Vonk Musiek

Hennie De bruyn en die Kitaarkerels – 3 Ghitaar Jolyt

Hoe moeiliker dit gaan met die land en die feit dat ons meer in donker gehul is as lig, keer dit nie die Kitaarkêrels om Jolyt te hou nie. Ja, hulle lig sommer die gemoed uit staanspoor met SHARKY TOWN SKOFFEL; die eerste snit op hul splinternuwe album, 3 Ghitaar Jolyt.

Hennie de Bruyn het homself deur die jare oor en oor bewys hy is ‘n kêrel wat ‘n kitaar kan slaan en sáám is die driemanskap pure jolyt as hul die kitare nader trek. Hennie de Bruyn het die kuns vervolmaak om musiek te maak wat nie net lekkerluister is nie, maar ook lekker-dans-musiek is. Met vinnige vingers TIPPI TIN hulle oor die snare, maak ‘n LANGPAD KWELA kort en met FANIE EN PENNY SE SETEES is dit net een pad, KOM LAAT ONS DANS. Ja, als treffers van hul nuwe album. Daar’s iets vir die NOOINTJIE VAN MY HART en selfs ‘n TAMMALETJIE of twee. Terwyl SPOORNET SETEES waarmee hul die album afsluit, amper nostalgies is met die trein se shant en die spore wat agter lê soos die brug van ‘n kitaar wat neergelê word. Amper spyt die album is ‘verby’…

Hennie was al die jare ‘n ambagsman, maar het reeds op die ouderdom van tien jaar geleer hoe om die kitaar te bemeester. Vandag is Hennie ‘n huishoudelike naam met al meer as 23 albums op die rak, DVD’s, SATMA-, SAMA en GHOEMA-toekennings om maar ‘n paar hoogtepunte te noem.

Hennie de Bruyn en sy kêrels is ‘n moet vir jou volgende funksie of fees. Skuif weg die tafels, want die Kitaarkêrels met hul warm vingers gaan die voete vas aan die vloer hou.

Bel vir Dottie by 082 952 2014 of vir Hennie by 072 505 1909 of stuur ‘n e-pos aan hennie.kitaarkerels@gmail.com vir jou volgende funksie.

Hennie die Bruyn en die Kitaarkêrels wyk nie af van hul suksesresep en gaan weereens nie teleurstel met 3 Ghitaar Jolyt nie. Maak jou reg vir nog jare se JOLYT met hierdie driemanskap op hul Ghitare!

 
Shopping Cart
Send this to a friend