Vonk Musiek

NUUS

BLOUMOORD – DIS OK & JY MOET NET JOUSELF WEES

In die strate van Boksburg word daar al vir ‘n geruime tyd gefluister oor ‘n band wat Afrikaanse musiek op sy kop gaan draai. Stadig het die klank van elektriese kitare begin weergalm en die nuus het versprei. Nou met die bekendstelling van hulle kortspeler wat hul liedjies, Dis Ok en Jy Moet Net Jouself Wees insluit is dit g’n wonder dat almal Bloumoord skreeu nie.

Agter sy John Lennon sonbrille en lang krul hare glimlag Bloumoord Voorsanger Tiaan Enslin, want hy is salig onbewus daarvan dat hy en sy jonger broers, Martin en Trevor wat saam met hom in die band speel, besig is om iets te doen wat baie spesiaal is. ‘’Musiek is seker die eerste ding wat ek gehoor het,’’ vertel Tiaan. ‘‘Ons het in ‘n huis groot geword, waar my pa vir ons musiek gespeel het as ons gaan slaap het en hy het vir ons musiek gespeel as ons wakker word. Dit is in ons DNA gedruk.’’

Tiaan se Oupa het ook ‘n groot invloed op hulle musiek gehad. ‘’My Oupa het so ou Ford Zephyr gery en hy het altyd Dire Straits en Midnight Oil geluister en toe ek die eerste keer Money For Nothing se guitar intro hoor toe freak ek uit.’’

Tiaan het nie beplan om ‘n kreatiewe loopbaan te volg nie. Dit het soortvan in sy skoot geland. ‘’Ek het gedink ek moet ‘n goeie werk kry en seker maak dat ek geld het en ek het toe in ‘n bank se belsentrum gaan werk waar ek mense se rekeninge oop en toe gemaak het en probeer krediet kaarte verkoop het,’’ lag Tiaan. Op ‘n dag tydens middagete het sy lewe heeltemal verander.

‘’Ek het buite ons gebou gesit en ‘n sigaret gerook en ek het gekyk hoe ‘n film span besig was om ‘n advertensie te skiet. Die volgende oomblik het ‘n vrou op my skouer getik en gevra hoekom ek nie aangetrek is nie.’’ Hy het vir haar gelag en gesê. ‘’Ek dink ek is aangetrek.’’ Tiaan het vir haar verduidelik dat hy eintlik in die bank werk. Hulle het oor die misverstand gelag en sy het net daar en dan vir hom ‘n model kontrak aangebied.’’

Kort voor lank het hy in verskeie advertensie veldtogte verskyn en hy was self te sien op ‘n groot reklame bord vir Vodacom langs die N1 snelweg. Tiaan het later in produksie begin belangstel. Tydens verfilming van ‘n advertensie het hy ‘n kuns regisseur genaamd Wayne Smith ontmoet. Wayne het hom onder sy vlerk geneem en Tiaan het begin deur rekwesiete te maak en stilering te doen vir advertensies.

In tussen het Tiaan en sy broers begin musiek maak in sy familie se motorhuis. ‘’My Boetie Martin speel al Tromme nog voor hy ooit ‘n tromstel in regte lewe gesien het. Hy het vir hom self ‘n stel stokke by Warmbad se CNA gekoop en op mure en banke gespeel.’’ Het Tiaan gedeel. ‘’Toe ons uiteindelik vir hom ‘n stel in die hande kry het hy uitgefreak,’’ vertel hy verder. Vir sy broer Trevor het Tiaan ‘n bass-kitaar by Cash Crusaders gekoop en vir hom aangesê om te leer speel. ‘’Skielik was ons ‘n band. Ons het covers begin speel in die garage en toe besluit ons, ons gaan dit doen. Daar is net nie ‘n ander manier nie ons gaan musiek maak.’’

‘’Ons wou nie soos iemand anders klink nie. Ons is almal groot fans van bands soos Fokofpolisiekar en Die Heuwels Fantasties, maar ons wou nie nog ‘n band wees wat hulle klank emuleer nie,’’ het Tiaan vertel. Die broers het stadig hulle eie klank begin ontwikkel, maar het toe nog nie ‘n naam gehad nie. ‘’ Ons het eendag gesit en ‘n dokumentêr oor Johannes Kerkorrel gekyk. Iemand het vertel hoe hulle na sy dood Bloumoord geskreeu het en ek en my broers het vir mekaar gekyk en besef dat ons band se naam pas in ons skote geval het,’’ onthou Tiaan.

Die boykies van Boksburg lyk dalk soos ‘n rowwe klomp rockers en Bloumoord het dalk ‘n duidelike rock klank, maar die boodskap wat hulle deur hul musiek wil oordra is ‘n positiewe een. ‘’Dis Ok het ek tydens lockdown geskryf toe ek en my meisie alleen gesit het in ‘n een slaapkamer woonstel,’’ het Tiaan oor die song verduidelik. ‘’Ons was baie verveeld en gatvol om vir dieselfde vier mure te sit en staar en ek het met baie van ons vriende gesels wat mense verloor het. Dit was ‘n weird tyd en ek wou net ‘n liedjie skryf wat vir almal sê dat dinge ok gaan wees. Ek het nie probeer om enige slim lirieke uit te dink nie. Die boodskap was duidelik. Die enigste manier hoe jy jouself uit ‘n moeilike situasue kan kry is om jouself op te lig,’’ het hy uitgebrei.

Jy Moet Net Jouself Wees se inspirasie het heel toevallig gekom. ‘’Ek het ‘n Halloween party bygewoon en ek het soos ‘n hippie aangetrek. Een van my vriende het vir my gesê ek kan elke dag so aantrek en ek het vir hom gesê: Jy moet net jouself wees,’’ lag Tiaan. Die volgende oggend het Tiaan wakker geskrik en deuntjie het in my kop vasgesit. Beide liedjies is by B-sharp Studios in Boksburg opgeneem.

Deur Tiaan se kontakte in die advertensie bedryf het hulle energieke musiekvideo vir Jy Moet Net Jouself Wees verfilm.

KYK DIE VIDEO HIER:

Bloumoord is besig om hard te werk aan nuwe musiek en het ook twee nuwe lede in die band verwelkom. Hulle spog nou met Pedré Lamprecht op die elektriese-kitaar en Renier Hattingh op ritmiese-kitaar. ‘’Ons is baie opgewonde oor waarheen ons klank beweeg. My broers was op Hoërskool toe ons saam begin musiek maak het en nou is hulle jong mans. Ons musiek is besig om saam met ons te groei en ons kan nie wag om vir almal te wys wat volgende is,’’ het Tiaan afgesluit.

Bloummoord is besig om produksie van hulle nuwe musiek af te handel wat na verwagtinge later vanjaar vrygestel sal word.

Dis Ok en Jy Moet Net Jouself Wees is nou beskikbaar op alle digitale platforms.

Shopping Cart
Send this to a friend