Leo Sonskyn, die klein dorpie seun van Springs met ‘n groot droom, laat weer die harte van luisteraars klop met sy nuutste Afrikaanse enkelsnit, “Sondagmiddag Liefde.” Dis nie sommer net ’n lied nie—dis ’n gevoel. ’n Oomblik van rus. ’n Intieme liefdesbrief aan daardie een spesiale persoon by wie jy net jouself kan wees.
Leo se loopbaan het hom van The Voice SA, Idols SA en Die Kontrak geneem tot waar hy vandag as kunstenaar staan. Maar steeds beskryf hy homself as net ’n “lekker dude van Springs af.” “Ek’s net ’n huweliks maat , ’n pa en ’n gewone ou,” sê hy nederig. “Ek het eendag besluit ek het ’n droom en toe het ek hom aangepak.”
Dis juis hierdie egtheid en plat-op-die-aarde geaardheid wat deurskyn in “Sondagmiddag Liefde.” Dié lied is gebore uit ’n kreatiewe samewerking met die bekende William Wolf. “Hy’t ’n cool melodie in sy kop gehad,” vertel Leo. “Ons het net daar begin skryf—die gevoel van daai rustige Sondagmiddag saam met jou persoon het die hele idee gedryf.”
Waar baie liefdesliedjies fokus op groot gebare en dramatiese oomblikke, kies “Sondagmiddag Liefde” om eerder die sagte, stil oomblikke te vier—daardie tye wat dikwels ongemerk verbygaan, maar eintlik die fondament van ware liefde vorm.
“Ek soek jou laat Sondagmiddag liefde…
Ek het nooit geglo in die hemel,
Maar nou lê die hemel net hier langsaan my.”
Vir Leo is dié lirieke meer as poëties—dit’s persoonlik. “Ek het nooit gedink ek sal ooit ’n vrou hê nie,” erken hy. “Soos party mense wat nie in die hemel glo nie, het ek nie geglo liefde gaan met my gebeur nie. Maar toe gebeur dit. En nou, elke keer as ek na haar kyk, weet ek – hierdie is my hemel op aarde.”
Met die musiekvideo wou Leo en sy span die reinheid van liefde vasvang sonder enige voorgee. “Ons het probeer wys dat dit nie gaan oor wie jy op ’n Vrydagaand saam wil wees nie, maar oor wie jy op ’n Sondagmiddag by wíl wees,” sê hy. “Dít is liefde.”
Die visuele aanbieding sluit perfek aan by die tematiek van die lied—rustige oomblikke, ’n sagte aanraking, twee mense wat mekaar werklik sien.
Leo se musikale reis het reeds op 14 begin en het hom van plaaslike verhoë tot nasionale televisie geneem. In Die Kontrak se derde seisoen het hy dit tot die top vyf gehaal.
Met “Sondagmiddag Liefde” wys Leo Sonskyn dat daar plek is in Afrikaanse musiek vir sagtheid, opregtheid en stilte. In ’n wêreld wat dikwels lawaaierig en gejaagd is, herinner hy ons daaraan dat liefde nie altyd geskreeu hoef te word nie. Soms lê dit in die kyk oor ’n laken, die stilte tussen twee mense, en die teenwoordigheid van iemand wat jou verstaan.
Maak jou hart oop, sit terug op ’n rustige Sondagmiddag, en laat Leo se stem jou herinner aan wat regtig saak maak.

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
Webwerf: www.vonkmusiek.co.za