Willem is bekend daarvoor dat hy sy eie musiek skryf en het meer onlangs treffers soos Nikkels en die wyn, Knipmes Aand en Suid van Eden bekend gestel, maar vir hierdie album het hy op die werk van Suid-Afrika se liedjieboer Anton Goosen gesteun.
‘’Tydens my akoestiese vertonings sal ek so nou en dan ‘n paar Anton Goosen liedjies of ‘n medley speel, die mense sing altyd saam. Ek het gedink dat dit lekker sou wees om ‘n paar van my gunsteling Anton Goosen treffers op te neem en dit ‘n bietjie van ‘n moderne gevoel te gee,’’ vertel Willem.
Willem se verteenwoordigers het Anton Goosen gekontak en hy het sy toestemming gegee dat Willem sy liedjies kon opneem. ’’Ek is nie heilig oor my werk nie en sien dit as ‘n geweldige kompliment,’’ het Goosen vertel.
Dis ‘n liedjieboer-ding sluit in Willem se weergawes van, Blommetjie gedenk aan my, Byeboerwa, Geelperskereën, Pampoene op die dak, My Stellenbosch se nonnatjie roep my en Trompie.
Die album is vervaardig deur Tertius Human van CoolerBox Studios wie ook verantwoordelik is vir die nuwe verwerkings van die liedjies. ‘’Tertius het die kitare verander en die liedjies ‘n meer modern gevoel gegee en ek dink luisteraars sal regtig die ‘’kick’’ en ‘’base’’ geniet wat ons by gevoeg het,’’ vertel Willem.
Willem het met Goosen se musiek groot geword so elke ‘n liedjie het ‘n spesiale herrinnering herroep hy, veral Trompie.
‘’Op skool was ek in die koshuis en ek het die boeke daar begin lees en ek was mal daaroor. Ek het eers heelwat later die TV reeks en die flieks ontdek. Ek dink die storie het vir jong seuns geleer dat hulle leiers moet wees en as ek deur die liedjie dit kan regkry om een stoutgat seunskind aan Trompie voor te stel, sal dit vir my baie lekker wees,’’ het Willem gedeel.
Willem se span het natuurlik die voltooide album vir die oorspronklike liedjieboer gestuur om seker te maak dat dit sy goedkeuring dra. ‘’Ek hou baie daarvan. Dis ‘n vars aanslag,’’ het Goosen per telefoon gedeel.
Willem sien uit daar na om die album met sy aanhangers te deel en het gedeel dat hy intussen druk besig is met vertonings en om nuwe oorspronklike musiek te skryf.