Vonk Musiek

NUUS

Gian Groen se “Sonkring” skyn lig op liefde, hoop en genesing

Daar is liedjies wat jou laat dans, liedjies wat jou laat droom, en dan is daar liedjies soos “Sonkring” – ’n lied wat jou stil maak, jou laat luister, en jou herinner aan die lig wat selfs in die donkerste tye deurbreek. Gian Groen se jongste enkelsnit is nie net ’n musiekstuk nie, maar ’n hartstukkie van ’n man wat saam met sy gesin deur een van die moeilikste seisoene van hul lewens gestap het – en steeds hoop gekies het.

Met lirieke wat beeldskoon verweef is met emosie en simboliek, gee Gian eer aan die mense wat ’n verskil gemaak het toe hy en sy vrou, wat met borskanker gediagnoseer is, nie self die pad kon stap nie.

“Ek verwys na mense om ons wat ons dra deur moeilike tye. Mense wat ’n positiewe verskil maak in ons lewens,” sê Gian.

“By tye was dit die Sonkring wat ons gesin gedra het wanneer ’n magtelose gevoel ons oorweldig het.”

Die lied “Sonkring” is dus meer as net ’n metafoor – dis ’n liefdesbrief aan die kring van ligdraers wat ons herinner dat ons nie alleen is nie. Dit vang die siel vas van wat dit beteken om te glo in lig, selfs wanneer die nag lank en koud voel:

“Volg net die Sonkring, jou voete vind ‘n nuwe weg na buite.

Oral is daar Oos of Wes besluite.

Die Sonkring sal gou hier uit kan kry…”

Hierdie lied, getoonset in ‘n styl wat dromerig en introspektief begin maar ontwikkel in ’n euforiese, dansbare klank, het volgens Gian met ’n eenvoudige rympie in sy kop begin. Soos baie van sy musiek, het die lirieke homself geskryf soos die metafore en melodieë begin vorm aanneem het. Hoewel “Sonkring” as enkelsnit vrygestel is, is dit slegs die begin van iets groters:

“Hierdie metaforiese verwysing sal vir die res van my lewe blywend wees. Dus sal my volgende album definitief hierdie titel hê,” verklap Gian, en noem ook ’n moontlike vollengte film (Vier Seisoene Kind) meer besonderhede hieroor sal later bekend gemaak word

Die lied se verwerking is deur Anton L’Amour se kitaarwerk geinspireer en het ’n gevoel wat herinner aan Theuns Jordaan se styl – ’n gepaste huldeblyk aan ’n era van betekenisvolle ballades.

Wat hoop Gian luisteraars uit die lied neem?

“Mens hoef nie moeilike tye alleen aan te pak nie. Laat diegene om jou toe om jou van hulp te wees.”

“Dis letterlik ’n kring van vriende wat figuurlik sonlig was in donker tye.”

Met “Sonkring” bring Gian Groen nie net ’n nuwe klank na die Afrikaanse bedryf nie – hy bring ook ’n boodskap van lig, liefde, en die krag van gemeenskap. En dalk, as jy stil genoeg luister, hoor jy ook jou eie Sonkring – daardie mense wat jou help staan wanneer jy nie meer self kan nie…. Ubuntu.

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

Send this to a friend