Die Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Jan Rhaap bekend vir sy opregte musiek en diep lirieke, is terug met sy jongste vrystelling, Lê My Neer in die Veld. Hierdie lied is nie net ‘n huldeblyk aan die natuur en plaaslewe nie, maar ook ‘n persoonlike weerspieëling van sy eie lewenservarings en emosies.
Jan Rhaap, met sy kenmerkende rasperstem en opgewekte musiek, vermaak gehore al vir meer as ’n dekade. Hy is veral bekend vir treffers soos Huisie in die Bos, wat hy saam met Juan Boucher geskryf het en waarvan die video reeds meer as 8.3 miljoen kyke op YouTube gehad het. Ander bekende liedjies sluit in Jan Ek Kan Nie Dans Nie met meer as 4.7 miljoen kyke en Ramskilpad, wat op verskeie treffersparades gepronk het en reeds deur meer as 2.1 miljoen mense gesien is. Die video van sy vorige vrystelling, Gooi Hom, is ook reeds meer as 400 000 keer gekyk.
Jan kom uit ’n musikale gesin en het oor die jare verskeie loopbaanhoogtepunte beleef, waaronder Ghoema-benoemings, ‘n Aitsa-benoemming, asook ‘n SAMA-benoemming. Wanneer hy nie sing of boer nie, geniet hy dit om tyd saam met sy vrou en twee kinders deur te bring, en saam met vriende en familie te kuier. Volgens Jan was die inspirasie vir sy nuutste lied, Lê My Neer in die Veld, uit sy diep liefde vir die veld en plaaslewe geput. “Die veld is vir my meer as net ‘n plek; dit is soos ‘n karakter in my lewe. Ek gesels met hom, ek leer by hom, en ek leef saam met hom,” vertel hy.
Hierdie liefde vir die veld is gewortel in sy eie ervarings op sy stuk grond buite Niekerkshoop in die Noord-Kaap. “Dis nie net ‘n toevallige tema nie; dis my realiteit. Dis iets wat ek daagliks leef en ervaar, en ek sien hoe my kinders dieselfde liefde vir die veld ontwikkel. Dit maak dit vir my soveel meer spesiaal.”
Die lirieke van die liedjie is deurdrenk met simboliek en persoonlike verbintenisse. In die reël: “Ek het my eerste tree in jou gegee, jy’t my hard laat val en weer opgetel”, skets Jan hoe die veld getuie is van sy lewensreis. “In die lewe self, gaan ons almal deur moeilike tye, maar dis belangrik om op te staan. Die veld is die plek waar ek my diepste gedagtes verwerk, of ek nou hartseer of bly is.”
Nog ‘n kragtige beeld is: “Ek het jou droogte gesien en jou brande baklei”. Dit dui op sy ervaring as iemand wat die harde realiteite van plaaslewe eerstehands beleef. “Net soos wat die veld my deur moeilike tye gesien het, het ek ook gesien hoe die veld deur swaar tye gaan. Veldbrande en droogtes is deel van die lewe, maar dit leer ons ook om te volhard.”
Die mees emosionele reël in die liedjie is moontlik: “Jy maak ‘n arm man ryk.” Vir Jan het rykdom niks te doen met geld nie. “Ek voel skatryk met my gesin, my vrou, my kinders en my familie en vriende. Ons gesondheid en die voorreg om in die natuur te wees, is vir my ware rykdom.” Musikaal gesproke bring Lê My Neer in die Veld ‘n mooi balans tussen betekenisvolle lirieke en ‘n aangename ritme. “Ek wou iets skryf wat nie net emosie oproep nie, maar waarby mense ook kan saamdans,” verduidelik Jan. Die kitare speel ‘n belangrike rol in die lied se melodie, en aan die einde skep die lirieke ‘n vloeiende effek wat herinner aan ‘n rivier wat aanhou stroom.
Loki Rothman het saam met Jan aan die lied geskryf en het ook die produksie hanteer. “Loki verstaan my musiek op ‘n diep vlak, en sy bydrae het die liedjie na ‘n volgende vlak geneem.” Meer as net ‘n persoonlike lied, hoop Jan dat Lê My Neer in die Veld mense sal aanraak op ‘n diep vlak. “Ek glo elke persoon het ‘n ‘veld’ in hul lewe – daardie plek waar hulle veilig en rustig voel. Hierdie lied is vir daardie oomblikke, wanneer jy net stil wil wees en deel wil wees van iets groter as jouself.”
En as hy eendag moet kies waar hy sy finale rusplek vind? “Sonder enige twyfel – in die veld.”

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za
PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
Webwerf: www.vonkmusiek.co.za