleuter het hy saam met sy ouers na Suid-Afrika verhuis en hulle in Swellendam gevestig, en woon tot vandag nog op hierdie plattelandse dorp in die Wes Kaap.

    Tino was nog altyd lief vir Afrikaanse musiek en het toe besluit om sy talent op TikTok te deel. Sy aanhangers op sosiale media het hom leer ken met covers van kunstenaars soos Jan Blohm en Spoegwolf, maar het in 2021 sy eerste Afrikaanse enkelsnit Katariena Malherbe, geskryf deur sanger en Akteur Hennie Jakobs, vrygestel.

    Beide Henning en Tino is geteken by Vonk Musiek en na platemaatskappy die twee aanmekaar voorgestel het, het die twee besluit om saam ‘n projek aan te pak. Henning was op daardie stadium reeds besig om aan ‘n verwerking van Transkaroo te skaaf en hy het vir Tino genooi om dit saam met hom op te neem. Tertius Human van Coolerbox Studios het al die tegniese aspekte, opnames en finale meng hanteer.

    Die twee het dit reggekry om ‘n psalmagtige weergawe van ‘n bekende ou treffer wat by jou sal spook te skep. Tino en Henning se bariton stemme harmoniseer langs mekaar soos ‘n trein se spore en die eindbestemming is hoendervleismooi.

  • BALLADE VAN ‘N LONELY TROEBADOER – GIAN GROEN

    BALLADE VAN ‘N LONELY TROEBADOER – GIAN GROEN

    Lonely troebadoer is die splinternuwe enkelsnitvrystelling van die immergewilde kunstenaar Gian Groen. Toe almal gedink het liedjieskrywers gaan baie meer produktief wees tydens lockdown oor hul tuis vasgevang is, was kunstenaars eerder besig om planne te beraam om kontantvloei te genereer as gevolg van die feit dat daar so baie konserte gekanselleer is.

    Die ooglopende ding was om konserte te stroom vir die mense daar buite en sodoende die bedryf aan die gang te hou.

    Gian vertel dat dit is ‘n baie eensame plek om te wees vir n Troebadoer. So sit mens in ’n klein klankdigte vertrekkie met net n kitaar en ’n kamera terwyl duisende mense die geleentheid kry om in te skakel. Dit is byna asof jy in ‘n glaskas sit en musiek maak waar die wêreld kan inkyk, maar die kunstenaar sien niemand nie.

    Gian het die liedjie lonely troebadoer geskryf terwyl hy self COVID gehad het. Hy het self die verwerking daarvan gedoen in samewerking met sy jarelange vriend en medevervaardiger, Alex Power, by sy ateljee, Farmyard Studio in Gordonsbaai. Alex speel die baskitaar daarop, Guy Feldman en Gian speel die kitare, en Simon Sloane speel die dromme.

    Jandre Spangenberg het die post-produksie behartig by sy ateljee, Totius Hill Studio, in Welgemoed. Jandre het ook klawers gespeel en die agtergrondsang gedoen.

    Die musiekvideo is geskiet deur Rudolph de Wet van Vonk Musiek.

    Facebook Instagram Youtube Tiktok
  • RAY DYLAN VIER THEUNS JORDAAN EN DIE LIEFDE MET NUWE ENKELSNIT

    RAY DYLAN VIER THEUNS JORDAAN EN DIE LIEFDE MET NUWE ENKELSNIT

    “Ek het hierdie liedjie vir ’n groot mentor in my lewe, Theuns Jordaan, geskryf om op te neem wat hy nooit kans gekry het om te doen nie. Omdat dit goeie reaksie uitgelok het op konserte, het ek dit voor sy afsterwe opgeneem en om dit nou te kan vrystel, beteken vir my ontsettend baie. As ’n mens mooi luister sal jy die Theuns-aanslag hoor,” verklap die SAMA-bekroonde musikant and liedjieskrywer, Ray Dylan, oor sy nuutste enkelsnit wat pas vrygestel is en reeds besig is om soos ’n veldbrand te versprei.

    VIR EENS IN MY LEWE is ’n Afrikaanse popsnit uit sy eie pen en is ’n liedjie wat beklemtoon hoe belangrik liefde en stabiliteit in ’n mens se lewe is. ’n Tema wat veral hierdie maand relevant is.

    “Die liedjie gaan oor ’n persoon wat ’n definitiewe rigting in hulle lewe gevind het. Enigiemand beleef soms wankelrige tye en hierdie snit beskryf hoe iemand in hierdie posisie beslissing/ rigting in hulle lewe gekry het,” verduidelik hy. “Ek skryf altyd uit lewenservaring en hierdie is maar net nog ’n voorbeeld van my lewe. Vir eens in my lewe weet ek wie ek is.”

    Die musiekvideo is by Photo Factory in Boksburg verfilm en die produksie is deur Vonk Musiek en CoolerBox Brothers behartig.

    “Die venue het verskillende stelle op een perseel en dit het ons werk baie maklik gemaak. Die verste wat ons moes loop om by die volgende plek uit te kom, was 100m,” verklap die vervaardigers oor hoekom hulle die venue gekies het. 

    Nadat Ray en die span daaroor gesels het, het hulle besluit om ’n optrede-video te maak, sodat aanhangers die liedjie ten volle kan geniet en lekker daarop kan dans wanneer dit op die kassie verskyn. 

    Kyk die video hier: https://youtu.be/eT2MV9ENPNg

    VIR EENS IN MY LEWE volg in die voetspore van sy emosiebelaaide treffer, Laaste Groet, wat steeds op verskeie treffersparades pronk, asook By Jou Voete Lê wat dansvloere laat gons het oor die afgelope paar maande.

    Ray is al vir meer as drie dekades in die musiekbedryf doenig en is veral bekend vir treffers soos Hokaai Stoppie Lorrie, Dis Verby, Jessica, Hier binne klop ’n Boerehart, Angel-face, You’re My Everything, Vir Ewig Jonk, Uitbasuin, Hier Teen Jou Lyf en meer.

    Sedert hy op die ouderdom van twaalf saam met Bles Bridges begin optree het, het hy die kuns vervolmaak om met Afrikaners se harte te praat en verskeie goue- en dubbelplatinumstatus-albums en -liedjies uitgereik.

    Tans werk hy aan twee nuwe albums wat hy binnekort wil uitreik en geniet hy dit om weer voor gehore te kan optree.

    VIR EENS IN MY LEWE is ’n treffende liedjie wat twee top-kunstenaars se style kombineer en dadelik in jou kop vassteek. Dit nooi jou uit om saam te neurie en te onthou dat die lewe uitwerk soos wat dit moet.

    Laai dit hier af:

    SOSIALEMEDIASKAKELS:

    Webblad – www.ray-dylan.co.za

    BESPREKINGS:

    RDM PROMOSIES

    Jessica Dylan-Jersich

    Sel: 084 561 1865

    E-pos: jessica@ray-dylan.co.za

    PUBLISITEIT & BEMARKING:

    STARBURST PROMOSIES

    Gizela Arndt

    Sel: 083 399 6869

    E-pos: gizela@starburstmusic.co.za

    Webblad: www.starburstmusic.co.za

  • AS EK JOU ONTHOU – STEFAN JANSEN

    AS EK JOU ONTHOU – STEFAN JANSEN

    Alhoewel Stefan Jansen se lewe draai om akoestiese kitare, is hy ook ‘n gewilde kunstenaar wat ‘n lekker atmosfeer bring na enige geleentheid.

    Stefan het in Bronkhorstspruit grootgeword en het byna al sy naweke op skool in die bosveld spandeer saam met sy pa. Hy sê Bronkies is ‘n besonderse musikale dorp vir een of ander rede en dit het definitief bygedra tot sy uiteindelike musiekplanne. In Graad 10 het Stefan se pa hom geleer kitaar speel en omdat dit ‘n moeilike jaar vir hom was, kon hy skuiling en veiligheid vind in musiek in sy binnekamer. Alhoewel musiek aanvanklik net ‘n rustige plek was waar hy tyd kon spandeer met sy gedagtes en gevoelens, het dit gegroei tot iets groter. Hy vertel dat hy kitaar gespeel het vir sy vriende op skool, het hy ‘n sin van rigting en identiteit begin ontwikkel.

    Die proses is voorgesit toe hy gaan studeer het om ‘n prokureur te word aan die Universiteit van Pretoria. Hy was in die koshuis en het aan al wat kultuur en musiekgeleentheid deelgeneem, en het meer begin bekendheid verwerf as “Kitaar Stefan”. Hy was die Sosiale- en Kultuurleier op die Huis Kommitee. Op, asook ná universiteit het Stefan in klein kroeë en restaurante begin musiek maak vir sakgeld. Vandaar af het dit basies net nooit opgehou nie. Hy het wel as prokureur begin praktiseer en daarna as ‘n versekeringsmakelaar, maar sy brandende droom om voltyds musiek te maak het nooit verdwyn nie. Uiteindelik het daar in 2019 ‘n geleentheid oor sy pad gekom om die groot sprong te maak om al sy aandag aan sy musiek te begin spandeer. Dit is die groot deurbraak.

    Stefan vertel dat sy hele lewe draai eintlik rondom akoestiese kitare. Boonop werk hy vir ‘n winkel (Guitar Gallery) wat spesialiseer in top-klas akoestiese kitare. Hy diens kitare en bou ook sy eie kitare. Ek het in die derde vlaag inperking my eerste kitaar gebou, en hy is nou my primêre instrument waarmee hy optree, ‘n ongelooflike gevoel.

    Van 2019 af tot nou het Stefan twee liedjies vrygestel, Verdienste en Genade en Suikerbos.

    Hy speel akoestiese kitaar en mondfluitjie en skryf al sy eie musiek en woorde.

    Sy nuutste enkelsnit heet As Ek Jou Onthou. Die snit handel oor mense wat in jou lewe inkom en gaan, maar die mooi herinneringe van daardie mooi mense wat ‘n mens altyd bybly. Dit gebeur so dikwels dat mense se paaie skei, vir goeie redes of andersins, wat ons mekaar verwyt of net die minder goeie goed onthou. Daar is ook die kere wat, selfs al het dinge nie op die beste noot geëindig nie, mens nie kan help as om die mooi dinge saam met jou te dra nie. Stefan sê hy voel ons almal moet meer gefokus wees om die mooi dinge in mekaar te sien en te onthou, so hierdie snit is ‘n absolute good memories liedjie.

    Die snit se verwerking is gedoen deur sy goeie vriend, Tertius Human van VONK, en die musiekvideo is vervaardig deur Wian van der Walt, ook van VONK. Die video is gemik om die storie van die liedjie te vertel. Dit is geskiet op pad Glemore Strand toe, in die omliggende area daar, en ook oppad terug. Die besluit was om nie te veel te werk aan ‘n storie nie, maar om eerder op ‘n spontane roadtrip te gaan en dit alles te verfilm om dit so naby as moontlik aan eg te hou.

    Stefan is baie opgewonde om die liedjie met sy mense te deel, want hy voel dit wys vir mense hoe sy hart werk, en hoe hy glo ander mense mekaar moet hanteer. Dis ‘n baie groot cliché, maar as ons almal, in die perfekte wêreld, net bietjie meer liefde vir mekaar kon hê, ‘n klein bietjie meer geduld en ‘n klein bietjie meer genade, sou hierdie pragtige planeet nóg ‘n beter plek vir almal wees.

    Facebook Youtube Instagram
  • PANTOFFEL RAMPOKKER – JAMES EN ANDRé

    PANTOFFEL RAMPOKKER – JAMES EN ANDRé

    In 1999 het die twee broers, James en André, begin saamsing. Aan die begin was dit bloot sommer net vir die plesier. Deur die jare het dinge gevorder totdat hul in 2010 hul eerste album, Dankie Groep Twee, opgeneem het as huldeblyk aan Groep 2. Nog 2 albums volg Volmaakte Klanke in 2012 en Mallemeule in 2016 wat meer oorspronklike musiek bevat. Die broer-duo se klanke is kenmerkend akoesties met ‘n country-en-blue grass inslag.

    Die melodieë word saamgestel met James op eerste stem en André op harmonie.  James speel ook akoestiese kitaar en André baskitaar.

    Die heel nuutste enkelsnit, Pantoffel Rampokker, is opgeneem en vervaardig deur Andrew Roos. Hy het ook die tromboon en klawerwerk gedoen vir die enkelsnit. Tromme is gedoen deur Vinnie Henrico en elektriese kitaar deur Johan Rautenbach. Die liefdeslied is geskryf deur James nadat André met die idee vorendag gekom het om hul twee gunsteling Afrikaanse woorde te gebruik in ‘n enkelsnit en darem is die title Pantoffel Rampokker, dié twee broers se gunsteling Afrikaanse woorde.

    Die enkelsnit sal binnekort beskikbaar wees op alle digitale platvorms soos Spotify, Deezer, Apple Music en iTunes.

    Facebook Youtube
  • JAKO MEYER STEL NUWE ENKELSNIT VRY | SOEKER

    JAKO MEYER STEL NUWE ENKELSNIT VRY | SOEKER

    SOEKER is reeds vroeg in 2021 geskryf na JAKO die behoefte ondervind het om iets te skryf oor die soeke na jouself, die wêreld, God en die idee dat geluk nie altyd gevind kan word in die illusie dat daar altyd iets beter is.

     

    “Na twee moeilike jare wil ek graag met SOEKER 2021 afsluit. Om te leef is een groot reis. Ons almal is op soek na onsself. Om te oorleef. Baie keer hardloop ons weg, en baie keer het ons die moed om die fight te fight. Ongeag of jy hardloop of baklei, beide is okay. Tog is dit belangriker om te weet dat die gras nie altyd groener aan die anderkant is nie.” sê JAKO.

     

    SOEKER is ’n energieke feel-good aanbieding met ’n treffende koor en betekenisvolle lirieke. Waar die eerste enkelsnit van die nuwe album, ‘Ek Vier Jou Ek Groet Jou’ hard en swaar was en die tweede enkelsnit, ‘My Hande’ rou en emosioneel, val SOEKER reg in die middel van die twee. Aanhangers kan uitsien na ’n lied wat jou op ’n interne reis neem terwyl jy reflekteer oor die jaar wat verby is, en bepaal waarheen jy op pad is.

     JAKO MEYER se tweede solo album, DAGBREEK DOOLHOF, sal in 2022 vrygestel word.

    https://www.youtube.com/watch?app=desktop&v=wCH5VSZjQlo


  • Willem Van Der Ryst – Van Eden is ‘n eenvoudige liefdesverhaal

    Willem Van Der Ryst – Van Eden is ‘n eenvoudige liefdesverhaal

    Sanger Willem van der Ryst se stem dreun soos ‘n diesel bakkie wat op ‘n koue oggend staan en ‘idle’, die klank van sy kitaar talm in die lug soos die rook van ‘n bosveld vuur en sy lirieke is gewoonlik eenvoudige psalms opgedra aan die plattelandse lewe.

    Willem het geen formele opleiding as ‘n musikant gehad nie, maar hy het vroeg al ‘n liefde vir musiek ontwikkel. Op skool het hy ‘n vriend se kitaar opgetel en met die eerste paar akkoorde het hy besef dat hy sy passie ontdek het. Hy het later ook self begin musiek skryf. “Ek sing eenvoudige liedjies, wat stories vertel. Enigiets kan my inspireer, van ’n boemelaar tot ’n ou in ’n Ferrari. Dis nie iets spesifiek wat my laat liedjies skryf nie, maar ek weet dadelik wanneer iets my wel geïnspireer het”, verklap hy.

    Sy musiekloopbaan het begin toe hy homself in Centurion kom vestig het. Willem het as ‘n klank ingenieur vir ‘n paar bekende kunstenaars gewerk en wanneer hulle ‘n blaaskans nodig gehad het, het hy self ‘n paar liedjies gespeel. Kort voor lank het Willem die ‘show’ geword.

    Die boerseun van die Noordkaap het al reeds ‘n paar treffers vrygestel, onder meer; Sand In ‘n Uurglas, Storie Boek en Knipmes Aand, wat steeds gewilde liedjies bly vir ‘n lekker kuier om die braaivleisvuur.

    Met sy laaste enkelsnit, Nikkels en die Wyn het hy geskryf oor ’n man wat verlief geraak het op ’n vrou, maar weens omstandighede kan hulle nie saam wees nie. ‘’Hy weet nie vir hoe lank sy vir hom sal wag nie, maar intussen drink hulle gereeld saam wyn en is sy vir hom meer werd as geld (nikkels)’’, het Willem vertel.

    Sy nuutste enkelsnit, Suid Van Eden is ook ‘n eenvoudige liefdeslied soos Willem dit sou beskryf. Die liedjie versinnebeeld die gevoel wat ‘n man kry as hy verlief is. Die lewe is net beter, so as of jy hou eie stukkie eden ontdek het en met ‘n lekker ‘two-step’ ritme is die beslis ‘n liedjie waar op paartjies die aand om kan vasdans.

    Facebook Instagram Tiktok Youtube
  • Juan Boucher het pas sy nuutse album, Hier waar ek nou is vrygestel.

    Juan Boucher het pas sy nuutse album, Hier waar ek nou is vrygestel.

    Juan boucher is met rede een van Suid-Afrika se gewildste kunstenaars. Sy musiek het die vermoë om jou dansvloer toe te sleep, sy stem skuur soos honderdgrein skuurpapier oor die klank van elektriese kitare en met sy lirieke deel hy digterlik en opreg sy eie lewens ervaring.

    Juan het oor die afgelope twaalf jaar bekend geword vir sy vermoë om te kan wissel tussen opgewekde dansmusiek en treffende rock-ballades, maar deur die verskillende genres word die tema van liefde konstant herroep. Deur sy musiek dra Juan sy hart op sy mou en deel hy amper outobiografies stories van nuwe liefde, teleurstelling en soms verlies.

    2021 was ‘n groot jaar vir Boucher. Hy het met sy droomvrou getrou en gaan binnekort pa word. Daarom voel dit gepas dat Juan, wie inspirasie vanuit sy eie lewe put om liedjies te skryf, besluit het om sy nuwe album Hier Waar Ek Nou Is te noem.

    ‘’Juan het nog altyd oor liefde geskryf. Soms opvallend ander kere nie,’’ deel vervaardiger Tertius Human. ‘’maar hy is getroud en hy het ‘n kind oppad en uit my eie ervaring word jou verwysingsraamwerk vir liefde skielik anders. Dis ‘n baie harde realiteit, want jy leef nie meer vir jouself nie. Ek dink dis waar hy nou is. Hy besef hy leef nie meer net vir homself nie en jy kan dit hoor in die manier waarop hy skryf.’’

    Perspektief is nie al wat verander het nie, want Hier Waar Ek Nou Is gaan ook Juan se aanhangers aan ‘n nuwe klank voorstel.

    ‘’Ons was opsoek na ‘n nuwe klank vir Juan se nuutste album. Ons het geluister na John Mayer se Last Train Home. Die manier waarop hy die blues-kitaar saam met Synth en Dreamwave gekombineer het, het baie gegrens aan daai 80’s The Cure tipe klank en ons was mal daaroor. Ons het net gehardloop daarmee en dit het gemaklik en ongevorseerd gevoel om dit te implementeer,’’ vertel Human.

    Juan se Kitaarspeler, Rudi Kleingeld was ook betrokke met vervaardiging en het die kitaarverwerkings op die album geskryf. Aanhangers sal steeds Juan Boucher in die album voel, maar dis ‘n nuwe gevoel.

    Hier Waar Ek Nou Is, is die kulminasie van evolusie waar deur Juan gegaan het met sy laaste drie albums. Dit is volwasse en minimalisties, maar lewer steeds ‘n musikale skop.

    https://www.youtube.com/watch?v=3UuJ3fZQ540 Facebook Instagram Youtube
  • The stinging rogers toets grense met nuwe enkelsnit, borderline

    The stinging rogers toets grense met nuwe enkelsnit, borderline

    The stinging rogers toets grense met nuwe enkelsnit, borderline

    Die rock band The Stinging Rogers het al reeds ‘n groot gevolg in oorsese lande soos Australië en Ukraïne opgebou, maar met hulle nuutste enkelsnit, Borderline maak die krulkop klonge wat van Stellenbosch af heet gereed om plaaslike klankgolwe te oorheers.

    Die duo wat bestaan uit Francois Roux en Storm Opperman is al vriende sedert Hoërskool. ‘’Ons het in graad nege in die Afrikaans klas ontmoet. Ons het altyd oor dieselfde goed gelag en is gereeld saam uit die klas uit gejaag,’’ skerts Francois.

    Francois het altyd geweet dat hy ‘n loopbaan in musiek sou volg. ‘’Ek was vier jaar oud toe my ouers my die eerste keer gevra het wat ek eendag wil word en ek het gesê ek wil ‘n rock en roll man wees,’’ vertel hy. Hy het die passie sy lewe lank gevolg en het musiek besigheid studeer en werk ook vandag as ‘n publisiteitsbeampte by ‘n platemaatskappy.

    Storm het na skool in Frankryk op seiljagte gaan werk en het in sy af tyd as ‘n straatmusikant opgetree. Storm het vinnig besef dat hy meer geld met sy musiek as met sy regte werk verdien het.

    Toe Storm terug gekeer het na Suid-Afrika het Francois reeds The Stinging Rogers met twee ander pelle begin. Die ander lede het egter groep verlaat en Francois het sy ou Hoërskool pel genader om saam met hom musiek te maak.

    Beide Francois en Storm wou nie musiek maak wat konventioneel kommersiëel geag sou word nie, maar wou eerder musiek maak wat vir hulle iets beteken en in die skryf proses het die twee mekaar goed aangevul. ‘’Storm is baie sterk met liriese konsepte. Hy sal met ‘n vers vorendag kom en ek vind dit makliker om die koor en die hook te skryf,’’ deel Francois.

    Francois skryf hulle grootste invloede toe aan die digters van musiek. Kings of Leon, Bob Dylan, Neil Young en natuurlik Storm se gunsteling Jack Johnson.

    The Stinging Rogers was op ‘n stadium bekend as die besigste band in die Wes-Kaap en hulle het op n dag besluit om van hulle liedjies op Soundcloud vry te stel. Hulle musiek het baie goed oorsee gevaar en in 2021 met Coolerbox Records geteken.

    Hulle is tans besig om nuwe musiek op te neem en hulle eerste enkelsnit, Borderline le baie na aan die twee se harte. ‘’Die song handel oor wanneer jy ‘n moeilike tyd in jou lewe ervaar en jy reeds die lig aan die einde van die tonnel sien, maar dis nie ‘n reguit paadjie wat jy kan volg na geluk nie. Daar is stappe wat jy moet volg om daardie grens oor te steek,’’ het Francois oor Borderline uitgebrei.

    The Stinging Rogers het laas jaar opgetree by voormalige mej. Suid-Afrika, Adé van Heerden se troue en is gereeld te sien by Doz’s Back to the Roots. Hulle is baie opgewonde oor hulle nuwe musiek en repeteer tans saam met kitaarspeler Jan Wolmerans en Tromspeler Clint Smith om ‘n voller klank te skep.

    Borderline is nou beskikbaar op alle digitale platforms.

    Facebook Instagram Youtube
  • KOOS KOMBUIS VERSKYN VOËLVRY OP YOUTUBE.

    KOOS KOMBUIS VERSKYN VOËLVRY OP YOUTUBE.

    Koos Kombuis se album, Elke Boemelaar Se Droom is nou beskikbaar op Youtube in die vorm van liriekvideos wat kitaar akkoorde insluit.

    Vanaf die Rooi kombuis tot op Lisa se balkon het Koos kombuis se musiek soos ‘n koppie appelkoostee getrek en sterker geword. Die Boer in Beton het ‘n groot impak op Afrikaanse musiek gehad en sy Elke Boemelaar se droom album het groot in deels die weg gebaan vir wat kontemporêre Afrikaanse musiek kon word.

    Die album is in 1994 by Downtown Ateljees in Johannesburg opgeneem onder leiding van liedjieboer Anton Goosen en die bekroonde Peter Pearlson as ingenieur. ‘’Ek dink nie ek het al so hard aan die regie van enige album gewerk soos hierdie een nie. Daar was verskillende fasette in Koos se skryfwerk en ek wou sy liedjie-kuns so holisties as moontlik probeer uitstal op een album o.a. sy liefdesliedjies, sy humor, die meer kontroversiële liedjies,’’ onthou Goosen.

    Elke Boemelaar Se Droom was  Koos se eerste opname op CD en die resultaat was ‘n ikoniese baken in Afrikaanse musiek. Van kultus-status na popster. Dit is waarom Anton Goosen in samewerking met Vonk Musiek besluit het om op 27ste herdenkings jaar van die album dit vir die eerste keer digitaal beskikbaar te stel.

    “Radio Kombuis is terug! Ja, dit is vir my ‘n riem onder die hart dat hierdie album  nou digitaal beskikbaar gaan wees. Dit herinner my aan daardie eerste geskiedkundige samewerking tussen my en Anton Goosen,’’ het Kombuis gedeel

    Vandag is niemand seker of “Elke Boemelaar se Droom” die laaste Afrikaanse album van die Ou Suid-Afrika of die eerste Afrikaanse album van die Nuwe Suid-Afrika was nie, maar dit gryp terug na van die seerste, deurmekaarste, en tog ook mees kreatiewe oomblikke van ons lewens. Dit is waarom dit uiters belangrik was om te verseker dat die musiek wat op hierdie album saamgevat word behoue sal bly.

    As deel van die Kuratorskap van hierdie album is daar besluit om liriekvideos saam te stel van die verskillende liedjies en dit op youtube beskikbaar te stel. Hierdie liriekvideos sal ook kitaar akkoorde insluit sodat mense by die huis kan saam speel. Die videos wat saamgestel is sluit in Travel in Staail, Boer In Beton, Bicycle Sonder Slot, Kytie, Rooi Kombuis, Prayer For Port St. Johns, Ons En Hulle, Kaptein Koebaai, Lisa Se Klavier, Springbok Held, 30 Silwer Sikkels, Johhny Is Nie Dood Nie, Babilon en Voete Van Johannesburg in.

    Ter vieringe van die bekendstelling het Vonk Musiek besluit om ‘n kompetisie te loots. Aspirante musikante word uitgedaag om hulle eie weergawe van een van hierdie liedjies op te neem om in aanmerking te kom ’n kans te staan om ’n Yamaha F-310 akoestiese kitaar te wen.

    Hoe om deel te neem.

    • Alle inskrywings moet digitaal gelaai word op sosiale media (Youtube, Facebook, TikTok of Instagram) 
    • Tag Vonk Musiek(op sosiale media)
    • Stuur die skakel van jou weergawe op whatsapp na 061 3122 160 of per epos na francois@vonkmusiek.co.za . 

    Vir Kombuis is dit verblydend dat die album wat bekend staan as sy eerste kommersiele deurbraak nou digitaal beskikbaar is. “Dit is veral verblydend dat ‘n liedjie soos “Die Rooi Kombuis”, geskryf deur my en getoonset en geproduseer deur Anton, nie verlore gaan nie. Vir die eerste keer in ‘n kwarteeu gaan “moenie aan daai knoppie raak nie!” weer meme-status behaal! Dankie vir die memories,’’ het hy gedeel.

    Facebook Instagram Youtube