Vonk Musiek

HERMAN KLEINHANS STEL NUWE KORTSPELER BEKEND

Sanger Herman Kleinhans is bekend vir drie dinge; Sy baard, die onmiskenbare timbre van sy bariton stem en sy vermoë om liedjies te skryf wat vreemdelinge plotslings verlief laat raak. Herman het in 2020 sy album getiteld Ruite Oop vrygestel en nou is hy terug met ‘n nuwe kortspeler getiteld EP in F.

Die nuwe kortspeler bevat vier nuwe treffers wat sal sorg vir ‘n paar warm aande voor die kaggel. Dit sluit in Jy Verdoesel My, Welkom By Die Huis, Fiela Ek Mis Jou en die opvolg liedjie op sy treffer Fok Vrou (Onthou Vrou) getiteld Fok Vrou II (Onthou Vrou II).

Herman Kleinhans wie deesdae in Patensie in Oos-Kaap woon het 29 Januarie 2022 met Maryke Steyn getrou en vertel dat die getroude lewe hom goed pas. ‘’Dis lekker en ek wens ons kon dit al lankal gedoen het,’’ vertel Herman. ‘’Dis ‘n seën en ‘n verligting om met hierdie fase van my lewe te begin. Dit is as of ‘n hoofstuk afgesluit is en ek nou met ‘n hele nuwe boek begin.’’

Herman vertel dat Maryke hom baie dinge oor liefde geleer het. ‘’Liefde is geduldig soos Maryke. Liefde is kwaai soos Maryke. Liefde is mooi soos Maryke en liefde is soms ongeduldig nes Maryke, maar dit is ‘n doelbewuste en bevredigende keuse om jou lewe met iemand te deel.’’

Herman se musiek het nog altyd grotendeels oor liefde gehandel, maar net soos wat hy ‘n nuwe fase van sy lewe begin so is daar ook nuwe dimensie in die lirieke en musiek wat hy skryf. Die Tema bly dieselfde, maar daar is ‘n nuwe begrip. ‘’Ek skryf oor die bitter, die soet, die lekker en die baklei,’’ lag hy.

Jy Verdoesel My het Herman geskryf oor verlange. ‘’Ek en Maryke het nog nie veel tyd sonder mekaar spandeer van dat ons getroud is nie en die een dag het sy besluit dat sy ‘n bietjie by haar ouers gaan kuier en sommer besluit om daar te bly sodat sy ‘n paar draaie kan ry en haar naels laat doen. Sy was net vir twee dae weg, maar ek het wragtig verlang,’’ het Herman gedeel. Hy het alleen by hul kombuis tafel gesit. Die kaggel het gebrand en hy het ‘n glasie rooiwyn gesit en drink. ‘’Soos wat ek daar gesit en verlang het, het ek ‘n deuntjie begin neurie. Ek het my kitaar opgetel en die woorde het net gekom.’’

Welkom By die Huis is ‘n liedjie wat Herman eintlik al ‘n klompie jare terug geskryf het en is in 2016 deur sanger Daniel Mitton opgeneem, maar Herman het besluit om sy eie weergawe vry te stel omdat dit nou so toepaslik op sy eie lewe is. ‘’Welkom by die huis is ‘n tipiese baklei liedjie. Daar kom tye in enige verhouding wat ‘n mens ‘n bietjie vas sit. Party argumente wen jy, party verloor jy. Ek wen selde,’’ skerts Herman.

Fok Vrou II (Onthou Vrou II) is natuurlik die opvolg van Herman se treffer Fok Vrou (Onthou Vrou). Die oorspronklikke liedjie is vandag nog ‘n gehoor gunsteling en Herman het dit geskryf vir vriendin wat ‘n bietjie van ‘n ongeluks voël was, tydens ‘n vakansie in Vietnam. ‘’So ruk terug het so ‘n fluit-deuntjie in my kop vasgesteek en dit het my herinner aan die oorspronklike liedjie en ek het besluit om ‘n nuwe weergawe te skryf. Waar Fok Vrou (Onthou Vrou handel oor sy avonture in die buiteland handel Fok Vrou II (Onthou Vrou II) oor die oor die feit dat hy en Maryke juis nie kon toer tydens die Grendel tydperk nie. ‘’Ons het ‘n vaknasie in Thailand beplan en dit kon ongelukkig nie nie gebeur nie, daarom het ek die lirieke geskryf, Eendag sal ons Thailand sien,’’ het Herman uitgebrei.

Behalwe vir nuwe musiek het Herman ook onlangs die Wys Jou sTaal proteskonsert in die Paarl teen die voorgestelde naamverandering Afrikaanse Taal Monument gereel. ‘’As ons Afrikaans ontken, ’n taal wat oor jare deur werkende mense van verskillende etniese groepe op lande en in fabrieke gevorm is, ontken ons die bereidwilligheid van toekomstige samewerking wat fataal sal wees vir die land welstand. Dus is hierdie ’n saak na aan ons hart,” het herman vertel. Ander kunstenaars wat opgetree het, het onder andere Gian Groen, Jan Blohm, Wouter van de Venter, Churchil Naudé, Bottomless Coffee Band, Tino Singe, Len Muller ingesluit.

Herman het ‘n groot passie vir Afrikaans, maar beoog ook om vorentoe  van sy liedjies in Engels te herskryf sodat hy vir ‘n groter mark musiek kan maak. ‘’Liedjies skryf is nogsteeds een van die lekkerste dinge wat daar is. Die pad wat ek gekies het is moeiliker as die van meer kommersiele musiek, maar ek doen presies wat ek wil doen,’’ vertel hy.

Herman se kalender is baie besig op die oomblik, want hy voel hulle het twee jaar se reis om in te haal en nuwe mense om te ontmoet. Hy gaan ook later vanjaar toer saam met Spoegwolf in Europa.  ‘’Om in Afrikaans te kan optree oortref jou wildste verwagtinge,’’ deel Herman ‘’In België is die taal so naby dat die mense meeste van die lirieke verstaan, maar in Frankryk gaan dit oor die gevoel en die reaksie is altyd positief.

Die toer sluit Amsterdam, Dublin en London in, daarna gaan hy en Maryke ‘n romantiese vakansie in Frankyk beplan.

Gaan luister hom op alle digitale platforms – Herman Kleinhans | Linktree

 
Shopping Cart
Send this to a friend