Op 8 November 2024 bring Logan Pietersen sy nuutste enkelsnit, “Nie Nou Nie,” uit – ‘n lied wat diep in die hart klop en spreek tot temas van liefde, onsekerheid, en die stryd om reg te laat geskied in die lewe. Pietersen, bekend vir sy eerlike lirieke en rou emosie, sê dat die lied uit sy eie lewenservarings spruit, spesifiek uit die pyn en vreugdes van ‘n verhouding waarin hy sy alles gegee het, terwyl die ander kant minder toegewyd was. Hy verduidelik: “In verhoudings waar iemand 100% gee en die ander persoon nie, voel dit soos ‘n geveg tussen jou hart en verstand – en dit is die storie wat ek in ‘Nie Nou Nie’ probeer vertel.”
Die lied, wat deur die talentvolle vervaardiger Tertius Human by CoolerBox Studio’s geproduseer is, is gebou op ‘n sterk melodie en diepgaande akkoordstrukture wat die gehoor se siel raak. “Dit was maklik om te skryf, want die emosie was rou en reguit daar – die musiek het my soos altyd gedra,” sê Pietersen. “Dis ‘n lied oor daardie tye wanneer die lewe antwoorde vra, maar ons nie reg is om dit te gee nie. Dit speel soos ‘n skaakspel tussen hart en verstand.”
Met lirieke soos:
“Daar was ‘n pad op ‘n tyd wat ek gestap het in my lewe,
Hoe ek daar beland het weet ek nie, maar daar was ‘n rede.
Nou’s dit sewe maande later, en die duiwel draai hier rond,
Ek sukkel om als te verstaan, wat het ek eintlik nog hier oor?”
…raak Pietersen aan die universele ervaring van selfondersoek en die onontkombare verleidelikhede wat ons verhoudings toets. Hy beklemtoon die belangrikheid daarvan om iemand se hart en emosies nie ligtelik op te neem nie, aangesien onsekerheid een van die swaarste emosies is om te dra – ‘n gevoel wat, wanneer dit op ‘n opregte persoon geplaas word, diep wonde kan laat. “Verliefdheid is een van die sterkste, mooiste emosies, maar dit maak mens ook baie kwesbaar en soms ‘dom,’” voeg hy by. “Ek sing, ‘En die duiwel draai hier rond,’ want verleiding en ontrouheid is orals, en dit neem net een klein oomblik om iets kosbaar te vernietig.”
Die musiekvideo vir “Nie Nou Nie” is iets waarna aanhangers kan uitsien. Sonder om te veel te verklap, sê Pietersen dat die video met subtiele simboliek werk om die konsepte van versoeking en selfrefleksie uit te beeld. Hy verduidelik: “Ek wil wys, nie net sing nie, wat ek voel in hierdie lied. Ek sien uit na die publiek se reaksie op my nuwe werk, en die lied is ook ritmies geskik om saam te dans.”
As ‘n laaste knipoog voeg Pietersen humor by: “En asseblief, kinders en mans – moet nie die liedjie se titel gebruik as ‘n verskoning wanneer julle ma of vrou vra om iets rondom die huis te doen nie!”
“Nie Nou Nie” is ‘n diep introspektiewe en passievolle toevoeging tot Pietersen se repertoire, en beloof om diep emosies by sy luisteraars aan te wakker.
Geniet die album op die platform van jou keuse – https://vyd.co/NieNouNie