Deur die lens van kampvure, boslig en vriendskap bring Ampie sy jongste enkelsnit, “Wyngewere”, as ’n nostalgiese huldeblyk aan jagvriende, gedeelde stories en die stilte van die natuur.
In die bos waar die sterre blink… só begin Ampie se nuwe lied “Wyngewere” – ’n lied wat nie net die geur van bos en rook in die lug laat hang nie, maar ook die klank van ’n diep sielsverbintenis tussen vriende wat jag en kuier deel. Ampie deel met ons die storie agter die snit – ’n storie van herinneringe, lag, stilte, lojaliteit, en ja – wyngewere.
“Ek dink mens vergeet in vandag se lewe om op te kyk,” sê Ampie. “In die bos moet ek myself keer op keer herinner om op te kyk – dis ironies hoe ons die mooiste dele van die lewe miskyk.” Hierdie besef vorm die emosionele kern van “Wyngewere”, wat die natuurlike wêreld as ’n ruimte van genesing en sielsherstel vier.
Die titel van die lied is nie sommer lukraak gekies nie. “Ons het ’n jaggroep, ‘Die Wyngewere’,” verduidelik hy. “Agt manne, almal van verskillende agtergronde – dis ’n unieke mengsel van mense wat jy nie sou dink pas nie, maar dit werk.” Die term ‘wyngeweer’ word vir hom simbolies – ’n lidmaatskap aan ’n “elite” groepie vriende, verdien deur ervaring, lojaliteit en gedeelde oomblikke – ’n metaforiese kenteken van broederskap.
“Lag op die einde van die dag is jag,” sê Ampie met ’n glimlag. In die refrein klink dit: “Met lag en stories in die nag se naam…” – en dit is duidelik dat storievertelling nie net ’n aktiwiteit is nie, maar ’n kultuur. “Sommige stories is so ongehoord, jy kan nie help as om dankbaar te wees vir die bietjie drama in jou lewe nie,” sê hy. Jag en kuier word ’n ruimte vir terapie, al is dit nie altyd bewustelik nie. “Vrouens dink dis altyd net ’n ‘gesuipery’,” lag hy, “maar daar gebeur baie meer geestelike dinge…”
Hoewel die lirieke reeds ryk is aan beelde, het Ampie gekies om die klank van die natuur hoofsaaklik in die musiekvideo te verbeeld – die kampvuur, die stilte, die samehorigheid. “Daardie atmosfeer – dis nie iets wat jy kan fyn uitwerk in note nie, dis iets wat jy voel.”
Hoewel hy homself as ’n “happy go lucky” mens beskryf wat nie van te veel beplanning hou nie, glo hy tog dat avontuur ’n belangrike rol speel in die mens se strewe na sin. “Ek dink meeste mense smag na avontuur – jy wag vir daardie vakansie, daardie uitstappie… dit is waar jy weer asemhaal.”
Die einde van die lied is besonders kragtig: “Vriendskap wat ons bind, soos die vlamme dans…” – ’n treffende metafoor vir die onbreekbare band tussen manne wat sáám kampvuur deel. “Broederskap is ’n sterk woord,” sê Ampie ernstig. “En lojaliteit sal altyd een van die boonstes op my lysie bly.”
Uiteindelik is daar nie net een herinnering rondom die vuur wat uitstaan nie. “Dis die gevoel,” sê Ampie. “’n Vuur het die vermoë om dankbaarheid te saai, ’n hart vrede te gee en ’n siel ’n tweede kans.” Dis ’n plek waar die lewe stadiger raak, waar stilte ’n taal word, en waar die siel weer tot rus kom.

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za
PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
Webwerf: www.vonkmusiek.co.za