Tag: Zoe

  • ZOÉ KAP TERUG IN NUWE ENKELSNIT

    ZOÉ KAP TERUG IN NUWE ENKELSNIT

    Zoé se nuwe enkelsnit, Insecure Meisies, gee ’n stem aan die dinge waaroor baie jongmense stilbly — boeliegedrag, selfbeeldkwessie en die druk om in te pas.

    ‘’Insecure Meisies” het vir Zoé aanlyn bekend gemaak — met meer as 268 000 kyke op TikTok en duisende gebruikers wat hul eie stories met die oorspronklike klank deel. Die liedjie het intussen ’n beweging geword. Vir Zoé voel dit soos haar “eerste smaakie van sukses”, maar die blywende impak lê nie in sosiale media-statistieke nie — dit lê in die rou eerlikheid van haar lirieke en die moed om pynlike waarhede te verwoord.

    Die sukses van Insecure Meisies is iets wat Zoé nooit kon voorspel of beplan het nie. Sy plaas liedjies dieselfde dag wat sy dit skryf op TikTok om te toets hoe mense gaan reageer — en Insecure Meisies het dadelik ontplof. Sy sê met verbasing: “Duidelik is hierdie nie een wat net ek gaan hoor nie!”

    Zoé se inspirasie vir die lied kom uit haar eie pynlike ervarings met boeliegedrag in haar kinderjare — van kommentaar oor haar gewig tot haar sproete en ore. “Ek kan nie bullies verdra nie,” sê sy reguit. “As mense tyd en energie uit hul dag wil vat om ander af te breek, sê dit meer van húlle karakter as van joune.” Hierdie ervaring het haar gevorm as kunstenaar en iemand wat vasbeslote is om ander se selfwaarde te beskerm.

    Die kernboodskap van “Insecure Meisies” is duidelik: Jou waarde word nie bepaal deur wat ander mense van jou dink nie. Met lirieke soos “Insecure meisies wil jou sleg laat voel,” herinner Zoé luisteraars daaraan dat jaloesie en onsekerheid dikwels die wortel van afknouery is. Sy vertel hoe haar ma haar geleer het om daardie gedrag vir wat dit regtig is te sien — ’n weerspieëling van die ander persoon se eie stryd, nie van jou waarde nie.

    Zoé is nog lank nie klaar met Insecure Meisies nie. Sy het ’n groter droom: om die lied die beginpunt van ’n anti-boelieveldtog te maak. Sy wil met jong meisies en seuns gesels oor selfbeeld, boeliegedrag en die druk om in te pas, wat nie weggaan as jy groot is nie.

    Deur haar musiek gee Zoé woorde aan emosies waarmee talle jongmense sukkel. “Dit voel fantasties en vreesaanjaend tersefdetyd,” sê sy. Sy onthou hoe musiek haar deur moeilike tye gedra het — nou wil sy dieselfde vir ander doen. “Ek is niks sonder die mense wat my ondersteun nie,” sê sy, dankbaar. “Julle maak hierdie klein dorpie-meisie se drome waar.”

    Haar raad aan ander jong mense is eenvoudig: “Hou op om jouself te probeer verduidelik aan mense wat nie wil verstaan nie. Dis beter om geen vriende te hê as om vriende te hê wat jy nie kan vertrou nie.” Sy glo dat ware vriendskap jou ligter maak — nie swaarder nie.

    Wanneer sy terugkyk na haar tienerjare, sê Zoé: “Ek wens ek kon vir haar sê hoe cool en talentvol sy is.” In ’n wêreld vol filters en sosiale druk, is Zoé se stem ’n eerlike en opregte een. Insecure Meisies wys dat daar krag in kwesbaarheid krag is.

    Facebook Tiktok Instagram

    PUBLISITEIT & BEMARKING :

    Vonk Musiek

    Ashley Du Toit

    Sel: 083 963 3055

    E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

     

    PLATEMAATSKAPPY :

    Vonk Musiek

    Francois Roux

    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160   

    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za

    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

  • Zoé ry die “Golwe” van Selfontdekking in Haar Nuutste enkelsnit

    Zoé ry die “Golwe” van Selfontdekking in Haar Nuutste enkelsnit

    Met haar splinternuwe enkelsnit Golwe neem Zoé haar luisteraars op ‘n eerlike en persoonlike reis van selfontdekking en verandering. Golwe simboliseer vryheid, ‘n nuwe begin en die uitdagings wat gepaard gaan met groot lewensveranderinge. Golwe is nie net ‘n afskeid van haar tuisdorp, Tzaneen, om ‘n musiekloopbaan in die stad n ate jaag nie – dit is ook haar reis om haar eie pad as kunstenaar en jong volwassene in ‘n onbekende wêreld te vind.

    Zoé se vorige werke – Liefhê, Crazy Meisie en Klein Dorpie Mentaliteit (saam met Zaan Sonnekus) – het ‘n trilogie gevorm oor hartseer en die letsels wat liefde soms nalaat. Maar met Golwe los sy nie net haar tuisdorp agter nie; sy los ook daardie seer agter en tree sy ‘n nuwe fase van selfontdekking binne.

    “Hierdie liedjie gaan oor meer as net ‘n fisiese verhuising,” verduidelik Zoé. “Dit is ‘n sielkundige verskuiwing – ek los die ou ek, die seer en die verlede agter en stap met oop arms die onbekende binne.”

    Golwe is eerlik en diep persoonlik. Golwe verwoord die mengsel van opwinding en onsekerheid wat gepaard gaan met die besluit om ‘n bekende lewe agter te laat en ‘n nuwe hoofstuk te begin. “Die liedjie gaan oor die ervaring van wegtrek van die huis af, na ‘n nuwe plek waar jy net jouself kan wees. Dit gaan oor die nuwe ervarings wat mens opdoen as jy vir die eerste keer op jou eie moet bly.”

    Vir Zoé was hierdie verandering uitdagend en bevrydend. “Ek het alles wat ek my hele lewe lank geken het gelos om stad toe te trek en my drome na te jaag. Dit is skrikwekkend, maar terselfdertyd ook ‘n ongelooflik verrykende ervaring.” Hierdie gevoel van sprong en verkenning kom sterk na vore in die reël: “My sak is klaar gepak, reis met hoë hoop en sonbrille aan.”

    In die liriek “Verken my guitar, ontdek die dinge wat ‘n pen kan doen,” reflekteer Zoe op hoe musiek en skryf haar help om haarself beter te verstaan. “Hierdie liedjie het my die vrymoedigheid gegee om oor nuwe onderwerpe te skryf. Skryf is ‘n vorm van terapie vir my, en ek doen dit amper elke dag om my emosies te verwerk.”

    Zoé gebruik ‘n treffende vergelyking in die reël: “Het geleer, die lewe ontvou soos ‘n kunswerk.” Sy verduidelik: “Wanneer jy te naby aan ‘n skildery staan, kan jy op die klein, onvolmaakte detail vaskyk. Maar as jy ‘n paar tree terugstaan, sien jy die groter prentjie en verstaan hoekom sekere merkies en vlekke daar moet wees.”

    Die beeld van ‘n sikloon in die reël “So spoel my skoon, eks in die middel van ‘n sikloon” is vir haar ‘n metafoor vir die uitdagings wat sy moes trotseer.  “Ek moes my instink volg

    om uit daardie sikloon te kom. Soms moet jy nie luister na wat ander sê nie, maar net doen wat jy weet reg is vir jouself.”

    Van kleintyd af het Zoé geweet dat musiek haar passie is. “Ek het ‘n doel gekry,” sing sy in Golwe, en sy verduidelik dat sy uiteindelik seker is oor haar pad. “Ek moes eers myself verloor in loopbane wat my nie vervul het nie, om te besef dat sang en musiek regtig my roeping is.”

    Met Golwe hoop Zoé om ander te inspireer wat hul eie reis van selfontdekking aanpak. “Ek preek altyd dat mens groot moet droom en hard moet werk. Ek hoop hierdie liedjie help ander om die reis te waardeer en te onthou dat daar lig aan die einde van elke tonnel is.”

    Met Golwe, begin Zoé nie net op ‘n skoon bkadsy nie – sy skryf ‘n hele nuwe hoofstuk.

    Facebook Tiktok Instagram

    PUBLISITEIT & BEMARKING :

    Vonk Musiek

    Ashley Du Toit

    Sel: 083 963 3055

    E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

     

    PLATEMAATSKAPPY :

    Vonk Musiek

    Francois Roux

    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160   

    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za

    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za