Na 18 jaar op Suid-Afrika se dansvloere en in die harte van sokkieliefhebbers, het Ray Dylan besluit om sy ikoniese treffer “Hokaai Stoppie Lorrie” ’n splinternuwe klank te gee — en dis rock n roll soos net Ray dit kan doen.
“As hierdie song ’n partytjie kon wees in lewende lywe, wow man,” lag Ray. “Ek sien net kampvuur, kitare, defnitief dans om die kampvuur en ’n ys koue biertjie.” Hierdie beeld som perfek op wat hy met die heruitreiking van die liedjie wil bereik: ’n herlewing van daardie nostalgiese partytjievibes met ’n moderne klank.
Die oorspronklike weergawe van “Hokaai Stoppie Lorrie” het vinnig een van Ray Dylan se “flagships” geword – ’n lied wat mense onmiddellik assosieer met sokkies, sonsondergange en daardie onvergeetlike girl van gisteraand. Nou, met sy live band, vars produksie en kragtige kitaarwerk, het hy die lorrie weer aangesluit vir ’n nuwe generasie.
“Dis kitare, dis rock n roll, dis my live band – ek dink die lorrie gaan vir baie jare nog nie stop nie,” sê Ray met ’n glinster in die oog.
Die nuwe weergawe behou steeds die geliefde lirieke wat aanhangers oor die jare uit hulle koppe uit ken:
“Gistraand se party is oor en uit / Die son begin oor die berge kruip / En die wiele draai – ja, die wiele draai…”
“Hokaai stoppie lorrie, dis hier waar ek vanaand wil bly / Hokaai stoppie lorrie, bring al jou pelle saam / Ons gaan dans dat die stof so staan…”
Maar Ray gee dit nou ’n nuwe klankbaadjie – een wat die dansvloere weer sal laat bewe. “Ons het nuwe sounds wat ons moet toets, en trek hom ’n nuwe baadjie aan. Ons gee hom ’n nuwe spin op die dansvloer,” sê hy.
Vir Ray is “Hokaai Stoppie Lorrie” meer as net ’n lied – dis ’n gevoel, ’n herinnering, en nou, met sy heruitreiking, ’n uitnodiging. “Maak nie saak wie jy is nie – as jy die song vir die eerste keer hoor, maak jouself gereed vir ’n groot party. Lekker dans, lekker vas-sokkie, lekker sweet op die voorkop… want ons gaan rock.”
So, sit daai bottel op ys, stof die dansskoene af en kry jou pelle bymekaar — Ray Dylan se “Hokaai Stoppie Lorrie” is terug, groter en beter as ooit. En die wiele? Hulle draai weer… of hoe?

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za
PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
Webwerf: www.vonkmusiek.co.za