Die energieke en geliefde Afrikaanse sanger en storieverteller Armand Steenkamp is terug met ’n splinternuwe enkelsnit vol karakter, kuier-genot en hartlike humor. Sy nuutste vrystelling, “Woeste Manne van Worcester,” is, 16 Mei 2025, vrygestel op alle digitale platforms – saam met ’n eg Suid-Afrikaanse musiekvideo wat reeds die harte van aanhangers verower het.
Die inspirasie agter die lied spruit uit ’n visvangtrip wat Armand se vriend, Tiennie, saam met ’n groep vriende in Terracebaai onderneem het. Hoewel Armand self nie op daardie spesifieke wegbreek was nie, het die foto’s, stories en herinneringe daarvan diep bly lê – en uiteindelik het die liedjie homself agter die stuur van Armand se bakkie kom opdis.
“Ek dink toe – dít is een van daai tipe trips waarheen ’n mens net moes saamgaan,” sê Armand. “Daai gedagte het my nie weer losgelaat nie.”
Die lied vertel op humoristiese wyse van ’n klomp regte vriende – met hul regte byname soos Gommie, Tiennie en ander – wat saam die lekker van die lewe proe. Die bus met visstokke op die neus en wyn in die trailer is net een van die kleurvolle beelde wat hierdie storie laat leef.
“Ek skryf oor dit wat vir my genot bring – vriende, visvang, jag, kuier en natuurlik… lag,” verduidelik Armand. “My musiek is vol stories, en dié lied is ’n ode aan broederskap en die lekker dinge in die lewe.”
Die musiekvideo, waarin van die oorspronklike manne self verskyn, is met groot verwagting ontvang en weerspieël die gees van egtheid wat Armand se werk so uniek maak. Alhoewel die wêreld soms swaar voel, is sy doel duidelik:
“Die wêreld is donker genoeg – as ek iemand kan laat lag of bietjie vreugde bring, dan het ek my werk gedoen.”
“Woeste Manne van Worcester” is nie net ’n jolige kuierlied nie – dit dra ’n dieper boodskap van dankbaarheid, vreugde en verbondenheid. Met nog nuwe musiek wat reeds in beplanning is – liedjies oor vriendskap en die eenvoudige lekker van die lewe – wys Armand dat sy hart en pen altyd in die regte plek.

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za
PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
Webwerf: www.vonkmusiek.co.za