Die geliefde Afrikaanse sanger Dozi is trots om sy nuutste enkelsnit, “Mooier As Die Donderweer,” op 14 Junie 2024 vry te stel. Die liedjie sal op alle digitale platforms beskikbaar wees.
Die liedjie vertel die storie van ‘n boer wat sukkel op sy plaas en sy verlange na sy geliefde vreet hom op, sy is vir hom “Mooier As Die Donderweer”. Dozi verduidelik dat hierdie tema op ‘n humoristiese en ligte manier uitgebeeld word. Die vergelyking van die geliefde met die donderweer is dood eenvoudig dat daar vir hom niks mooier is as die donderweer nie.
“Mooier As Die Donderweer” is ‘n ligter liedjie wat Dozi sien as ‘n soortgelyke toon en gevoel as “Ou Ryperd” en “Maybe My Baby,” maar met ‘n unieke boere twist. Dozi en Piet Planter het saam aan die liedjie geskryf, geïnspireer deur ‘n verlange na iemand wat hulle albei ken. “Daar is maar altyd ‘n ligter liedjie wat tussen die diep liedjies deur skemer,” verduidelik Dozi.
Dozi beklemtoon dat nie elke liedjie ‘n diep boodskap hoef oor te dra nie. “Dit is nie altyd die doel om mense op ‘n ander pad te vat nie,” sê hy. “As jy die liedjie hoor, sal jy wil dans, en as jy klaar gedans het en sit en luister na die woorde, hoop ek jy kan die boer sien in jou geestes oog, wat hom dood sukkel en na sy geliefde verlang.”
“Mooier As Die Donderweer” is nou beskikbaar op alle digitale platforms, en beloof om ‘n treffer te wees onder Dozi se aanhangers. Met hierdie nuwe enkelsnit versterk Dozi sy plek as een van die mees geliefde Afrikaanse kunstenaars in die land.
Met die vrystelling van “Mooier As Die Donderweer,” bring Dozi weereens ‘n lied wat luisteraars sal laat glimlag, dans, en die eenvoudige, maar intense emosies van verlange en humor waardeer.