‘’Musiek en sport is universiële tale en het die vermoë om mense bymekaar te bring. Ons is musikante, so ons moet ons musiek gebruik om ons boodskap daar buite te kry,’’ so sê Vrede se Francois Roux oor hul nuwe enkelsnit, Onskuld van ‘n kind.
Onskuld van ‘n kind is die folk duo se tweede Afrikaanse enkelsnit. Hul eerste Afrikaanse enkelsnit, Perspektief is goed ontvang op Radio en het selfs nommer een op Reputasie musiek se Afrikaanse Top 40 behaal.
Die Groep wat bestaan uit beste vriende, Francois Roux en Storm Opperman is al ‘n geruime tyd in alternatiewe sirkels bekend vir hul engelse projek waar hulle onder die naam The Stinging Rogers speel. The Stinging Rogers se enkelsnit, Borderline het ook uiters goed op radio gevaar en het selfs nommer een op Radio laeveld gehaal.
Vir hul Afrikaanse projek het Storm en Francois op die naam Vrede besluit. ‘’Ons sien baie mense het hierdie spesifieke idees oor hulle kuns. Hulle wil hierdie beeld uitstraal dat hulle oor niks omgee nie en dis koel, maar dit is nie wie ons is nie. Ons gee om veral oor wat ons deur ons lirieke daar buite sit en ons het nogal baie om te sê,’’ het Storm verduidelik.
Onskuld van ‘n kind se lirieke is deur Francois geskryf en is geïnspireer deur ‘n vrou wat ‘n groot impak op sy lewe gehad het. ‘’Ek is gebore in Parow en toe ek drie maande oud was het my ouers na ‘n huis in Welgemoed gaan kyk. Die huishulp Johanna het nog op die eiendom gebly en sy was dadelik verlief op my, so my ouers het haar gevra of sy sou aanbly na die koop,’’ het Francois vertel.
Johanna het vir 12 jaar by Francois se ouers gewerk en sy het hom baie met sy musiek gehelp. ‘’Sy het my altyd na kitaar lesse toe gevat en sy het die drukke wat die musiek onderwyser my geleer het gememoriseer en as ek in die week geoefen het, het sy my reg gehelp,’’ onthou hy.
Francois vertel dat Johanna ook in die kerk gesing het en dat sy hom leer sing het. ‘’Sy was my heel eerste “vocal coach” en sy het my oor die vingers getik as ek iets verkeerd gedoen het.’’
Francois het verduidelik dat hierdie oomblikke in sy gedagtes gespeel het terwyl hy die liedjie geskryf het. Johanna het onlangs haar stryd teen kanker verloor en Francois en sy ma het na Vredendal gereis om die begrafnis by te woon. Francois het ook tydens die diens gesing.
‘’Ons het besluit om die lied aan haar op te dra, want die belangrikste les wat sy agter gelaat het is liefde en ons het meer van dit nodig in die wêreld,’’ het Storm vertel. ‘In die lewe gaan baie dinge jou perspektief probeer verander, maar wanneer jy gebore word – die oomblik wat lig in donker verander het jy die vermoë om te kies wat reg en wat verkeerd is. Jy moet net in daardie onskuld van ‘n kind kan vashou, ‘’ het hy af gesluit.