The stinging rogers toets grense met nuwe enkelsnit, borderline
Die rock band The Stinging Rogers het al reeds ‘n groot gevolg in oorsese lande soos Australië en Ukraïne opgebou, maar met hulle nuutste enkelsnit, Borderline maak die krulkop klonge wat van Stellenbosch af heet gereed om plaaslike klankgolwe te oorheers.
Die duo wat bestaan uit Francois Roux en Storm Opperman is al vriende sedert Hoërskool. ‘’Ons het in graad nege in die Afrikaans klas ontmoet. Ons het altyd oor dieselfde goed gelag en is gereeld saam uit die klas uit gejaag,’’ skerts Francois.
Francois het altyd geweet dat hy ‘n loopbaan in musiek sou volg. ‘’Ek was vier jaar oud toe my ouers my die eerste keer gevra het wat ek eendag wil word en ek het gesê ek wil ‘n rock en roll man wees,’’ vertel hy. Hy het die passie sy lewe lank gevolg en het musiek besigheid studeer en werk ook vandag as ‘n publisiteitsbeampte by ‘n platemaatskappy.
Storm het na skool in Frankryk op seiljagte gaan werk en het in sy af tyd as ‘n straatmusikant opgetree. Storm het vinnig besef dat hy meer geld met sy musiek as met sy regte werk verdien het.
Toe Storm terug gekeer het na Suid-Afrika het Francois reeds The Stinging Rogers met twee ander pelle begin. Die ander lede het egter groep verlaat en Francois het sy ou Hoërskool pel genader om saam met hom musiek te maak.
Beide Francois en Storm wou nie musiek maak wat konventioneel kommersiëel geag sou word nie, maar wou eerder musiek maak wat vir hulle iets beteken en in die skryf proses het die twee mekaar goed aangevul. ‘’Storm is baie sterk met liriese konsepte. Hy sal met ‘n vers vorendag kom en ek vind dit makliker om die koor en die hook te skryf,’’ deel Francois.
Francois skryf hulle grootste invloede toe aan die digters van musiek. Kings of Leon, Bob Dylan, Neil Young en natuurlik Storm se gunsteling Jack Johnson.
The Stinging Rogers was op ‘n stadium bekend as die besigste band in die Wes-Kaap en hulle het op n dag besluit om van hulle liedjies op Soundcloud vry te stel. Hulle musiek het baie goed oorsee gevaar en in 2021 met Coolerbox Records geteken.
Hulle is tans besig om nuwe musiek op te neem en hulle eerste enkelsnit, Borderline le baie na aan die twee se harte. ‘’Die song handel oor wanneer jy ‘n moeilike tyd in jou lewe ervaar en jy reeds die lig aan die einde van die tonnel sien, maar dis nie ‘n reguit paadjie wat jy kan volg na geluk nie. Daar is stappe wat jy moet volg om daardie grens oor te steek,’’ het Francois oor Borderline uitgebrei.
The Stinging Rogers het laas jaar opgetree by voormalige mej. Suid-Afrika, Adé van Heerden se troue en is gereeld te sien by Doz’s Back to the Roots. Hulle is baie opgewonde oor hulle nuwe musiek en repeteer tans saam met kitaarspeler Jan Wolmerans en Tromspeler Clint Smith om ‘n voller klank te skep.
Borderline is nou beskikbaar op alle digitale platforms.