Vonk Musiek

NUUS

HENDRÉ BAARD BEGIN SOLO-LOOPBAAN MET “MET JOU HIER” – ’N REIS DEUR LEWE, LIEFDE EN AFSTAND

Die talentvolle sanger en liedjieskrywer Hendré Baard meer bekend as die voorsanger van die geliefde rock-groep Millennium het sy solo-loopbaan afgeskop met die kragtige nuwe enkelsnit “Met Jou Hier” – ’n eerlike en ontroerende lied wat oor die waarheid van lewe, liefde, en foute handel. 

In “Met Jou Hier” bied Baard ’n stukkie van homself, hy gebruik sy lirieke om sy reis van jeug, verlossing en die rol wat geliefdes in sy lewe speel te beskryf. Die lied vang die emosies van saam met iemand spesiaal wees vas en weerspieël die idee dat die lewe, al is dit soms chaoties en onvolmaak, steeds die moeite werd is.

Baard hoop dat sy aanhangers hulself in die lirieke van “Met Jou Hier” sal herken en dat die lied sal aanmoedig om in die hede saam met hul geliefdes te leef en die lewe in al sy fasette te waardeer. Met ’n stylvolle klank en egtheid in sy lirieke, is “Met Jou Hier” ’n treffende toevoeging tot Hendré se groeiende musiekrepertoire.

Baard hoop dat “Met Jou Hier” die mense sal  inspireer om vreugde te vind in saamwees en om die lewe saam met hul geliefdes ten volle te geniet.

Die oorsprong van “Met Jou Hier” lê langs die kalm see van Jongensfontein, waar Hendré die liedjie geskryf het. “Ek wou iets skep waarmee mense kan vereenselwig – veral diegene wie se geliefdes ver weg is,” sê hy. “Fred Den Hartog se unieke bydrae het die klank van hierdie snit uitgelig en dit onderskei van my vorige werk.” Hoewel die produksieproses glad verloop het, moes Baard ’n paar aanpassings maak, insluitend om die lied effens te verkort en woorde uit te haal om die kernboodskap sterker te laat deurkom.

“Met Jou Hier” is vir Hendré meer as net ’n liedjie; dit is ‘n refleksie van sy persoonlike groei as kunstenaar en sy waardering vir die lewe – foute ingesluit. “Ek leer uit my foute, en soms moet mens vasbyt en ander kere moet jy laat gaan. Maar die lewe bly lekker, veral vir mense soos ek… met jou hier,” sê hy.

“Met Jou Hier” is die eerste enkelsnit van ’n volledige album, Baard se aanhangers kan met opgewondenheid uitsien na ‘n volle album wat oppad is. Hierdie album beloof om diep en lewensgetrou te wees en om luisteraars aan te moedig om saam met Hendre te geniet en oor die vreugdes en uitdagings van die lewe te besin.Hou dop vir “Met Jou Hier” op alle musiekplatforms, en maak gereed om saam te sing, te dans, en die dieper waarhede van die lewe saam met Hendre Baard te vier.

Send this to a friend