Author: Ashley Du Toit

  • Waarskuwing: Mieliebom mag boepies laat wip en braaibroodjies laat brand – Frikkie is terug!

    Waarskuwing: Mieliebom mag boepies laat wip en braaibroodjies laat brand – Frikkie is terug!

    Daar’s boem, daar’s bam… en dan is daar Frikkie se Mieliebom!

    Ja-nee, mense, sit daai visstok neer en vat ’n sluk van daai dubbeltjie, want die superster van Brakpan, Frikkie (of soos sy ma hom noem: Anton Myburgh), is terug—en hy gooi nie met klippies nie… hy gooi met ’n regte mieliebom van ’n enkelsnit!

    Frikkie, die man met die visstok in die een hand en ’n brandewyn in die ander, het weer die Afrikaanse musiekdorp laat skud soos ’n boot op die dam op ’n windrige dag. Sy nuutste lied, “Mieliebom,” is ’n ode aan daai een perfekte visvangdag—’n bietjie te veel brannas, ’n bietjie te min sein, en net genoeg chaos om die tannie by die huis se hare regop te laat staan.

    Lirieke soos net Frikkie dit kan doen:

    “’n Dip vir my bom, ’n dop vir my tjom – dis tyd om in te gooi.”

    “Ek wil nie gebel word nie, deur mamma van die huis af nie.”

    Dis duidelik: Frikkie sing nie van droomwêrelde of hartseer liefdes nie—hy sing van die lewe soos dit regtig is. En as jy nog nooit daai braaibroodjie op die kole vergeet het nie… leef jy dalk nie hard genoeg nie.

    Frikkie sê self:

    “What happens at the visvang trip, stays at the visvang trip.”

    Ons het so ’n vermoede dié video gaan meer views kry as jou een vriend se trouvideo waar hy omval met die koek.

    Meer as musiek – dis ’n leefwys en anders as die gemiddelde liefdesballade, vertel “Mieliebom” die storie van die lewe soos dit regtig is – met braaibroodjies, tjops, Coke, geen selfoonsein en heelwat brannas.

    Frikkie beskryf die lied in drie woorde:

    “Hy pomp, pappa.”

    Dis vir die ouens wat weet hoe dit voel om jou visstok te gryp, die koelbox te laai, en ’n naweek van pure pret aan te pak. Dis musiek wat nie net geluister word nie – dis geleef.

    Die inspirasie? “’n Hele paar brandewyne,” sê Frikkie met ’n skalkse glimlag.

    Dis daardie eerlike gees wat “Mieliebom” so lekker maak – dis nie hier om kunsmatig diep te wees nie. Dis reguit, skreeusnaaks en vol vet pret – net soos ‘n visvangnaweek saam met jou tjommies.

    “Mielie bom, mielie bom, lekker lekker lekker lekker mielie bom…”

    Dis aansteekliker as ‘n koue op ‘n koue winterkamp!

    Frikkie se finale woorde?

    “Dis ’n visvang tune.”

    Duidelik. Direk. Duidelik dors.

    Met ’n musiekvideo wat hy self beskryf as “iets soos The Hangover met visstokke”, en selfs ’n SWAT-span in slow motion met ketties, sê ons net: Hollywood wie?

    Frikkie wys weer dat jy nie ’n Oscar nodig het om mense te laat lag, skoffel en sommer net lus te maak vir die lewe nie. Hy sê self hy hoop mense voel lus vir visvang en kuier wanneer hulle dit hoor.

    Glo my—ná die eerste luister, pak jy sommer jou koelbox en laai die visstokke.

     “Mieliebom” is nou beskikbaar op alle digitale platforms!

    Luister dit op Spotify, Apple Music, Deezer, en kyk die video op YouTube –

    maar wees gewaarsku: Jy mag dalk jou braaibroodjie verbrand van die lag.

    Facebook Tiktok

    PUBLISITEIT & BEMARKING :
    Vonk Musiek
    Ashley Du Toit
    Sel: 083 963 3055
    E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

    PLATEMAATSKAPPY :
    Vonk Musiek
    Francois Roux
    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

  • RUDI KLEINGELD WYS ONS: OOMBLIKKE WORD GEMAAK IN HARMONIE

    RUDI KLEINGELD WYS ONS: OOMBLIKKE WORD GEMAAK IN HARMONIE

    Met sy nuutste enkelsnit, Oomblikke, bring Rudi Kleingeld ‘n diep filosofiese en introspektiewe boodskap na die Afrikaanse musiektoneel. Die lied, wat deur ‘n kombinasie van 90’s rock en sokkie Afrikaans gekenmerk word, dwing die luisteraar om te besin oor die aard van tyd, verandering en identiteit.

    Volgens Rudi het die idee vir Oomblikke ontstaan uit die besef hoe vinnig tyd beweeg – ‘n gevoel wat net al hoe sterker raak namate mens ouer word. “Die wêreld en samelewing ontwikkel so vinnig, maar dit voel nie asof die mens se ‘menswees’ saam vooruitgaan nie. Persoonlik voel dit soms asof ek wakker word in ‘n wêreld wat ek nie ken nie,” sê hy. Hierdie besef het hom gelei om lirieke te skryf wat ‘n balans tref tussen nostalgie en ‘n soeke na betekenis.

    Die reël “Ek’s nie gister se kuns werd nie” is veral treffend en weerspieël sy besef dat, hoewel hy geïnspireer is deur die kunstenaars voor hom, hy nie net kan herhaal wat sy helde gedoen het nie. “Ek moet my eie manier vind om my merk te los. So skryf my naam op die horison, want dit is waar ek myself sal vind,” verduidelik hy.

    Kleingeld beskryf die klank van Oomblikke as ‘n kombinasie van 90’s rock met ‘n tikkie nostalgie en grunge. “Daar is baie meer harmonie bygevoeg, en ek was veral geïnspireer deur Queen se musiek,” sê hy. Hy noem ook dat hy kunstenaars soos Soundgarden, Collective Soul, Nothing But Thieves en Jan Blohm geluister het tydens die skeppingsproses van die lied.

    Die produksie van die snit is gedoen deur Tertius Human, wie Kleingeld beskryf as een van die beste vervaardigers in Afrikaans. “Ek geniet elke kreatiewe oomblik saam met hom,” sê hy oor die ervaring van die opnameproses.

    Die lirieke van Oomblikke dra ‘n rebelsheid in sig, wat ‘n uitdaging aan die norm bied. Die frase “Tattooer my ‘n ruglyn” is ‘n metafoor vir die behoefte aan rigting in ‘n wêreld waar tegnologie en sosiale media mense maklik koersloos kan laat voel. “Soms moet ons iets hê om ons te herinner aan ons doel en waarheen ons oppad is,” sê hy.

    Die reël “Ons is oomblikke gemaak in harmonie, vandag hier en more uitgespoel” verwoord die kortstondigheid en onvoorspelbaarheid van die lewe – ‘n sentrale tema van die lied. “In vergelyking met die groter tydlyn is ons maar ‘n spikkel wat skaars gesien word. Dit gaan vinnig verby en niks word gewaarborg nie,” voeg hy by.

    Kleingeld hoop dat luisteraars hul eie betekenis in sy musiek sal vind. “Ek voel dat iemand wat my musiek luister, hul eie boodskap of betekenis daaruit sal kry,” sê hy. Hy meen ook dat Afrikaanse musiek tans vinnig ontwikkel en dat ernstiger temas weer gewild gaan raak, in plaas van die braai-en-brandewyn-liedjies wat lank die mark oorheers het.

    Met opwindende projekte in die vooruitsig, insluitend ‘n cover van een van sy gunsteling Afrikaanse liedjies, beplan Kleingeld om Oomblikke so wyd moontlik te deel. “Indien die geleentheid daar is, sal ek dit graag live wil opvoer,” sê hy.

    Oomblikke is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Moenie hierdie diep, sielvolle weergawe van verganklikheid en identiteit misloop nie – dit is ‘n lied wat jou laat dink oor die oomblikke wat verbygaan en dié wat jy vir altyd wil vashou.

    Facebook Tiktok Instagram

    PUBLISITEIT & BEMARKING :
    Vonk Musiek
    Ashley Du Toit
    Sel: 083 963 3055
    E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

    PLATEMAATSKAPPY :
    Vonk Musiek
    Francois Roux
    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

  • JAN RHAAP SE NUWE LIED – ‘LÊ MY NEER IN DIE VELD’ IS PURE PLAAS LIEFDE

    JAN RHAAP SE NUWE LIED – ‘LÊ MY NEER IN DIE VELD’ IS PURE PLAAS LIEFDE

    Die Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Jan Rhaap bekend vir sy opregte musiek en diep lirieke, is terug met sy jongste vrystelling, Lê My Neer in die Veld. Hierdie lied is nie net ‘n huldeblyk aan die natuur en plaaslewe nie, maar ook ‘n persoonlike weerspieëling van sy eie lewenservarings en emosies.

    Jan Rhaap, met sy kenmerkende rasperstem en opgewekte musiek, vermaak gehore al vir meer as ’n dekade. Hy is veral bekend vir treffers soos Huisie in die Bos, wat hy saam met Juan Boucher geskryf het en waarvan die video reeds meer as 8.3 miljoen kyke op YouTube gehad het. Ander bekende liedjies sluit in Jan Ek Kan Nie Dans Nie met meer as 4.7 miljoen kyke en Ramskilpad, wat op verskeie treffersparades gepronk het en reeds deur meer as 2.1 miljoen mense gesien is. Die video van sy vorige vrystelling, Gooi Hom, is ook reeds meer as 400 000 keer gekyk.

    Jan kom uit ’n musikale gesin en het oor die jare verskeie loopbaanhoogtepunte beleef, waaronder Ghoema-benoemings, ‘n Aitsa-benoemming, asook ‘n SAMA-benoemming. Wanneer hy nie sing of boer nie, geniet hy dit om tyd saam met sy vrou en twee kinders deur te bring, en saam met vriende en familie te kuier. Volgens Jan was die inspirasie vir sy nuutste lied, Lê My Neer in die Veld, uit sy diep liefde vir die veld en plaaslewe geput. “Die veld is vir my meer as net ‘n plek; dit is soos ‘n karakter in my lewe. Ek gesels met hom, ek leer by hom, en ek leef saam met hom,” vertel hy.

    Hierdie liefde vir die veld is gewortel in sy eie ervarings op sy stuk grond buite Niekerkshoop in die Noord-Kaap. “Dis nie net ‘n toevallige tema nie; dis my realiteit. Dis iets wat ek daagliks leef en ervaar, en ek sien hoe my kinders dieselfde liefde vir die veld ontwikkel. Dit maak dit vir my soveel meer spesiaal.”

    Die lirieke van die liedjie is deurdrenk met simboliek en persoonlike verbintenisse. In die reël: “Ek het my eerste tree in jou gegee, jy’t my hard laat val en weer opgetel”, skets Jan hoe die veld getuie is van sy lewensreis. “In die lewe self, gaan ons almal deur moeilike tye, maar dis belangrik om op te staan. Die veld is die plek waar ek my diepste gedagtes verwerk, of ek nou hartseer of bly is.”

    Nog ‘n kragtige beeld is: “Ek het jou droogte gesien en jou brande baklei”. Dit dui op sy ervaring as iemand wat die harde realiteite van plaaslewe eerstehands beleef. “Net soos wat die veld my deur moeilike tye gesien het, het ek ook gesien hoe die veld deur swaar tye gaan. Veldbrande en droogtes is deel van die lewe, maar dit leer ons ook om te volhard.”

    Die mees emosionele reël in die liedjie is moontlik: “Jy maak ‘n arm man ryk.” Vir Jan het rykdom niks te doen met geld nie. “Ek voel skatryk met my gesin, my vrou, my kinders en my familie en vriende. Ons gesondheid en die voorreg om in die natuur te wees, is vir my ware rykdom.” Musikaal gesproke bring Lê My Neer in die Veld ‘n mooi balans tussen betekenisvolle lirieke en ‘n aangename ritme. “Ek wou iets skryf wat nie net emosie oproep nie, maar waarby mense ook kan saamdans,” verduidelik Jan. Die kitare speel ‘n belangrike rol in die lied se melodie, en aan die einde skep die lirieke ‘n vloeiende effek wat herinner aan ‘n rivier wat aanhou stroom.

    Loki Rothman het saam met Jan aan die lied geskryf en het ook die produksie hanteer. “Loki verstaan my musiek op ‘n diep vlak, en sy bydrae het die liedjie na ‘n volgende vlak geneem.” Meer as net ‘n persoonlike lied, hoop Jan dat Lê My Neer in die Veld mense sal aanraak op ‘n diep vlak. “Ek glo elke persoon het ‘n ‘veld’ in hul lewe – daardie plek waar hulle veilig en rustig voel. Hierdie lied is vir daardie oomblikke, wanneer jy net stil wil wees en deel wil wees van iets groter as jouself.”

    En as hy eendag moet kies waar hy sy finale rusplek vind? “Sonder enige twyfel – in die veld.”

    Facebook Tiktok Instagram

    PUBLISITEIT & BEMARKING :
    Vonk Musiek
    Ashley Du Toit
    Sel: 083 963 3055
    E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

    PLATEMAATSKAPPY :
    Vonk Musiek
    Francois Roux
    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

  • Jessica” brand ná 17 jaar nog steeds warm in Ray Dylan se hart!

    Jessica” brand ná 17 jaar nog steeds warm in Ray Dylan se hart!

    Na 17 jaar bring Ray Dylan een van sy grootste treffers, Jessica, terug met ‘n splinternuwe opname. Die lied, wat sedert sy oorspronklike vrystelling in 2008 diep in die harte van luisteraars vasgesteek het, kry nou ‘n moderne klank en vars produksie – terwyl dit steeds sy nostalgiese sjarme behou.

    Vir Ray Dylan was die besluit om Jessica weer op te neem ‘n natuurlike een. “Na 17 jaar bly die liedjie ‘n treffer – tye en klanke het verander, en dit was tyd om vir Jessica ‘n nuwe baadjie aan te trek,” verduidelik hy. Hy wou die lied aanpas vir vandag se musieklandskap terwyl hy sy oorspronklike gevoel behou. “Klanke en digitale opnames het met die tyd verbeter, en ek het gevoel die song verdien vandag se moderne klanke.”

    Om weer die lirieke van Jessica te sing, was vir Ray ‘n emosionele ervaring. “Dit is altyd vir my lekker om Jessica te sing, omdat mense na twee dekades steeds elke woord ken. Die lied lê my na aan die hart – dit was een van my eerste groot treffers,” sê hy.

    Maar Jessica het oor die jare ‘n nuwe betekenis gekry. “Ek spot altyd en sê vir mense, ‘be careful what you sing for’, want hier is Jessica nou ‘n werklikheid – die liefde van my lewe: my vrou.”

    Hoewel Ray Dylan die lied se oorspronklike struktuur behou het, is daar moderne aanpassings gemaak. “Ons het die liedjie so oorspronklik as moontlik probeer hou, maar kitare en dromme speel nou ‘n groter rol,” verduidelik hy. “Ek was ook hierdie keer baie meer betrokke by die produksie, en ons het seker gemaak die nuwe klank is vars en relevant.”

    Met sy kenmerkende romantiese en nostalgiese sfeer, glo hy dat Jessica steeds ‘n spesiale plek in mense se harte sal hê. “Met die moderne klank van vanjaar se weergawe sal die jongspan dit verseker waardeer en lekker daarop kuier en dans!”

    Vir Ray Dylan speel musiek ‘n groot rol in herinneringe en emosies. “Elke lied het sy eie storie en sy eie betekenis. Jessica se lirieke oor jeugherinneringe, ‘n eerste soen, en die liefde van jou lewe resoneer met mense oor generasies heen.”

    Hy onthou hoe Jessica aanvanklik nie eens op die oorspronklike album sou verskyn nie. “Ek moes omtrent smeek om dit op die album te kry, en toe is dit net as ‘n bonussnit uitgereik – maar toe word dit die album se grootste treffer!”

    Met die sukses van Jessica wonder hy  baie of hy nog van sy treffers moet heropneem. “Ek sou graag Hokaai Stoppie Lorrie wou herwerk, met nuwe klank en moderne produksie. Dalk is daar ‘n verrassing op pad…”

    Maar vir nou, bly Jessica die middelpunt van die aandag. “Ek glo mense van alle generasies sal steeds op die nuwe weergawe wil dans.

    Met sy 2025-opname van Jessica bewys Ray Dylan weer eens hoekom hy een van Suid-Afrika se mees geliefde kunstenaars bly. Die lied, nou met ‘n moderne aanslag, is steeds ‘n nostalgiese reis na die tye van eerste liefde, sonskyn en jeugherinneringe – en dit beloof om nuwe en ou aanhangers se harte te steel.

    https://youtu.be/ScIlwPxwD4k

    Facebook


    Tiktok


    Instagram

    PUBLISITEIT & BEMARKING :
    Vonk Musiek
    Ashley Du Toit
    Sel: 083 963 3055
    E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

    PLATEMAATSKAPPY :
    Vonk Musiek
    Francois Roux
    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

  • GIFT MATJILA: ‘EK WONDER’ EN DIE REIS VAN ‘N SANGER MET ‘N BOODSKAP

    GIFT MATJILA: ‘EK WONDER’ EN DIE REIS VAN ‘N SANGER MET ‘N BOODSKAP

    Afrikaanse musiek het ‘n nuwe stem gevind in Gift Matjila, ‘n sanger en liedjieskrywer wat sy diep persoonlike ervarings in lirieke omskep wat aanklank vind by gehore regoor die land. Sy jongste enkelsnit, “ Wonder’, is ‘n emosionele rou lied wat handel oor verlange, geloof en hoop. Met lirieke wat reguit uit die hart kom, deel Matjila sy eie reis van stryd en oorwinning.

    Volgens Matjila is “ Wonder’ ‘n eerlike weerspieëling van ‘n tydperk in sy lewe waar hy geworstel het met verskeie uitdagings. “Dit is ‘n baie rou, emosionele lied oor ‘n tyd van hartseer en twyfel, maar ook hoop. Dit gaan oor die mooi ná die storm,” sê hy. Die lirieke vertel van iemand wat hy in ‘n “donderstorm” ontmoet het – ‘n metafoor vir ‘n moeilike seisoen in sy lewe.

    Die lied bevat sterk temas van geloof, iets wat vir Matjila ‘n belangrike rol speel in sy musiek. “My geloof hou my gegrond en verantwoordelik, Dit help my om eerlik te wees in my lirieke,” verduidelik hy. ‘n Hoogtepunt in die lied is die kragtige reël: “As die Here my kom haal vanaand, weet ek het probeer.” Hierin lê ‘n diepe persoonlike betekenis, aangesien hy op ‘n stadium gevoel het dat hy in alle aspekte van sy lewe sukkel, van studies tot verhoudings. “Ek het vir die Here gevra vir rus, maar ek het ook geweet ek het my alles gegee,” deel hy openhartig.

    Matjila beskryf die klank van ‘ Wonder’ as diep en emosioneel, maar tog gevul met hoop. Hy het self die lied geskryf en het saam met die SAMA bekroonde vervaardiger Tertius Human gewerk om dit tot lewe te bring.

    Die gebruik van spesifieke klankelemente in die produksie het verder bygedra tot die emosionele impak van die lied. Matjila hoop dat luisteraars nie net die rou emosie in die lied sal hoor nie, maar ook die skoonheid in hul eie lewens sal raaksien. “Ek wil hê mense moet hul eie betekenis in die lied vind en dit as hul eie aanneem,” sê hy.

    Matjila se pad na musiek was nie sonder struikelblokke nie. As ‘n jong seun het hy gesukkel om kitaar te leer speel, maar het in 2016 besluit om homself die instrument aan te leer. Hy is veral beïnvloed deur kunstenaars soos Robbie Wessels en Spoegwolf, en sy liefde vir musiek het uiteindelik gelei tot sy ontdekking tydens ‘n realiteitsprogram, waar hy sy kitaar geneem het en begin speel het.

    Sy eerste enkelsnit, ‘Ek Staan by Jou’, het ‘n gebed vir Suid-Afrika se boere geword en is later as die amptelike lied van Droogtehulp gebruik. Sy opvolgsnit, ‘Bloedbroers’, is ‘n eerbetoon aan vriendskap in al sy vorme.

    Wanneer hy nie musiek maak nie, werk Matjila as ‘n ondrerwyser– ‘n beroep wat hy gebruik om jongmense te inspireer. Sy passie vir musiek groei egter steeds, en hy beplan om in die toekoms op nog meer feeste en geleenthede op te tree. Aan sy aanhangers sê hy: “Ek hoop om binnekort by julle fees of mark te kom kuier.”

    As mense een woord sou gebruik om sy lied te beskryf, hoop Matjila dat dit “hoop” sal wees. Hy glo dat almal met iets worstel en dat musiek ‘n manier is om pyn te verwerk en sin te maak van moeilike tye. “Daar is altyd iets spesiaal om te ontdek, selfs in moeilike seisoene,” sê hy.

    Met ‘n hart vol musiek en ‘n boodskap van hoop is Gift Matjila besig om ‘n unieke en betekenisvolle bydrae tot die Afrikaanse musieklandskap te maak. Sy storie en sy musiek dien as inspirasie vir almal wat al ooit gewonder het oor die lewenspad – en oor die mooi wat na die storm wag.

    Facebook Tiktok Instagram

    PUBLISITEIT & BEMARKING :
    Vonk Musiek
    Ashley Du Toit
    Sel : 083 963 3055
    E-pos : ashley@vonkmusiek.co.za

    PLATEMAATSKAPPY :
    Vonk Musiek
    Francois Roux
    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

  • ADAM KOOK IN DIE KOMBUIS MET NUWE TREFFER

    ADAM KOOK IN DIE KOMBUIS MET NUWE TREFFER

    Jy kan nie kook nie, maar flippet, jy weet wat jy doen! Dit is die speelse boodskap agter Adam se splinternuwe enkelsnit, “Jy Soen Beter As Wat Jy Kook”, wat belowe om die dansvloere aan die brand te steek – sonder dat iets in die kombuis skroei!

    Die inspirasie agter die liedjie is ‘n baie herkenbare werklikheid – nie almal is ‘n sjef in die kombuis nie, maar dit hoef glad nie ‘n dealbreaker in ‘n verhouding te wees nie! “Ek ken soveel paartjies waar een van die twee glad nie kan kook nie,” sê Christoff De Beer. “Maar uiteindelik gaan liefde oor baie meer as ‘n perfekte bord kos.”

    Die lirieke skets ‘n komiese toneel van ‘n kombuis-ramp, met reëls soos “Die plek is ‘n ramp, oorlog veld” en “Ek ruik net rook” – ‘n liefdesverhaal wat wys hoe ‘n mislukte poging tot kosmaak maklik in ‘n lagwekkende, romantiese oomblik kan verander. En dalk in ‘n rede vir ‘n soen!

    Met ‘n energieke, aansteeklike refrein en ‘n ritme wat jou dadelik wil laat saamdans, bring Adam weer daardie “old school ADAM dans-pop” waaroor aanhangers mal is.

    Wat die liedjie nog meer relevant maak, is hoe dit moderne verwysings inkorporeer. “TikTok het jou resep aan die gang,” lui een van die lirieke – ‘n tong-in-die-kies verwysing na hoe sosialemedia ons deesdae selfs in die kombuis beïnvloed. “Ek kry al my resepte op TikTok,” lag hulle. “Ons wou daardie realiteit insluit op ‘n manier wat mense gaan laat glimlag.”

    Alhoewel “Jy Soen Beter As Wat Jy Kook” met ‘n tikkie humor gesing word, dra dit ook ‘n belangrike boodskap: perfeksie is nie belangrik in ‘n verhouding nie – jou ander helfte moet jou beste vriend wees.

    Wanneer Adam gevra word watter gereg hulle self sou kies om te kook (sonder om dit aan die brand te steek!), antwoord hulle laggend: “Pasta! Dit is maklik en jy kan dit nie regtig verbrou nie – hopelik!”

    Hierdie speelse treffer gaan beslis ‘n gunsteling by feeste, troues en sokkies wees. “Jy Soen Beter As Wat Jy Kook” is ‘n herinnering dat liefde nie net oor groot gebare en perfekte etes gaan nie – soms is ‘n brandende pan en ‘n goeie sin vir humor al wat nodig is om ‘n spesiale oomblik te skep.

    Facebook Tiktok Instagram

    PUBLISITEIT & BEMARKING :
    Vonk Musiek
    Ashley Du Toit
    Sel : 083 963 3055
    E-pos : ashley@vonkmusiek.co.za

    PLATEMAATSKAPPY :
    Vonk Musiek
    Francois Roux
    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

  • “Mari Bosman Keer Terug Met ‘n Hartroerende Ballade – ‘Iets Goed’”

    “Mari Bosman Keer Terug Met ‘n Hartroerende Ballade – ‘Iets Goed’”

    Mari Bosman, bekende sangeres en liedjieskrywer, is terug met ‘n kragtige en eerlike ballade wat dieper delf in die emosies van verlange en hoop. Haar nuwe enkelsnit, “Iets Goed”, is ‘n rou en eerlike weergawe van die soeke na liefde en vervulling, en beloof om ‘n spesiale plek in die harte van haar luisteraars te vind.

    Bosman, wat bekend is vir haar diep lirieke en opregte musiek, het “Iets Goed” geskryf vanuit haar eie lewenservaring. “Ek is mal oor ballades skryf, en gewoonlik skryf ek oor myself,” vertel sy. “Maar hierdie liedjie is rou en eerlik, en ek glo heelwat mense kan daarmee vereenselwig.” Die lirieke dra ‘n sterk boodskap van verlange na ‘n spesiale persoon – iemand wat dalk nog nie in haar lewe is nie, maar vir wie sy reeds wag.

    Die inspirasie vir die liedjie het ontstaan uit die idee dat mens soms so gefokus is op die jaag van drome dat belangrike verhoudings afgeskeep word. “Dit kan ‘n baie alleen beroep wees,” erken sy. “Die lekkerste gevoel is om ‘huis toe’ te kom na iemand na ‘n toer. En as dit ontbreek, mis mens daardie persoon – al het ons dalk nog nie ontmoet nie.”

    Die lirieke van “Iets Goed” neem die luisteraar op ‘n visuele reis, van ‘n eerste koppie koffie met ‘n uitsig oor die see, tot die mistige berge, die Bosveld en die Karoo. Hierdie beelde weerspieël Mari se persoonlike band met die natuur en hoe dit haar musiek inspireer. “Ek sorteer gewoonlik my gedagtes by die see. Die vars lug gee my nie net inspirasie nie, maar ook perspektief.”

    Sy glo dat musiek ‘n manier is om hoop oor te dra. “Hoop is die mooiste ding in die wêreld. Sonder dit maak die lewe nie sin nie,” sê sy. Die lirieke van “Iets Goed” dra hierdie idee pragtig oor – ‘n mengsel van verlange, geloof en die wete dat iets goeds op die regte tyd sal kom.

    Mari erken dat sy sterk glo in die konsep van ‘sielsgenote’. “Ek wag nog vir die regte persoon,” sê sy. Een van die mees treffende reëls in die liedjie, “Ek ken jou nie, maar ek begin jou mis”, weerspieël hierdie diepe verlange. Dit is ‘n universele gevoel – die wete dat daar iemand spesiaal daarbuite is, selfs al het julle nog nie ontmoet nie.

    Die slotreël van die lied, “Dalk moet ek ophou soek en geduldig wag vir iets goed”, bring die tema van hoop en geduld na vore. Bosman sien dit as ‘n positiewe konklusie – ‘n erkenning dat ware liefde op die regte tyd sal kom.

    Die produksie van “Iets Goed” is deur Tertius Human hanteer, en  Mari beskryf die eindresultaat as “uniek en perfek.” Die lied het ‘n warm, intieme klank wat die eerlikheid van die lirieke komplementeer. Wanneer gevra hoe sy ‘n musiekvideo vir die liedjie sou voorstel, sê sy: “Ek sou iets intiems wou doen, waar ek regtig die gehoor intrek en vir hulle sing – asof hulle in my woonkamer saam met my sit.”

    Met die vrystelling van “Iets Goed”, wys Bosman ‘n nuwe, dieper kant van haarself aan haar luisteraars. Dit is ‘n ballade wat diep voel en eg is – iets wat aanhangers van haar musiek ongetwyfeld sal waardeer. Sy verklap ook dat daar meer musiek in die pyplyn is, insluitend ‘n spesiale liedjie genaamd “Roepstem”, wat deel is van die viering van Afrikaans se 100-jarige bestaan.

    Intussen nooi Mari haar aanhangers uit om “Iets Goed” te luister, te ervaar en dalk selfs met hul eie liefdesverhale te vereenselwig. Soos sy dit self stel: “Lief, ek wag al jare vir iets goed.”

    Facebook Tiktok Instagram

    PUBLISITEIT & BEMARKING :
    Vonk Musiek
    Ashley Du Toit
    Sel: 083 963 3055
    E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

    PLATEMAATSKAPPY :
    Vonk Musiek
    Francois Roux
    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

  • HENDRÉ BAARD SE ‘SONSKYN VROU’ – ‘N LIED VAN VERLORE LIEFDE EN ONUITGESPROKE VERLANGE

    HENDRÉ BAARD SE ‘SONSKYN VROU’ – ‘N LIED VAN VERLORE LIEFDE EN ONUITGESPROKE VERLANGE

    Hendré Baard se nuutste vrystelling, Sonskyn Vrou, is ‘n diep, persoonlike en poëtiese vertelling van ‘n verlore liefde – ‘n verhouding wat nooit die kans gekry het om ten volle te blom nie. Met sy kenmerkende pop-rock klank en lirieke wat egtheid uitstraal, neem die liedjie luisteraars op ‘n reis deur verlange, herinneringe en die onuitwisbare impak van iemand wat lig in jou lewe gebring het.

    Baard, bekend vir sy eerlike en opregte musiek, verklap dat die liedjie geïnspireer is deur ‘n spesifieke persoon uit sy verlede. “Ek het ‘n meisie gehad vir wie ek baie omgegee het en lief was, maar sy moes oorsee gaan werk. Sy was my beste vriendin, en alhoewel ons gevoelens vir mekaar gehad het, het omstandighede ons verhinder om werklik saam te wees,” verduidelik hy. Hierdie onvoltooide liefdesverhaal word in die lirieke weerspieël – ‘n nostalgiese kyk na ‘n band wat nooit ten volle gevier kon word nie.

    Die lirieke van Sonskyn Vrou is deurdrenk met pragtige metafore wat luisteraars direk in Baard se gedagtes en emosies innooi. Van die eerste vers af skep hy ‘n dromerige atmosfeer: “Die melkweg reën weer oor die aand vanaand” – ‘n beeld wat volgens hom geïnspireer is deur die ervaring om op jou rug te lê en na die sterre te kyk.

    Hierdie simboliek, saam met ander visuele elemente soos “die wind wat met blomme trou”, gee die liedjie ‘n dromerige, nostalgiese gevoel wat dit des te meer aangrypend maak.Baard verwys in die liedjie na plekke soos Jongensfontein en Struisbaai – plekke wat vir hom ‘n besondere betekenis dra. “Jongensfontein is die plek waar ek en my familie al vir meer as 25 jaar vakansie hou. Dit is gevul met herinneringe, en dit is waar ek dikwels my gedagtes laat dwaal oor wat kon gewees het.” Hierdie geografiese verwysings anker die liedjie in ‘n werklike emosionele ruimte en maak dit des te meer outentiek.

    Wat die musikale benadering betref, beskryf Baard Sonskyn Vrou as ‘n “lekker vasdans-liedjie” met ‘n pop-rock invloed. Hy het saam met die talentvolle Tertius Human gewerk aan die produksie, en hulle het die klank organies laat ontwikkel sonder om spesifieke invloede te probeer naboots. “Ons het eenvoudig koppe bymekaar gesit in die ateljee en laat die liedjie sy eie pad loop,” sê hy.

    Die refrein van Sonskyn Vrou dra die kern van die lied se boodskap: “Bly jy vir my altyd my sonskyn vrou.” Dit is ‘n erkenning dat, al is die persoon nie meer teenwoordig nie,

    haar impak en die lig wat sy in sy lewe gebring het, altyd sal bly. “Al is sy uit my lewe, sal ek haar altyd onthou vir die geluk wat sy my gebring het,” sê Baard. Hierdie universele tema van ‘n verlore, maar onvergeetlike liefde, maak die liedjie vir baie luisteraars besonder relevant en emosioneel treffend.

    Wanneer hy die lied op die verhoog sing, ervaar Baard ‘n mengsel van energie en emosie. “Dis vir my ‘n energieke liedjie, maar terselfdertyd ook persoonlik. Dit voel soos om ‘n storie met mense te deel – een wat hopelik in hulle eie lewens ook eg aanklank vind.”

    Met Sonskyn Vrou wys Hendré Baard weer eens sy vermoë om musiek te skep wat nie net luisteraars laat dans nie, maar hulle ook diep laat voel en onthou. Dit is ‘n lied oor verlange, maar ook oor die blywende invloed van iemand wat eens jou hart verlig het.

    Facebook Tiktok Instagram

    PUBLISITEIT & BEMARKING :
    Vonk Musiek
    Ashley Du Toit
    Sel: 083 963 3055
    E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

    PLATEMAATSKAPPY :
    Vonk Musiek
    Francois Roux
    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

  • Neil Nachtrein neem luisteraars op ‘n nostalgiese reis met “Altyd Jonk”

    Neil Nachtrein neem luisteraars op ‘n nostalgiese reis met “Altyd Jonk”

    Neil Nachtrein se jongste enkelsnit, Altyd Jonk, is ‘n roerende lied wat luisteraars terugneem na die sorgelose dae van hul jeug – ‘n tyd van kaalvoet rondloop in die oggendson, eerste liefdes en laatnag avonture. Dit is ‘n lied wat herinneringe oproep, maar ook besin oor die onvermydelike realiteite van grootword en verlies.

    Volgens Neil is die lied geïnspireer deur sy eie kinders. “Soos wat jy jou eie kinders sien grootword, onthou jy meer van jou eie kinderdae,” sê hy. “Ek dink dit is hulle wat die saadjie geplant het om hierdie lied te begin skryf.” Die lirieke weerspieël ‘n kombinasie van persoonlike ervarings en algemene waarnemings – ‘n verhaal wat vir enigeen wat al ooit aan hul kinderjare teruggedink het, bekend sal voel.

    Die lied begin met ‘n nostalgiese toneel: “die oggendstond gooi goud op die grond, ons twee loop kaalvoet daarop rond.” Vir Neil simboliseer dit die begin van iets nuuts – ‘n lewe vol moontlikhede en onskuld. “As jy klein is, dink jy nie daaraan om oud te word nie,” verduidelik hy. “Jy dink net daaraan om groter te word. Maar eendag word daardie dae net herinneringe.”

    Die refrein se hartseer waarheid – “vir altyd jonk is vir altyd verby” – spreek tot ‘n universele realiteit: daar kom ‘n tyd wanneer ons almal besef dat die sorgelose dae van ons jeug iets van die verlede is. “Dit verskil seker van persoon tot persoon,” sê Neil. “Maar dalk is dit wanneer jy vir die eerste keer jou eie huur moet betaal of jou eie inkopies moet doen. Of dalk is dit ‘n hele era wat verby is.”

    Die lied speel ook in op die verlies van onskuld en die onvermydelike veranderinge wat die lewe bring. “Ons almal word gekonfronteer met groei en verlies,” sê Neil. “Die een is ‘n keuse, die ander een is nie ‘n keuse nie.”

    Die nostalgiese atmosfeer van Altyd Jonk word versterk deur sy klank – ‘n mengsel van Afrikana en folk, met ‘n melancholiese ondertoon. “Ons het ‘n minor en ‘n seventh akkoord ingesluit om ‘n sekere emosie te vang,” verduidelik Neil. “Die walking bass laat dit voel asof jy saamstap op die ritme van hoe die lewe verander.”

    Verder het hy ‘n ouer styl van kitaarspel, genaamd Travis picking, ingespan om ‘n “terug-in-die-tyd” gevoel te skep. Dit is verder beklemtoon deur ‘n ou Harmony-kitaar met snare uit die sewentigs.

    Hoewel Altyd Jonk sterk op herinneringe en verlore tye fokus, dra dit ook ‘n dieper boodskap. “Op die ou end is die belangrike vraag: het jy die Here ontmoet?” sê Neil. “Maak nie saak hoe jy grootgeword het, waar jy grootgeword het en wat in jou lewe gebeur het nie – dit is wat regtig saak maak.”

    Vir hom is nostalgie ‘n sentrale tema in sy musiek, iets wat sy eie kunstenaarsnaam geïnspireer het. “Ek het in 2006 op ‘n plaas in Fouriesburg gebly, naby ‘n treinstasie,” vertel hy. “Snags het ek wakker geword van die trein wat verbygaan en ‘n diep, heimweë-gevoel ervaar. Dit het my laat besluit ek wil musiek maak wat daardie selfde emosie in mense wek.”

    Met Altyd Jonk bewys Neil dat hy ‘n meester is van storiegedrewe musiek. Hy beplan om voort te gaan om sulke persoonlike liedjies te skryf. As hy ‘n brief aan sy jonger self kon skryf, sou sy boodskap eenvoudig wees: “Slow down en skryf dit neer.”

    Vir luisteraars wat hulself in die lirieke van Altyd Jonk herken, bied Neil troos en perspektief. “Goed of sleg, mooi of lelik – niks gebeur tevergeefs nie. Leer en groei.” Met hierdie lied gee hy luisteraars ‘n oomblik om stil te staan, terug te kyk, en dalk selfs ‘n traan weg te vee oor dae wat nie meer is nie – maar altyd in ons harte sal leef.

    Facebook Tiktok Instagram

    PUBLISITEIT & BEMARKING :

    Vonk Musiek

    Ashley Du Toit

    Sel: 083 963 3055

    E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

     

    PLATEMAATSKAPPY :

    Vonk Musiek

    Francois Roux

    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160   

    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za

    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

  • LOGAN PIETERSEN STEL NUWE ENKELSNIT “WHISKEY & WATER, ROOIWYN OF JY” VRY

    LOGAN PIETERSEN STEL NUWE ENKELSNIT “WHISKEY & WATER, ROOIWYN OF JY” VRY

    Logan verduidelik dat die inspirasie vir die lied uit sy eie lewenservarings kom, veral uit sy vroeë twintigs. “Dit was ‘n tydperk van groei, lewenslesse, liefdesteleurstellings en, kom ons wees eerlik, redelik baie kuier. Die verskillende drankies in die titel is metafories – whiskey en water simboliseer eensaamheid, terwyl rooiwyn geselligheid en warmte verteenwoordig, iets wat jy met ‘n spesiale persoon deel.”

    Een van die mees treffende lirieke in die lied is: “So sag soos ‘n kosmos, so wild soos ‘n by.” Logan verduidelik dat dit die kontras tussen ‘n vrou se sagtheid en haar wilde gees uitbeeld. “Die by en die blom het mekaar nodig om te bestaan, net soos mense in liefde en verhoudings mekaar nodig het.”

    Vir Logan is die lied persoonlik, maar hy het dit so geskryf dat enigeen dit op hul eie manier kan ervaar. “Ek wil hê hierdie lied moet mense in die hart tref. Ons almal gaan deur teleurstellings en seerkry, en ek hoop dit kan as ‘n soort medisyne vir die hart dien.”

    Wanneer mense die lied vir die eerste keer hoor, hoop Logan dat die lirieke en melodie hulle op ‘n emosionele reis neem. “Die instrumente vertel ‘n storie, en ek wil hê dit moet mense help om hul eie hartseer en verliese beter te verwerk. Musiek is nog altyd vir my terapeuties – ‘n toevlug wanneer emosies oorweldigend voel.”

    Die musiekvideo vir Whiskey & Water, Rooiwyn of Jy is by  die ikoniese Capitol Theatre verfilm, wat met sy ryk geskiedenis ‘n gepaste agtergrond vir die lied bied. “Ons voel regtig of ons nou ook ‘n bietjie geskiedenis daar gemaak het. Ek en my vrou, Tanya Michelle, se missie is om sulke plekke te ‘uplift’ en nuwe lewe te gee – ek deur my musiek en sy deur haar passie vir dit.”

    Logan beplan om vanjaar meer vertonings te doen en selfs ‘n toer of twee in te werk. “Ek hou daarvan om soveel as moontlik musiek te skryf en sal graag meer saam met ander

    kunstenaars en musikante wil werk. Ek wil mense se stories vertel en dalk selfs ‘n Engelse country-treffer of twee aanpak voor die jaar verby is.”

    Whiskey & Water, Rooiwyn of Jy is vanaf 7 Maart beskikbaar op platforms soos YouTube, Spotify en Apple Music. Maak seker om dit te luister en Logan se musiekreis verder te volg!

    Facebook Tiktok Instagram
    PUBLISITEIT & BEMARKING :
    Vonk Musiek
    Ashley Du Toit
    Sel: 083 963 3055
    E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za
     
    PLATEMAATSKAPPY :
    Vonk Musiek
    Francois Roux
    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160   
    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za
  • Zoé ry die “Golwe” van Selfontdekking in Haar Nuutste enkelsnit

    Zoé ry die “Golwe” van Selfontdekking in Haar Nuutste enkelsnit

    Met haar splinternuwe enkelsnit Golwe neem Zoé haar luisteraars op ‘n eerlike en persoonlike reis van selfontdekking en verandering. Golwe simboliseer vryheid, ‘n nuwe begin en die uitdagings wat gepaard gaan met groot lewensveranderinge. Golwe is nie net ‘n afskeid van haar tuisdorp, Tzaneen, om ‘n musiekloopbaan in die stad n ate jaag nie – dit is ook haar reis om haar eie pad as kunstenaar en jong volwassene in ‘n onbekende wêreld te vind.

    Zoé se vorige werke – Liefhê, Crazy Meisie en Klein Dorpie Mentaliteit (saam met Zaan Sonnekus) – het ‘n trilogie gevorm oor hartseer en die letsels wat liefde soms nalaat. Maar met Golwe los sy nie net haar tuisdorp agter nie; sy los ook daardie seer agter en tree sy ‘n nuwe fase van selfontdekking binne.

    “Hierdie liedjie gaan oor meer as net ‘n fisiese verhuising,” verduidelik Zoé. “Dit is ‘n sielkundige verskuiwing – ek los die ou ek, die seer en die verlede agter en stap met oop arms die onbekende binne.”

    Golwe is eerlik en diep persoonlik. Golwe verwoord die mengsel van opwinding en onsekerheid wat gepaard gaan met die besluit om ‘n bekende lewe agter te laat en ‘n nuwe hoofstuk te begin. “Die liedjie gaan oor die ervaring van wegtrek van die huis af, na ‘n nuwe plek waar jy net jouself kan wees. Dit gaan oor die nuwe ervarings wat mens opdoen as jy vir die eerste keer op jou eie moet bly.”

    Vir Zoé was hierdie verandering uitdagend en bevrydend. “Ek het alles wat ek my hele lewe lank geken het gelos om stad toe te trek en my drome na te jaag. Dit is skrikwekkend, maar terselfdertyd ook ‘n ongelooflik verrykende ervaring.” Hierdie gevoel van sprong en verkenning kom sterk na vore in die reël: “My sak is klaar gepak, reis met hoë hoop en sonbrille aan.”

    In die liriek “Verken my guitar, ontdek die dinge wat ‘n pen kan doen,” reflekteer Zoe op hoe musiek en skryf haar help om haarself beter te verstaan. “Hierdie liedjie het my die vrymoedigheid gegee om oor nuwe onderwerpe te skryf. Skryf is ‘n vorm van terapie vir my, en ek doen dit amper elke dag om my emosies te verwerk.”

    Zoé gebruik ‘n treffende vergelyking in die reël: “Het geleer, die lewe ontvou soos ‘n kunswerk.” Sy verduidelik: “Wanneer jy te naby aan ‘n skildery staan, kan jy op die klein, onvolmaakte detail vaskyk. Maar as jy ‘n paar tree terugstaan, sien jy die groter prentjie en verstaan hoekom sekere merkies en vlekke daar moet wees.”

    Die beeld van ‘n sikloon in die reël “So spoel my skoon, eks in die middel van ‘n sikloon” is vir haar ‘n metafoor vir die uitdagings wat sy moes trotseer.  “Ek moes my instink volg

    om uit daardie sikloon te kom. Soms moet jy nie luister na wat ander sê nie, maar net doen wat jy weet reg is vir jouself.”

    Van kleintyd af het Zoé geweet dat musiek haar passie is. “Ek het ‘n doel gekry,” sing sy in Golwe, en sy verduidelik dat sy uiteindelik seker is oor haar pad. “Ek moes eers myself verloor in loopbane wat my nie vervul het nie, om te besef dat sang en musiek regtig my roeping is.”

    Met Golwe hoop Zoé om ander te inspireer wat hul eie reis van selfontdekking aanpak. “Ek preek altyd dat mens groot moet droom en hard moet werk. Ek hoop hierdie liedjie help ander om die reis te waardeer en te onthou dat daar lig aan die einde van elke tonnel is.”

    Met Golwe, begin Zoé nie net op ‘n skoon bkadsy nie – sy skryf ‘n hele nuwe hoofstuk.

    Facebook Tiktok Instagram

    PUBLISITEIT & BEMARKING :

    Vonk Musiek

    Ashley Du Toit

    Sel: 083 963 3055

    E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

     

    PLATEMAATSKAPPY :

    Vonk Musiek

    Francois Roux

    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160   

    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za

    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

  • VONK MUSIEK VEREER KUNSTENAARS TYDENS GLANSGELEENTHEID BY DIEMERSFONTEIN WINE AND COUNTRY ESTATE

    VONK MUSIEK VEREER KUNSTENAARS TYDENS GLANSGELEENTHEID BY DIEMERSFONTEIN WINE AND COUNTRY ESTATE

    Afrikaanse musiek kunstenaars het gisteraand saamgetrek by Diemersfontein Wine and Country Estate vir die Vonk Musiek Erkenningsaand.

    Met ‘n tema van “fotogenies”, het bekendes, media en gaste saamgekom om kunstenaars se besonderse prestasies in Afrikaanse musiek te vier. Die aand is aangebied deur akteur en TV-aanbieder Arno Greeff en het ‘n gesellige ete en spesiale musiekvertonings ingesluit.

    Dozi en sy seun, Storm, het die aand op ‘n treffende noot geopen met hul weergawe van Pink FLoyd se Wish You Were Here. Ander kunstenaars wat opgetree het, sluit in Tino, Vrede, Jakkie Louw en Herman Kleinhans. Boonop het Juan Boucher en Tasché die gaste bederf met hul enkelsnit, Suid.

    Kunstenaars is op die verhoog vereer vir hul prestasies in kategorieë wat strome op digitale platforms en speelbeurte van musiekvideo’s op YouTube insluit. Hierdie toekennings is toegeken in vier statusvlakke: Goud, Platinum, Dubbel Platinum en multi-Platinum.

    Van die kunstenaars wat erkenning ontvang het, sluit in: Armand Steenkamp, Zaan Sonnekus, Tino, Nicholis Louw, Herman Kleinhans, Twee, WG Nel, Tasché, Deon Groot, Jakkie Louw, Jan Rhaap, Wouter van de Venter, Jan Blohm en Juan Boucher.

    Vir die eerste keer in hul loopbaan is Spoegwolf, wat onafhanklik werk, ook vereer vir hul uitmuntende stroomprestasies.

    Daar is spesiale erkenning gegee aan sosiale media-smaakmakers, insluitend Lisa met die Rooi Hare, Mienke Ehlers en Zaan Sonnekus, wat hul merkwaardige bydraes in hierdie kategorie gevier het.

    Die FAK het van die geleentheid gebruik gemaak om twee musieklegendes, Richard van der Westhuizen en Valiant Swart, te vereer vir hul uitsonderlike bydrae tot die bevordering van Afrikaanse musiek. Voelgoed Media het ook die talentvolle sangeres Andriëtte met ‘n spesiale toekenning vereer.

    ‘n Hoogtepunt van die aand was die toekenning van die heel eerste Stamboom-toekenning aan Wimpie van der Sandt, eienaar van Bok Radio. Hierdie toekenning, wat individue vereer vir hul diepgewortelde bydrae tot taal, kuns en kultuur, is aan Van

    der Sandt toegeken vir die beduidende rol wat Bok Radio en die jaarlikse Bok-boottoere speel in die bevordering van Afrikaanse musiek en kultuur. In ‘n spesiale tradisie sal Van der Sandt die verantwoordelikheid dra om volgende jaar se wenner aan te wys.

    Die Vonk Musiek Erkenningsaand het weereens bewys dat Afrikaanse musiek nie net floreer nie, maar ook voortdurend groei en ontwikkel. Dit was ‘n aand vol trots, glans en uitmuntende musiektalent.

    Facebook Tiktok Instagram

    PUBLISITEIT & BEMARKING :

    Vonk Musiek

    Ashley Du Toit

    Sel: 083 963 3055

    E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

     

     

     

    PLATEMAATSKAPPY :

    Vonk Musiek

    Francois Roux

    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160   

    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za

    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za