’N LIEFDESREIS VAN GELOOF, VERBINTENIS EN WAARHEID

Die geliefde Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Nicholis Louw, het pas sy nuutste enkelsnit, Die Pad, vrygestel – ’n lied wat nie net ’n ode aan die liefde is nie, maar ook ’n rare weerspieëling van sy eie lewe, sy huwelik en sy geloof. Nicholis vertel oor die dieper betekenis agter die lied, die kreatiewe proses, en hoekom hierdie lied ’n unieke plek in sy hart hou.

“Die Pad is geïnspireer deur my Vrou, ons troudag, ons huwelik, en ons lewensreis saam met mekaar.” sê Nicholis. “Dis my weergawe van ’n troumars – iets wat ek hoop, en glo, vir ander paartjies, op hul spesiale dag, of op hul eie lewensreis, ook iets sou kon beteken.” Die liedjie is egter nie beperk tot romantiese liefde nie. “Dit het betrekking tot enige spesiale verhouding – tussen ouer en kind, tussen vriende en ook in die gesin as geheel.”

Wat die lirieke nóg meer roerend maak, is dat dit volkome outentiek is. “Daar is nie ’n greintjie fiksie in die lied nie. Dit is 100% uit my eie lewensboek.  Die lied is reeds rondom 5 minute lank, maar ek kon maklik ‘n 50 minuut lange liedjie geskryf het.”

In die koor beloof die sanger: “Ek sal die pad met jou loop… vir ewig, vir altyd.” Hierdie toewyding weerspieël sy eie lewensbeskouing oor liefde. “Verhoudings oor die algemeen, maar veral jou keuse van lewensmaat, is een van die belangrikste keuses wat jy in jou lewe maak. Die regte verhouding kan jou bou, steun, en stoot, om hoogtes te bereik waarvan jy nie voorheen sou kon droom nie, maar ‘n verkeerde keuse kan jou breek.” verduidelik hy. “Jou lewensmaat én jou verhouding met God bepaal uiteindelik watter mens jy aan die einde van jou aardse reis is.”

Geloof vorm dan ook die kern van die lied se boodskap. “God is liefde. Sonder Hom in ’n verhouding mis mens die méés fundamentele aspek, of eerder, bestandeel. Met Hom daar, bereik jy ’n nuwe, dieper vlak van liefde wat menslike begrip oorskry.”

Een van die mees aangrypende dele van die lied is die verwysing na liefde wat selfs die dood oorleef: “As die dood ons skei, sal ek jou ander kant kry.” Dit raak die vraag aan wat baie mense vra:  Wat gebeur tussen lewensmaats wanneer hulle albei in die Hemel kom. “Ons weet nie presies hoe die Hemel gaan wees nie, en ek weet ons verhouding sal verander, want Jesus adresseer dit in die Bybel.  Maar hoewel ek aanvaar dat ons verhouding en liefde sal verander, weet ek God se geskenke, insluitend liefde, vergaan nie, en ek weet ook, hoe ookal dit verander, gaan dit selfs beter wees.”

Wat die klank van die lied betref, sê Nicholis: “Ek het in die ateljee gaan sit, en dit wat uitgekom het, is wat die mense hoor. Dis nie ’n vooraf beplande produksie nie – dis eerlik.” Die beeldspraak in die lied is intens persoonlik. “Elke tree wat jy vat is goud vir my” simboliseer vir hom hoe hy elke klein prestasie van sy vrou vier. “Dis nie oor verafgoding van iemand nie. Dis oor verwondering, ondersteuning en trots – of dit nou in die kombuis of in haar loopbaan is. Waarokal sy wen in die lewe, is ek só verskriklik trots op haar.”

In vers 3 verwys hy na ’n “ondier” en “storm in my hart” – ’n metafoor vir waar hy was in sy lewe toe hy haar ontmoet het. “Sy het deur al daardie dinge gebly, en bly glo in my. Sekere aspekte van my is tot vandag toe plek-plek grof en onafgerond, en tog is sy nogsteeds aan my sy.”

Vir ’n kunstenaar wat meestal bekend is vir energieke, lighartige musiek, is hierdie lied ’n emosionele en kreatiewe afwyking. “Ek wou iets diep en betekenisvol uitbring, en die winter was die perfekte tyd vir so ’n warm, intieme lied.”

Maar was hy ooit onseker oor hoe so ’n diep lied by sy gehoor sou aanklank vind? “Glad nie. My gehoor het oor die jare gewys dat hulle ‘n aanvoeling vir die spreekwoordelike ‘lig’ en ‘donker’ het, en Die Pad is, ten spyte van sy erns en diepte, ’n storie van vreugde.”

Die tema van vergifnis, vertroue en tweede kanse loop soos ’n goue draad deur die lied. “Elke verhouding wat ooit bestaan het, het goeie én moeilike tye gehad. Dis juis wat ‘n paartjie se storie uniek maak, en vir een of ander rede het dit ‘n geneigdheid om lewensmaats nader aan mekaar te bring. Ek dink die saak van ‘twee word nou een’ is nie afgesluit op die dag wat dit gevestig word nie. My siening is dat ‘deur dik en dun’ deel daarvan vorm. En mens groei vaster aanmekaar weens die ‘dik en dun’.  Ek dink die ‘gom’ wat julle belofte is, verhard met tyd.”

Die lied het nie oornag ontstaan nie – die idee het vir maande lank in hom geleef. “Soms skryf jy ’n lied in ’n dag. Ander kere broei jy daaroor vir jare.”

En die pad vorentoe? “Ek hou van energieke, opliggende musiek wat die gemoed lig, veral met betrekking tot lewendige optredes, maar ek skryf wat vir my op daardie oomblik gegee word – uit die Vader se hand. Dis ’n geskenk.”

Met Die Pad bied Nicholis Louw nie net ’n liefdeslied nie, maar ’n geestelike anker, ’n baken van hoop en ’n bevestiging van volharding. Vir enigiemand wat op die punt staan om op te gee, sê hy: “Luister die lied. Herinner jouself aan hoekom julle mekaar  in die eerste plek lief gekry het.  Dalk gee dit jou net daardie bietjie moed om vas te byt. Dalk is die storie nog nie klaar geskryf nie.”

“Ek sal die pad met jou loop…” – ’n belofte, ’n gebed, en ’n lied vir elke mens wat al liefgehad het.

https://www.youtube.com/watch?v=UPdX_qTQmhg Facebook Tiktok Instagram

PUBLISITEIT & BEMARKING :

Vonk Musiek

Ashley Du Toit

Sel: 083 963 3055

E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

 

PLATEMAATSKAPPY :

Vonk Musiek

Francois Roux

Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160   

E-pos : francois@vonkmusiek.co.za

Webwerf: www.vonkmusiek.co.za