Vonk Musiek

NUUS

 “PA, EK WIL ’N BOK WEES”: TINO, HENRU EN SCHWABIE RAAK DIEP MET HUL NOSTALGIESE HULDEBLYK AAN PA’S EN DROME

In ’n tyd waar musiek dikwels dieper temas aanraak as net klank, bring drie geliefde kunstenaars – Tino, Henru en Schwabie – ’n snit wat die hart tref en die oë laat water trek. Hul jongste samewerking, “Boktrui”, is meer as net ’n sportlied – dis ’n huldeblyk aan vaders, aan drome, en aan die onuitspreekbare band tussen ’n kind en sy held.

Die lied begin met die eenvoudige, tog kragtige woorde:
“ek was net ’n jong seun / speel alleen / Pa moet kom kyk”
– en van daardie eerste lyn af word luisteraars ingetrek in ’n wêreld van kinderjare, Saterdag-rugby en die soeke na aanvaarding.

“Vir my is daar baie van my persoonlike ervarings in die liedjie,” vertel Henru. “Ek het as kind ure lank in my Boktrui in die agterplaas gespeel en gemaak asof ek voor duisende mense ’n drie druk. Dis regtig iets wat uit ons harte gekom het.”

Henru en Schwabie se die idee van n”Bok-liedjie” het vroeg ontstaan tydens die beplanning van ’n nuwe album. “Ons het van die begin af geweet ons wil iets doen wat eg Suid-Afrikaans voel – iets wat mense laat onthou, laat droom.” Hulle wou dit graag met ‘n collaboration doen en het besluit Tino sal die perfekte persoon wees om die projek saam met hulle aan te pak.

Die kragtige refrein “Pa ek wil ’n bok wees / my seun jy was nog altyd” is die hartklop van die lied. Volgens Henru het die frase natuurlik ontstaan toe hulle geskryf het oor ’n kind wat droom om eendag op Loftus of Newlands te hardloop. “Dis iets wat jy as kind sê – amper sonder om te dink – en dit raak iets groter: dit gaan oor hoop, aanvaarding, trots.”

Vir hulle was dit belangrik om nie net ’n sportlied te skryf nie, maar iets wat ook emosie en erfenis vasvang. Hulle beskryf dit as “’n lied oor karakter, opoffering en trots in wie jy is en waar jy vandaan kom.”

Die lirieke neem ons terug na daardie eenvoudige, maar magiese oomblikke:
“ek speel in die tuin tot laat / ek hardloop met ’n spoed / ek druk hom in die hoek / en die skare raas”
– drome wat groot voel in ’n kind se wêreld, maar universeel resoneer.

Dis juis daardie soort herinneringe wat die kreatiewe proses aangevuur het. “Ek dink jou kinderlewe vorm ’n groot deel van jou denkwyse en besluite nou,” sê Schwabie. “Daardie tyd bly in jou – en dis waarom dit so kragtig is wanneer jy dit in musiek vasvang.”

Die snit het nie net ’n nostalgiese klank nie, maar ook ’n stadium-gevoel: met akoestiese kitaar, lewendige tromme en selfs elemente wat subtiel na die volkslied verwys, het die trio ’n klanklandskap geskep wat diep eg en eerlik voel. “Ons wou hê dit moet iets wees wat elke generasie saam kan sing,” sê Tino.

En ja, die lied raak aan identiteit ook – met die eenvoudige lyn:
“my seun jy was nog altyd”,
gee hulle ’n boodskap van aanvaarding, selfs al word jy nooit ’n Springbok op papier nie.

“Dis ’n groot eer om nou daardie rolmodel te wees,” sê Henru. “Ons het grootgeword met helde op die rugbyveld en pa’s wat saam met ons voor die TV gesit en droom het. Nou om self ’n stem van inspirasie vir jong kinders te wees, is werklik besonders.”

Hulle hoop die lied dra hoop – en die wete dat drome nie beperk is tot ’n rugbyveld nie. “As jy met hart speel, as jy hard werk en nooit moed opgee nie, is alles moontlik.”

“Boktrui” is nie net ’n lied vir rugbyliefhebbers nie – dis vir elkeen wat hul pa of oupa onthou voor die televisie op ’n Saterdag. Dis vir die kind wat droom. Dis vir die man wat self nou pa is. Dis vir almal wat weet hoe dit voel as die volkslied begin speel en jy daardie trui dra, al is dit net in jou hart.

PUBLISITEIT & BEMARKING :

Vonk Musiek

Ashley Du Toit

Sel: 083 963 3055

E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

 

PLATEMAATSKAPPY :

Vonk Musiek

Francois Roux

Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160   

E-pos : francois@vonkmusiek.co.za

Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

Send this to a friend