Vonk Musiek

NUUS

“NEE BUFFEL” – WG NEL VIER BROEDERSKAP, BAKKIES EN BIER MET ’N EGTE MANNE-NAWEEK

Met sy nuwe enkelsnit “Nee Buffel” bring WG Nel ’n ode aan manne-naweke, ware vriendskap en die rustigheid van die natuur. In ’n tyd waar gejaagdheid en oorlaaide skedules die norm is, herinner die lied ons daaraan om soms net weer te ontspan, af te skakel – en saam met die ouens om die vuur te lag.

Die idee vir “Nee Buffel” het ontstaan in WG Nel se eie vriendekring, waar die frase “Nee Buffel” dikwels gehoor word wanneer iemand iets minder wys aanvang – of erger nog – besluit om vroeg te gaan slaap tydens ’n kuier. Hierdie uitdrukking het ’n eie lewe begin lei, en uiteindelik die inspirasie geword vir ’n lied wat broederskap, natuur en die kuns van kuier perfek vasvang.

“’n Eg Suid-Afrikaanse manne-naweek is presies wat in my kop afgespeel het toe ek ‘Nee Buffel’ geskryf het,” sê WG. “Ek dink Ruan, wat die video gemaak het, het dit ook presies so vasgevang – dis regte mense, regte kuier, niks toneelspel nie.”

Met beelde van bakkies, plaashekke en selfone op voicemail, skets “Nee Buffel” ’n wêreld waar eenvoud en natuur weer sentraal staan. Vir WG is hierdie temas nie net liriese toestelle nie, maar ’n werklike noodsaaklikheid in sy lewe.

“Ek werk daagliks in ’n hoëdruk omgewing. As jy nie soms afskakel en weer grond vat nie, verloor jy perspektief op hoekom jy jaag.”

Hoewel “Nee Buffel” klink soos ’n lied wat in een asem geskryf is, was die proses oor maande gestrek. “Ek het lank met die konsep rondgeloop,” vertel WG. “Toe ek en my vrou op vakansie oor die see uitkyk, het ek begin skryf. Daardie rustigheid het my gehelp om die storie reg te vertel.”

Die resultaat is ’n lied wat nie net met vriende resoneer nie, maar ook met enige iemand wat al ooit die behoefte gehad het om net vir ’n naweek weg te breek en weer te voel.

En ja, daar ís ’n regte “Buffel” – Duane Jordaan, ’n vriend van WG wat tydens ’n jagtrip in 2024 sy naam verdien het. “Ironies genoeg was dit ons wat vir hom gesê het ‘Nee Buffel’ toe hý nóg enetjie wou hê!” lag WG.

Tog, sê hy, is Buffel eintlik ’n universele karakter. “Ons almal ken daardie ou.”

Die produksie van “Nee Buffel” bring die lied se energieke, kuierbare klank perfek na vore – met die hulp van Hugo Ludik van Muse Studios. “Hulle het iets vasgevang wat nie altyd in woorde uitgedruk kan word nie,” sê WG. Die koor – “Dis nie te vroeg vir ’n bier nie” – mag op die oog af soos ’n grap klink, maar dra ’n dieper boodskap van balans en ontsnapping.

Hoewel daar nog nie ’n bevestigde album is nie, sê WG daar is gesprekke aan die gang. “Ek laat my lei deur die Man daar bó,” sê hy. “Maar ek wil graag ’n versameling saamstel wat ook plek maak vir die minder kommersiële liedjies – dié wat nog lig soek.”

Vir nou is “Nee Buffel” die perfekte lied om saam met vriende, ’n vuur en ’n koue bier te geniet – en dalk net weer te onthou dat daar lewe buite die stadsmure is.

Luister “Nee Buffel” op jou gunsteling stroomplatform en onthou: Dis nie te vroeg vir ’n bier nie… maar dit is dalk te vroeg om te gaan slaap. Nee Buffel!

PUBLISITEIT & BEMARKING :

Vonk Musiek

Ashley Du Toit

Sel: 083 963 3055

E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

 

PLATEMAATSKAPPY :

Vonk Musiek

Francois Roux

Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160   

E-pos : francois@vonkmusiek.co.za

Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

Send this to a friend