Vonk Musiek

NUUS

RADIO, O-O-O! NICHOLIS LOUW IS TERUG OP VOLLE VOLUME IN JOU ORE

Nicholis Louw is terug met ’n onweerstaanbare saamsing-treffer wat luisteraars se ore en harte vasvang: Radio. Met ’n energieke klank, pakkende koor, en ’n storie wat diep persoonlik is, gee Louw vir ons nie net ’n lied nie, maar ’n ervaring wat voel soos Desembervakansie op volle volume.

Wat Radio só uniek maak, is die oorsprong daarvan. Nicholis vertel dat die inspirasie vir die liedjie van sy vrou gekom het. “Toe die kindertjies babatjies was en sy hulle gebad het, het sy sommer liedjies uit haar kop uit gemaak en gesing. Een van hulle was ‘Radio, o, o, o, o speel my liedjie nou,.’ Die kinders het so gelag. Ek het toe gedink: ‘Jinne, dis genius. Ek moet dié song klaar maak.’” Só is die koor nege jaar gelede gebore, en nou kry dit uiteindelik die verhoogligte wat dit verdien.

Die lirieke van Radio beskryf hoe ’n liedjie jou kop kan oorvat — en dit is ’n gevoel wat vir Nicholis baie bekend is. “Baie liedjies sit in jou kop vas, selfs dié wat jy nie van hou nie. Maar dis juis wat van ’n lied ’n ‘hit’ maak – as dit bly vassit.” Radio speel dus nie net met woorde nie, maar met daardie universele menslike ervaring: ’n wysie wat jou nie wil los nie.

In die tweede vers sing Nicholis  van hoe die liedjie onverwags terugkom, selfs al probeer jy dit doelbewus vergeet. “Net as jy dink jy’s verlos van die ding, dan skiet hy weer terug. Dis daai ‘dief in die nag’-gevoel – die liedjie kruip stilletjies terug in jou kop in.”

 “Jy laat dit voel soos ‘n naweek vir my”. Hierdie sin vang presies die atmosfeer vas wat Nicholis mik om te skep. “Ek hou daarvan om pretliedjies te skryf – iets wat mense dadelik in ‘n vakansie gevoel sit. Dis daai ‘off switch’ gevoel. Jy ry af Kaap toe, die son skyn, en jy skree saam in die kar. Dis wat ek wou vasvang.”

Nicholis Louw se optredes is bekend vir sy hoë energie, en Radio pas perfek daarin. “My vertonings is altyd upbeat. Ek hou daarvan om momentum te bou en te hou. En hierdie song is gemaak vir daai gevoel – om mense op te lig en aan die sing te kry.”

Was dit ’n doelbewuste keuse om Radio as ’n saamsing-liedjie te skryf? “Verseker,” sê hy sonder twyfel. “Dis vir my belangrik dat mense teen die tweede koor reeds saam kan sing. Soos met ‘Coco pops en Kaas’ en ‘Werfbobbejaan’ – dis alles singsaam-liedjies. Dis wat ek wil hê mense moet onthou.”

In ’n tyd van digitale platforms, bly radio steeds ’n hoeksteen van kunstenaarskap. “Radio stasies speel ’n massiewe rol in hoe ’n liedjie sy weg na mense se ore vind. Jy hoop altyd iemand hoor hom op die radio en gaan soek hom dan op iTunes of Spotify. Dis ’n belangrike beginpunt.”

Hierdie keer het Louw iets anders probeer met die opnames. “Ek het nie eers ’n huis-demo gemaak nie. Ek het sommer reguit na die studio toe gegaan en daar begin werk aan die demo. Dit was baie lekker – anders, maar kreatief. En aan die einde van die dag, solank die eindresultaat lekker is, is ek gelukkig.”

En as jy Radio in een woord moet opsom?

“Pret,” sê Nicholis sonder huiwering. En as jy na die lirieke luister — met daardie aansteeklike koor:

 Radio-o-o-o-o / Speel my liedjie nou-ou-ou-ou-ou / Daai een waarvan ek hou-ou-ou-ou-ou / Ek moet hom hoor, ek moet hom hoor!

— dan sal jy hom glo.

Nicholis Louw se Radio is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Sit jou volume op, en laat die naweekgevoel inskop – selfs al is dit net Maandag.

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

Send this to a friend