Vonk Musiek

NUUS

DEON GROOT VIER 100 JAAR VAN AFRIKAANS MET ‘N UNIEKE KUIERLIED: DANS IN AFRIKAANS

2025 merk ‘n spesiale mylpaal vir ons moedertaal – Afrikaans vier sy 100ste bestaansjaar. En wat is ‘n beter manier om hierdie eeu van taal, kultuur en kuier te vier as met ‘n splinternuwe treffer van Deon Groot getiteld Dans in Afrikaans? Hierdie lied is nie net ‘n partytjietreffer nie – dit is ’n liefdesbrief aan Afrikaans, gesing met trots, humor en pure kuiergees.

Die inspirasie agter Dans in Afrikaans het ontstaan uit die behoefte om iets anders te doen – iets wat Afrikaans vier op ‘n vars manier. “Ons wou nie net bekende songs cover nie,” sê Deon. “Ons het eerder stukke van 32 moderne Afrikaanse liedjies geneem en dit saamgesmelt in een nuwe snit – ‘n storie van liefde vir Afrikaans, wat in ‘n splinternuwe styl vertel word.”

Hierdie benadering bring nie net nostalgie nie, maar wys ook hoe dinamies en lewendig Afrikaanse musiek kan wees.

“Klim in my bakkie, ons moet dorp toe gaan…”

Die eerste lyn van die lied vang jou onmiddellik – dis eg, plaaslik en propvol herinneringe. Deon onthou duidelik die aand toe daardie sin ontstaan het: “Ons het na ‘Dorp Toe’ van Fatman geluister oppad na ‘n kuier. Daardie aand, daardie vibe… dit is iets wat altyd by my sal bly.”

“Dit is jou mamma se taal”

Vir Deon is Afrikaans persoonlik – dit is die taal van sy ma, die taal van sy grootwordjare in Namakwaland, en die taal waarin hy musiek ontdek het. Die frase “Dans in Afrikaans, dit is jou mamma se taal” is ‘n ode aan sy ma en alles wat sy vir hom beteken het op sy musikale reis.

Deon se nuwe liedjie is propvol Afrikaanse kleur – van Skêr Kwagga en Appel se lemoene tot plaaspop – dis ’n nostalgiese reis deur plaaslike verwysings soos net hy dit kan doen.

In ware Deon Groot-styl is die lied propvol inside jokes, kultuurverwysings en karaktertjies soos Skêr Kwagga – ‘n knipoog na Afrikaanse films en stories. Dis meer as

net ‘n lied; dis ‘n kultuurstuk. “Ons vier nie net 100 jaar van Afrikaanse musiek nie – maar alles Afrikaans: flieks, sêgoed, stories, en natuurlik braai en brandewyn,” lag hy.

Die term “plaaspop” wat sterk in die koor uitstaan, beskryf die unieke styl van die lied: ’n mengsel van modern country, rock en bluegrass – iets nog nie voorheen in Afrikaans gehoor nie.

Met sterk ritmes, treffende lirieke en beelde van vuur op die water, witskoene wat brand, en glase wat volgemaak word, is Dans in Afrikaans bedoel om mense aan die beweeg te sit. “Ons wou hê alles moes beweeg – die kitare, lirieke, selfs die styl van die video,” sê Deon. Dit weerspieël ook hoe hy en sy band optree op die verhoog – energiek, opreg en altyd gereed vir ‘n jol.

Deon se raad aan jong Afrikaanse kunstenaars is eenvoudig maar kragtig: “Moet nooit ophou nie. Wees uniek. Leer, groei en bou aan jou drome.” Dit is dieselfde passie en vasberadenheid wat hom dryf om liedjies soos Dans in Afrikaans te skryf – liedjies wat nie net vermaak nie, maar ook inspireer.

“Hy’s die ou wat die partytjie aan die gang kry,” sê Deon met ‘n glimlag. “Daai laaste ou wat jy nooi, maar die een wat jy eerste wil hê. Want niemand hou van ‘n vervelige party nie!”

In een woord beskryf Deon die lied as trots – trots op Afrikaans, op kultuur, op herkoms en op wie ons is. Met Dans in Afrikaans bring hy ‘n viering van ons taal en ons mense, met energie, humor en hart.

Of jy nou op ‘n plaaspartytjie is, op ‘n dansvloer in die stad, of sommer net by ‘n kuier, een ding is seker: dis tyd om te dans in Afrikaans.

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

Send this to a friend