Tag: Deon Groot

  • DEON GROOT VIER 100 JAAR VAN AFRIKAANS MET ‘N UNIEKE KUIERLIED: DANS IN AFRIKAANS

    DEON GROOT VIER 100 JAAR VAN AFRIKAANS MET ‘N UNIEKE KUIERLIED: DANS IN AFRIKAANS

    2025 merk ‘n spesiale mylpaal vir ons moedertaal – Afrikaans vier sy 100ste bestaansjaar. En wat is ‘n beter manier om hierdie eeu van taal, kultuur en kuier te vier as met ‘n splinternuwe treffer van Deon Groot getiteld Dans in Afrikaans? Hierdie lied is nie net ‘n partytjietreffer nie – dit is ’n liefdesbrief aan Afrikaans, gesing met trots, humor en pure kuiergees.

    Die inspirasie agter Dans in Afrikaans het ontstaan uit die behoefte om iets anders te doen – iets wat Afrikaans vier op ‘n vars manier. “Ons wou nie net bekende songs cover nie,” sê Deon. “Ons het eerder stukke van 32 moderne Afrikaanse liedjies geneem en dit saamgesmelt in een nuwe snit – ‘n storie van liefde vir Afrikaans, wat in ‘n splinternuwe styl vertel word.”

    Hierdie benadering bring nie net nostalgie nie, maar wys ook hoe dinamies en lewendig Afrikaanse musiek kan wees.

    “Klim in my bakkie, ons moet dorp toe gaan…”

    Die eerste lyn van die lied vang jou onmiddellik – dis eg, plaaslik en propvol herinneringe. Deon onthou duidelik die aand toe daardie sin ontstaan het: “Ons het na ‘Dorp Toe’ van Fatman geluister oppad na ‘n kuier. Daardie aand, daardie vibe… dit is iets wat altyd by my sal bly.”

    “Dit is jou mamma se taal”

    Vir Deon is Afrikaans persoonlik – dit is die taal van sy ma, die taal van sy grootwordjare in Namakwaland, en die taal waarin hy musiek ontdek het. Die frase “Dans in Afrikaans, dit is jou mamma se taal” is ‘n ode aan sy ma en alles wat sy vir hom beteken het op sy musikale reis.

    Deon se nuwe liedjie is propvol Afrikaanse kleur – van Skêr Kwagga en Appel se lemoene tot plaaspop – dis ’n nostalgiese reis deur plaaslike verwysings soos net hy dit kan doen.

    In ware Deon Groot-styl is die lied propvol inside jokes, kultuurverwysings en karaktertjies soos Skêr Kwagga – ‘n knipoog na Afrikaanse films en stories. Dis meer as

    net ‘n lied; dis ‘n kultuurstuk. “Ons vier nie net 100 jaar van Afrikaanse musiek nie – maar alles Afrikaans: flieks, sêgoed, stories, en natuurlik braai en brandewyn,” lag hy.

    Die term “plaaspop” wat sterk in die koor uitstaan, beskryf die unieke styl van die lied: ’n mengsel van modern country, rock en bluegrass – iets nog nie voorheen in Afrikaans gehoor nie.

    Met sterk ritmes, treffende lirieke en beelde van vuur op die water, witskoene wat brand, en glase wat volgemaak word, is Dans in Afrikaans bedoel om mense aan die beweeg te sit. “Ons wou hê alles moes beweeg – die kitare, lirieke, selfs die styl van die video,” sê Deon. Dit weerspieël ook hoe hy en sy band optree op die verhoog – energiek, opreg en altyd gereed vir ‘n jol.

    Deon se raad aan jong Afrikaanse kunstenaars is eenvoudig maar kragtig: “Moet nooit ophou nie. Wees uniek. Leer, groei en bou aan jou drome.” Dit is dieselfde passie en vasberadenheid wat hom dryf om liedjies soos Dans in Afrikaans te skryf – liedjies wat nie net vermaak nie, maar ook inspireer.

    “Hy’s die ou wat die partytjie aan die gang kry,” sê Deon met ‘n glimlag. “Daai laaste ou wat jy nooi, maar die een wat jy eerste wil hê. Want niemand hou van ‘n vervelige party nie!”

    In een woord beskryf Deon die lied as trots – trots op Afrikaans, op kultuur, op herkoms en op wie ons is. Met Dans in Afrikaans bring hy ‘n viering van ons taal en ons mense, met energie, humor en hart.

    Of jy nou op ‘n plaaspartytjie is, op ‘n dansvloer in die stad, of sommer net by ‘n kuier, een ding is seker: dis tyd om te dans in Afrikaans.

    Facebook Tiktok Instagram

    PUBLISITEIT & BEMARKING :
    Vonk Musiek
    Ashley Du Toit
    Sel: 083 963 3055
    E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

    PLATEMAATSKAPPY :
    Vonk Musiek
    Francois Roux
    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

  • DEON GROOT ROER HARTE MET ‘PLEK IN MY HART’ – ‘N EMOSIONELE HULDEBLYK AAN LIEFDE EN VERLANGE

    DEON GROOT ROER HARTE MET ‘PLEK IN MY HART’ – ‘N EMOSIONELE HULDEBLYK AAN LIEFDE EN VERLANGE

    Deon Groot, wat nog altyd ‘n spesiale plek in ons harte gehad het met sy treffers soos “Die Een”, “O Lyfie”, “Wyn”, “Bietjie Liedjie”, “Ek Sweer” en vele meer, is terug met ‘n hoendervleis mooi liedjie wat defnitief diep emosies by sy aanhangers sal ontlok. “Plek in my Hart” is ‘n persoonlike, hartroerende liedjie wat die verlange en hoop uitbeeld wat ontstaan wanneer ‘n mens van ‘n geliefde geskei is.

    “Plek in my Hart” is vanuit die oogpunt van ‘n kunstenaar geskryf en is geïnspireer deur Deon se ervarings tydens ‘n toer na Kaapstad saam met sy vriend en produsent, Louwri. Terwyl hulle op pad was, het hulle die lirieke van hierdie liedjie geskryf, wat die gevoel van verlange en hoop vasvang wanneer ‘n mens altyd uit ‘n tas lewe en na jou geliefde verlang.

    “In sak en as, lewe uit my tas, klere opgevou om dit mooi te hou” is ‘n enkele frase wat die emosie van die liedjie vasvang. Die koor se lirieke, “Is daar plek vir my…want daar’s plek in my hart vir jou”, verwoord die hoop dat daar altyd ‘n plek in die hart van ‘n geliefde sal wees.

    Deon Groot beskryf die liedjie ook as ‘n huldeblyk aan die wyle Theuns Jordaan, wie se kitaarstyl en wysheid ‘n groot invloed op sy musiek gehad het. Deon het Theuns Jordaan in 2007 ontmoet by ‘n optrede in Hartbeespoort, waar Jordaan hom aangemoedig het om nooit op te gee nie en om hard te werk om sy drome te verwesenlik.

    In 2018 het Deon sy droom bewaarheid toe hy op dieselfde verhoog as Jordaan opgetree het by ‘n groot fees in die Wes-Kaap. Die ontmoeting het ‘n blywende indruk op Deon gemaak, en “Plek in my Hart” is sy manier om dankie te sê vir die inspirasie en leiding wat Jordaan aan hom gegee het. Deon en Louwrens Bezhuidenhout het die musiekstyl ontwikkel om die gevoel van Jordaan se klank vas te vang, met sterk kitaarspel en melodieë wat huldeblyk bring aan die wyle sanger.

    Deon Groot glo dat sterk lirieke en diep emosies dikwels in die musiekbedryf vergete raak. Hy hoop dat “Plek in my Hart” luisteraars sal inspireer om hul eie prentjies te skilder terwyl hulle na die liedjie luister en die verlange en hoop in hul eie lewens sal ervaar.

    “Plek in my Hart” sal vanaf 7 Februarie 2025 op alle digitale platforms beskikbaar wees.

    https://youtu.be/e-9Ahe1P1n4

    Facebook


    Tiktok


    Instagram

    PUBLISITEIT & BEMARKING :

    Vonk Musiek

    Ashley Du Toit

    Sel: 083 963 3055

    E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

    Kyra Grobler

    Sel: 072 107 0069

    E-pos: kyra@vonkmusiek.co.za

    E-pos: pr@vonkmusiek.co.za

    PLATEMAATSKAPPY :

    Vonk Musiek

    Francois Roux

    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160   

    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za

    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za