In die jaar waarin Afrikaans sy 100ste bestaansjaar vier, bring sangeres en liedjieskrywer Mari Bosman ’n diep emosionele huldeblyk aan haar moedertaal met die kragtige nuwe enkelsnit “Roepstem”. Dié lied is nie net ’n musikale viering van Afrikaans nie, maar ook ’n persoonlike verklaring van liefde, erfenis, en trots.
“Afrikaans is vir my dié mooiste taal ter wêreld,” sê Mari. “Daar is geen ander taal waarin ’n mens jouself so mooi kan uitdruk nie. ‘Roepstem’ is my liefdesbrief aan Afrikaans – ’n taal wat ek wil help bewaar en laat voortleef.”
Met lirieke soos “dis my stem, dit is my hartklop wat jy hoor” en “ek sal veg, jy sal my hoor”, roep die lied herinneringe op aan generasies wat hul taal moes beskerm en laat voortbestaan. Dit is juis hierdie temas van trots, stryd en kultuurerfenis wat die lied laat resoneer – nie net onder ouer generasies nie, maar ook onder jong luisteraars wat dalk hul eie plek in die taalgemeenskap soek.
“Ek hoop dat jong Afrikaanse mense hul taalgebruik met trots sal begin koester. Afrikaans is opwindend, nostalgies, en vol karakter – en dit verdien om soos goud bewaar te word.”
“Roepstem” is in samewerking met Tertius Human vervaardig, met bykomende kreatiewe insette van Riaan Steyn. ’n Seunskoor van ’n hoërskool in die Paarl lewer die indrukwekkende agtergrondkoor, wat die lied ’n ware “hoendervleis” gevoel gee. Die keuse van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl en die Voortrekker Monument in Pretoria as verfilmingstonele vir die musiekvideo, beklemtoon verder die geskiedkundige en emosionele waarde van die lied.
“Ek het in ’n rooi rok gespring en my hart uit gesing,” vertel Mari oor die verfilming van die musiekvideo. “Ek wou hê mense moes die trots, die erns, én die passie vir Afrikaans in elke raam beleef.”
“Roepstem” vorm deel van Mari se persoonlike missie om musiek te skep wat iets dieper aanspreek – liedjies wat mense aanraak, verenig, en inspireer.
“Ons as kunstenaars het ’n verantwoordelikheid om ons stemme te gebruik vir iets groter as onsself. ‘Roepstem’ is my bydrae tot die bewaring van ons taal – en hopelik sal dit nog oor 100 jaar gesing word.” “Roepstem” is vanaf 30 Mei 2025 beskikbaar op alle digitale platforms en die musiekvideo kan op Vonk Musiek se amptelike YouTube-kanaal gekyk word.
https://www.youtube.com/watch?v=uELMAm_i6G8 Facebook Tiktok Instagram
PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
Webwerf: www.vonkmusiek.co.za