Vonk Musiek

AS EK JOU ONTHOU – STEFAN JANSEN

Alhoewel Stefan Jansen se lewe draai om akoestiese kitare, is hy ook ‘n gewilde kunstenaar wat ‘n lekker atmosfeer bring na enige geleentheid.

Stefan het in Bronkhorstspruit grootgeword en het byna al sy naweke op skool in die bosveld spandeer saam met sy pa. Hy sê Bronkies is ‘n besonderse musikale dorp vir een of ander rede en dit het definitief bygedra tot sy uiteindelike musiekplanne. In Graad 10 het Stefan se pa hom geleer kitaar speel en omdat dit ‘n moeilike jaar vir hom was, kon hy skuiling en veiligheid vind in musiek in sy binnekamer. Alhoewel musiek aanvanklik net ‘n rustige plek was waar hy tyd kon spandeer met sy gedagtes en gevoelens, het dit gegroei tot iets groter. Hy vertel dat hy kitaar gespeel het vir sy vriende op skool, het hy ‘n sin van rigting en identiteit begin ontwikkel.

Die proses is voorgesit toe hy gaan studeer het om ‘n prokureur te word aan die Universiteit van Pretoria. Hy was in die koshuis en het aan al wat kultuur en musiekgeleentheid deelgeneem, en het meer begin bekendheid verwerf as “Kitaar Stefan”. Hy was die Sosiale- en Kultuurleier op die Huis Kommitee. Op, asook ná universiteit het Stefan in klein kroeë en restaurante begin musiek maak vir sakgeld. Vandaar af het dit basies net nooit opgehou nie. Hy het wel as prokureur begin praktiseer en daarna as ‘n versekeringsmakelaar, maar sy brandende droom om voltyds musiek te maak het nooit verdwyn nie. Uiteindelik het daar in 2019 ‘n geleentheid oor sy pad gekom om die groot sprong te maak om al sy aandag aan sy musiek te begin spandeer. Dit is die groot deurbraak.

Stefan vertel dat sy hele lewe draai eintlik rondom akoestiese kitare. Boonop werk hy vir ‘n winkel (Guitar Gallery) wat spesialiseer in top-klas akoestiese kitare. Hy diens kitare en bou ook sy eie kitare. Ek het in die derde vlaag inperking my eerste kitaar gebou, en hy is nou my primêre instrument waarmee hy optree, ‘n ongelooflike gevoel.

Van 2019 af tot nou het Stefan twee liedjies vrygestel, Verdienste en Genade en Suikerbos.

Hy speel akoestiese kitaar en mondfluitjie en skryf al sy eie musiek en woorde.

Sy nuutste enkelsnit heet As Ek Jou Onthou. Die snit handel oor mense wat in jou lewe inkom en gaan, maar die mooi herinneringe van daardie mooi mense wat ‘n mens altyd bybly. Dit gebeur so dikwels dat mense se paaie skei, vir goeie redes of andersins, wat ons mekaar verwyt of net die minder goeie goed onthou. Daar is ook die kere wat, selfs al het dinge nie op die beste noot geëindig nie, mens nie kan help as om die mooi dinge saam met jou te dra nie. Stefan sê hy voel ons almal moet meer gefokus wees om die mooi dinge in mekaar te sien en te onthou, so hierdie snit is ‘n absolute good memories liedjie.

Die snit se verwerking is gedoen deur sy goeie vriend, Tertius Human van VONK, en die musiekvideo is vervaardig deur Wian van der Walt, ook van VONK. Die video is gemik om die storie van die liedjie te vertel. Dit is geskiet op pad Glemore Strand toe, in die omliggende area daar, en ook oppad terug. Die besluit was om nie te veel te werk aan ‘n storie nie, maar om eerder op ‘n spontane roadtrip te gaan en dit alles te verfilm om dit so naby as moontlik aan eg te hou.

Stefan is baie opgewonde om die liedjie met sy mense te deel, want hy voel dit wys vir mense hoe sy hart werk, en hoe hy glo ander mense mekaar moet hanteer. Dis ‘n baie groot cliché, maar as ons almal, in die perfekte wêreld, net bietjie meer liefde vir mekaar kon hê, ‘n klein bietjie meer geduld en ‘n klein bietjie meer genade, sou hierdie pragtige planeet nóg ‘n beter plek vir almal wees.

Shopping Cart
Send this to a friend