Jy kan nie kook nie, maar flippet, jy weet wat jy doen! Dit is die speelse boodskap agter Adam se splinternuwe enkelsnit, “Jy Soen Beter As Wat Jy Kook”, wat belowe om die dansvloere aan die brand te steek – sonder dat iets in die kombuis skroei!
Die inspirasie agter die liedjie is ‘n baie herkenbare werklikheid – nie almal is ‘n sjef in die kombuis nie, maar dit hoef glad nie ‘n dealbreaker in ‘n verhouding te wees nie! “Ek ken soveel paartjies waar een van die twee glad nie kan kook nie,” sê Christoff De Beer. “Maar uiteindelik gaan liefde oor baie meer as ‘n perfekte bord kos.”
Die lirieke skets ‘n komiese toneel van ‘n kombuis-ramp, met reëls soos “Die plek is ‘n ramp, oorlog veld” en “Ek ruik net rook” – ‘n liefdesverhaal wat wys hoe ‘n mislukte poging tot kosmaak maklik in ‘n lagwekkende, romantiese oomblik kan verander. En dalk in ‘n rede vir ‘n soen!
Met ‘n energieke, aansteeklike refrein en ‘n ritme wat jou dadelik wil laat saamdans, bring Adam weer daardie “old school ADAM dans-pop” waaroor aanhangers mal is.
Wat die liedjie nog meer relevant maak, is hoe dit moderne verwysings inkorporeer. “TikTok het jou resep aan die gang,” lui een van die lirieke – ‘n tong-in-die-kies verwysing na hoe sosialemedia ons deesdae selfs in die kombuis beïnvloed. “Ek kry al my resepte op TikTok,” lag hulle. “Ons wou daardie realiteit insluit op ‘n manier wat mense gaan laat glimlag.”
Alhoewel “Jy Soen Beter As Wat Jy Kook” met ‘n tikkie humor gesing word, dra dit ook ‘n belangrike boodskap: perfeksie is nie belangrik in ‘n verhouding nie – jou ander helfte moet jou beste vriend wees.
Wanneer Adam gevra word watter gereg hulle self sou kies om te kook (sonder om dit aan die brand te steek!), antwoord hulle laggend: “Pasta! Dit is maklik en jy kan dit nie regtig verbrou nie – hopelik!”
Hierdie speelse treffer gaan beslis ‘n gunsteling by feeste, troues en sokkies wees. “Jy Soen Beter As Wat Jy Kook” is ‘n herinnering dat liefde nie net oor groot gebare en perfekte etes gaan nie – soms is ‘n brandende pan en ‘n goeie sin vir humor al wat nodig is om ‘n spesiale oomblik te skep.

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel : 083 963 3055
E-pos : ashley@vonkmusiek.co.za
PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
Webwerf: www.vonkmusiek.co.za