Marilyn Monroe is eens aangehaal, ‘’If you can’t handle me at my worst, you sure as hell don’t deserve me at my best.’’ Die is ‘n boodskap wat dwars deur nuweling, Zoé se debuut enkelsnit, Crazy Meisie weergalm. Crazy Meisie is ‘n kontemporêre snit wat pop en rock elemente saamsnoer en is deur Zoé geskryf as ‘n kreet om jong dames te herhinner dat hulle genoeg is.
Zoé het op ‘n plaas net buite Tzaneen groot geword en het van kleins af ‘n liefde vir musiek gehad. ‘’My ma-hulle vertel altyd nog voor ek kon praat het ek alles gesing en ek het altyd my eie liedjies opgemaak. My sussie het my betrokke gemaak met kultuur en danksy haar sing en dans ek my hele lewe lank al,’’ vertel sy.
Behalwe vir hoërskool serenade en om hier en daar na bands te gaan luister in iemand se motorhuis was daar nie veel geleenthede om haar passie vir musiek uit te leef nie, so Zoé het begin kuns gee by Hoërskool Ben Voster terwyl sy vir haar onderwys graad studeer het. ‘’Ek het vir die Kontrak ingeskryf, maar ek het dit net tot by die top 10 gemaak en aanvaar dat dit ‘n teken was.’’
Zoé het weer haar pos ingeneem by die skool, maar ‘n vreemde samevoering van gebeure sou sorg vir ‘n teken dat ‘n loopbaan in musiek wel vir haar bedoel is. Sy het as ‘n grap die woorde van ‘n Rainbow Kitten Surprise liedjie in Afrikaans oorgeskryf. Sy en ‘n vriendin het dit opgeneem en dit vir haar kuns onderwyser aangestuur om haar opinie te kry. Haar kuns juffrou het dit vir haar skoondogter aangestuur wie by ‘n TV produksie maatskappy werk wat kantore met ‘n platemaatskappy deel en toe gebeur die onverwagse.’’
‘’Ek was besig om klas te gee en toe lui my foon. Ek het nie die nommer herken nie en maar besluit om te antwoord. Die volgende oomblik het iemand my genooi om met die eienaars van CoolerBox Records te ontmoet.’’ Zoé het versigtig opgewonde Johannesburg toe gery om ‘n audisie by die platemaatskappy af te lê. ‘’Ek het vir hulle die cover-liedjie gesing en hulle het my huis toe gestuur met huiswerk. Ek het huis toe gegaan en myself uitgedaag om drie liedjies te skryf en ‘n maand later het ek my tweede oudisie afgelê,’’ deel sy.
Zoé is ateljee toe en het aan die drie liedjies begin werk saam met musiekvervaardiger, Tertius Human en het haar 2Oste verjaarsdag saam met haar ma Louisa en Tertius in die ateljee gevier, terwyl sy Crazy meisie opgeneem het.
Zoé wie al haar liedjies self skryf meen dat, Crazy Meisie ‘n belangrike boodskap het. ‘’As ‘n vrou passievol is word sy maklik mal genoem, maar as ‘n man dieselfde optree, wel dis nie eers iets waaroor ek wil praat nie,’’ lag sy. ‘’Ek is jaloers, ek is impulsief en ek maak foute, maar as jy my nie met al my foute wil aanvaar nie moet jy my uitlos. Jy moet iemand aanvaar vir hulle goed en sleg,’’ vertel sy. Die liedjie sluit af met die lirieke; ‘’Daar’s iemand anders wat al beter pas in jou plek en dit is ek.’’ ‘n Boodskap wat Zoé hoop jong meisies ter harte sal neem. ‘’Die enigste persoon wie se goedkeuring jy nodig het is jou eie’’, het sy vertel.
Crazy Meisie, se musiekvideo is ook nou beskikbaar en was vir Zoé een van haar hoogtepunte ‘’Dit was ongelooflike harde werk, maar in die dieselfde asem was dit so vinnig verby. Ek voel so bevoorreg, want hierdie tipe ding gebeur nie met mense nie,’’ lag sy.
Zoé is reeds besig met nuwe musiek en intussen is sy en haar band besig om te oefen vir haar eerste vertonings. ‘’Ek sien geweldig uit na die volgende hoofstuk. Ek voel geseënd om saam met mense te werk, wat my toelaat om my kreatiwiteit uit te leef, wat my laat deel in die besluite en wie my toelaat om te eksperimenteer en nie in ‘n boksie probeer druk nie. Vrouens is kompleks, ons wil nie een ding wees nie, ons wil alles wees,’’ sluit sy af.
Crazy Meisie is nou beskikbaar op alle digitale platforms.