Tag: Vonk Musiek

  • ARMAND STEENKAMP SE NUWE ENKELSNIT “WOESTE MANNE VAN WORCESTER” VIER VRIENDE, VISVANG EN VREUGDE

    ARMAND STEENKAMP SE NUWE ENKELSNIT “WOESTE MANNE VAN WORCESTER” VIER VRIENDE, VISVANG EN VREUGDE

    Die energieke en geliefde Afrikaanse sanger en storieverteller Armand Steenkamp is terug met ’n splinternuwe enkelsnit vol karakter, kuier-genot en hartlike humor. Sy nuutste vrystelling, “Woeste Manne van Worcester,” is, 16 Mei 2025, vrygestel op alle digitale platforms – saam met ’n eg Suid-Afrikaanse musiekvideo wat reeds die harte van aanhangers verower het.

    Die inspirasie agter die lied spruit uit ’n visvangtrip wat Armand se vriend, Tiennie, saam met ’n groep vriende in Terracebaai onderneem het. Hoewel Armand self nie op daardie spesifieke wegbreek was nie, het die foto’s, stories en herinneringe daarvan diep bly lê – en uiteindelik het die liedjie homself agter die stuur van Armand se bakkie kom opdis.

    “Ek dink toe – dít is een van daai tipe trips waarheen ’n mens net moes saamgaan,” sê Armand. “Daai gedagte het my nie weer losgelaat nie.”

    Die lied vertel op humoristiese wyse van ’n klomp regte vriende – met hul regte byname soos Gommie, Tiennie en ander – wat saam die lekker van die lewe proe. Die bus met visstokke op die neus en wyn in die trailer is net een van die kleurvolle beelde wat hierdie storie laat leef.

    “Ek skryf oor dit wat vir my genot bring – vriende, visvang, jag, kuier en natuurlik… lag,” verduidelik Armand. “My musiek is vol stories, en dié lied is ’n ode aan broederskap en die lekker dinge in die lewe.”

    Die musiekvideo, waarin van die oorspronklike manne self verskyn, is met groot verwagting ontvang en weerspieël die gees van egtheid wat Armand se werk so uniek maak. Alhoewel die wêreld soms swaar voel, is sy doel duidelik:

    “Die wêreld is donker genoeg – as ek iemand kan laat lag of bietjie vreugde bring, dan het ek my werk gedoen.”

    “Woeste Manne van Worcester” is nie net ’n jolige kuierlied nie – dit dra ’n dieper boodskap van dankbaarheid, vreugde en verbondenheid. Met nog nuwe musiek wat reeds in beplanning is – liedjies oor vriendskap en die eenvoudige lekker van die lewe – wys Armand dat sy hart en pen altyd in die regte plek.

    Facebook Tiktok Instagram

    PUBLISITEIT & BEMARKING :

    Vonk Musiek

    Ashley Du Toit

    Sel: 083 963 3055

    E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

     

     

    PLATEMAATSKAPPY :

    Vonk Musiek

    Francois Roux

    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160   

    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za

    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

  • Gian Groen se “Sonkring” skyn lig op liefde, hoop en genesing

    Gian Groen se “Sonkring” skyn lig op liefde, hoop en genesing

    Daar is liedjies wat jou laat dans, liedjies wat jou laat droom, en dan is daar liedjies soos “Sonkring” – ’n lied wat jou stil maak, jou laat luister, en jou herinner aan die lig wat selfs in die donkerste tye deurbreek. Gian Groen se jongste enkelsnit is nie net ’n musiekstuk nie, maar ’n hartstukkie van ’n man wat saam met sy gesin deur een van die moeilikste seisoene van hul lewens gestap het – en steeds hoop gekies het.

    Met lirieke wat beeldskoon verweef is met emosie en simboliek, gee Gian eer aan die mense wat ’n verskil gemaak het toe hy en sy vrou, wat met borskanker gediagnoseer is, nie self die pad kon stap nie.

    “Ek verwys na mense om ons wat ons dra deur moeilike tye. Mense wat ’n positiewe verskil maak in ons lewens,” sê Gian.

    “By tye was dit die Sonkring wat ons gesin gedra het wanneer ’n magtelose gevoel ons oorweldig het.”

    Die lied “Sonkring” is dus meer as net ’n metafoor – dis ’n liefdesbrief aan die kring van ligdraers wat ons herinner dat ons nie alleen is nie. Dit vang die siel vas van wat dit beteken om te glo in lig, selfs wanneer die nag lank en koud voel:

    “Volg net die Sonkring, jou voete vind ‘n nuwe weg na buite.

    Oral is daar Oos of Wes besluite.

    Die Sonkring sal gou hier uit kan kry…”

    Hierdie lied, getoonset in ‘n styl wat dromerig en introspektief begin maar ontwikkel in ’n euforiese, dansbare klank, het volgens Gian met ’n eenvoudige rympie in sy kop begin. Soos baie van sy musiek, het die lirieke homself geskryf soos die metafore en melodieë begin vorm aanneem het. Hoewel “Sonkring” as enkelsnit vrygestel is, is dit slegs die begin van iets groters:

    “Hierdie metaforiese verwysing sal vir die res van my lewe blywend wees. Dus sal my volgende album definitief hierdie titel hê,” verklap Gian, en noem ook ’n moontlike vollengte film (Vier Seisoene Kind) meer besonderhede hieroor sal later bekend gemaak word

    Die lied se verwerking is deur Anton L’Amour se kitaarwerk geinspireer en het ’n gevoel wat herinner aan Theuns Jordaan se styl – ’n gepaste huldeblyk aan ’n era van betekenisvolle ballades.

    Wat hoop Gian luisteraars uit die lied neem?

    “Mens hoef nie moeilike tye alleen aan te pak nie. Laat diegene om jou toe om jou van hulp te wees.”

    “Dis letterlik ’n kring van vriende wat figuurlik sonlig was in donker tye.”

    Met “Sonkring” bring Gian Groen nie net ’n nuwe klank na die Afrikaanse bedryf nie – hy bring ook ’n boodskap van lig, liefde, en die krag van gemeenskap. En dalk, as jy stil genoeg luister, hoor jy ook jou eie Sonkring – daardie mense wat jou help staan wanneer jy nie meer self kan nie…. Ubuntu.

    Facebook Tiktok Instagram

    PUBLISITEIT & BEMARKING :
    Vonk Musiek
    Ashley Du Toit
    Sel: 083 963 3055
    E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

    PLATEMAATSKAPPY :
    Vonk Musiek
    Francois Roux
    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

  • “WYNGEWERE” – ’N LIED VAN BROEDERSKAP, JAG EN DIEP MENSWEES DEUR AMPIE

    “WYNGEWERE” – ’N LIED VAN BROEDERSKAP, JAG EN DIEP MENSWEES DEUR AMPIE

    Deur die lens van kampvure, boslig en vriendskap bring Ampie sy jongste enkelsnit, “Wyngewere”, as ’n nostalgiese huldeblyk aan jagvriende, gedeelde stories en die stilte van die natuur.

    In die bos waar die sterre blink… só begin Ampie se nuwe lied “Wyngewere” – ’n lied wat nie net die geur van bos en rook in die lug laat hang nie, maar ook die klank van ’n diep sielsverbintenis tussen vriende wat jag en kuier deel. Ampie deel met ons die storie  agter die snit – ’n storie van herinneringe, lag, stilte, lojaliteit, en ja – wyngewere.

    “Ek dink mens vergeet in vandag se lewe om op te kyk,” sê Ampie. “In die bos moet ek myself keer op keer herinner om op te kyk – dis ironies hoe ons die mooiste dele van die lewe miskyk.” Hierdie besef vorm die emosionele kern van “Wyngewere”, wat die natuurlike wêreld as ’n ruimte van genesing en sielsherstel vier.

    Die titel van die lied is nie sommer lukraak gekies nie. “Ons het ’n jaggroep, ‘Die Wyngewere’,” verduidelik hy. “Agt manne, almal van verskillende agtergronde – dis ’n unieke mengsel van mense wat jy nie sou dink pas nie, maar dit werk.” Die term ‘wyngeweer’ word vir hom simbolies – ’n lidmaatskap aan ’n “elite” groepie vriende, verdien deur ervaring, lojaliteit en gedeelde oomblikke – ’n metaforiese kenteken van broederskap.

    “Lag op die einde van die dag is jag,” sê Ampie met ’n glimlag. In die refrein klink dit: “Met lag en stories in die nag se naam…” – en dit is duidelik dat storievertelling nie net ’n aktiwiteit is nie, maar ’n kultuur. “Sommige stories is so ongehoord, jy kan nie help as om dankbaar te wees vir die bietjie drama in jou lewe nie,” sê hy. Jag en kuier word ’n ruimte vir terapie, al is dit nie altyd bewustelik nie. “Vrouens dink dis altyd net ’n ‘gesuipery’,” lag hy, “maar daar gebeur baie meer geestelike dinge…”

    Hoewel die lirieke reeds ryk is aan beelde, het Ampie gekies om die klank van die natuur hoofsaaklik in die musiekvideo te verbeeld – die kampvuur, die stilte, die samehorigheid. “Daardie atmosfeer – dis nie iets wat jy kan fyn uitwerk in note nie, dis iets wat jy voel.”

    Hoewel hy homself as ’n “happy go lucky” mens beskryf wat nie van te veel beplanning hou nie, glo hy tog dat avontuur ’n belangrike rol speel in die mens se strewe na sin. “Ek dink meeste mense smag na avontuur – jy wag vir daardie vakansie, daardie uitstappie… dit is waar jy weer asemhaal.”

    Die einde van die lied is besonders kragtig: “Vriendskap wat ons bind, soos die vlamme dans…” – ’n treffende metafoor vir die onbreekbare band tussen manne wat sáám kampvuur deel. “Broederskap is ’n sterk woord,” sê Ampie ernstig. “En lojaliteit sal altyd een van die boonstes op my lysie bly.”

    Uiteindelik is daar nie net een herinnering rondom die vuur wat uitstaan nie. “Dis die gevoel,” sê Ampie. “’n Vuur het die vermoë om dankbaarheid te saai, ’n hart vrede te gee en ’n siel ’n tweede kans.” Dis ’n plek waar die lewe stadiger raak, waar stilte ’n taal word, en waar die siel weer tot rus kom.

    Facebook Tiktok Instagram

    PUBLISITEIT & BEMARKING :
    Vonk Musiek
    Ashley Du Toit
    Sel: 083 963 3055
    E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

    PLATEMAATSKAPPY :
    Vonk Musiek
    Francois Roux
    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

  • Christiaan Baartman laat liefde blom met nuwe lied: Somerblom

    Christiaan Baartman laat liefde blom met nuwe lied: Somerblom

    In ’n wêreld waar egte liefde soms skaars voel, bring Christiaan Baartman ’n warm en opregte herinnering aan die krag van liefde met sy jongste vrystelling, Somerblom. Dié nuwe enkelsnit is nie net ’n liefdeslied nie – dit is ’n huweliksgeskenk, ’n eerbetoon aan ’n sielsverhouding wat hom diep geraak het.

    Christiaan, wat bekend is vir sy groot hart en diepe verbondenheid aan sy mense, het Somerblom geskryf vir twee van sy naaste vriende, Analda Breedten en Francois Charl du Toit. “Hulle liefde het my eenvoudig geïnspireer,” vertel hy. “Dis daardie tipe liefde wat jou weer aan die mooi in die wêreld laat glo.”

    Die paartjie se verhouding dien as die anker vir die lied – ’n verhouding waarin daar ruimte is vir genesing, veiligheid, en die tipe vertroue wat storms kan weerstaan. Hierdie emosionele kern is duidelik in die lirieke van die lied:

    “Jy is my son, my somerblom / Jy is die reuk van die veld na die reën / Kom wat wil, kom wind, kom weer / Ek min jou innig, altyd my blom, my somerblom.“

    Wat die lied nóg meer spesiaal maak, is dat dit ook die handtekening van Leon Gropp dra. Christiaan het die lied aanvanklik geskryf, en Leon  het gevra of hy daaraan kan skaaf en dit fyn te slyp. Die samewerking tussen hierdie twee talentvolle kunstenaars het gelei tot ’n lied wat nie net liries sterk is nie, maar ook musikaal diep resoneer.

    Met beeldryke poësie en opregte emosie, vang Somerblom die essensie van ware liefde vas – liefde wat lig bring wanneer alles donker voel, liefde wat asem gee wanneer hoop skaars is.

    Die tweede vers en brug sluit die sirkel van die storie:

    “Jy is my huis, jy is my see / Ek sal in ’n oogwink, lief, my lewe gee.“

    Baartman se kenmerkende stem, in samewerking met Gropp se kreatiewe insig, gee aan die lied ‘n tydlose kwaliteit. Somerblom is ’n lied vir paartjies, vir dromers, en vir almal wat al ooit geglo het in die krag van liefde.

    Hierdie is nie net ’n nuwe lied vir Christiaan Baartman nie – dis ’n monument vir ’n liefde wat inspireer. ’n Somerblom, geplant in die hart van Afrikaanse musiek.

    Facebook Tiktok Instagram

    PUBLISITEIT & BEMARKING :
    Vonk Musiek
    Ashley Du Toit
    Sel: 083 963 3055
    E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

    PLATEMAATSKAPPY :
    Vonk Musiek
    Francois Roux
    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

  • DEON GROOT VIER 100 JAAR VAN AFRIKAANS MET ‘N UNIEKE KUIERLIED: DANS IN AFRIKAANS

    DEON GROOT VIER 100 JAAR VAN AFRIKAANS MET ‘N UNIEKE KUIERLIED: DANS IN AFRIKAANS

    2025 merk ‘n spesiale mylpaal vir ons moedertaal – Afrikaans vier sy 100ste bestaansjaar. En wat is ‘n beter manier om hierdie eeu van taal, kultuur en kuier te vier as met ‘n splinternuwe treffer van Deon Groot getiteld Dans in Afrikaans? Hierdie lied is nie net ‘n partytjietreffer nie – dit is ’n liefdesbrief aan Afrikaans, gesing met trots, humor en pure kuiergees.

    Die inspirasie agter Dans in Afrikaans het ontstaan uit die behoefte om iets anders te doen – iets wat Afrikaans vier op ‘n vars manier. “Ons wou nie net bekende songs cover nie,” sê Deon. “Ons het eerder stukke van 32 moderne Afrikaanse liedjies geneem en dit saamgesmelt in een nuwe snit – ‘n storie van liefde vir Afrikaans, wat in ‘n splinternuwe styl vertel word.”

    Hierdie benadering bring nie net nostalgie nie, maar wys ook hoe dinamies en lewendig Afrikaanse musiek kan wees.

    “Klim in my bakkie, ons moet dorp toe gaan…”

    Die eerste lyn van die lied vang jou onmiddellik – dis eg, plaaslik en propvol herinneringe. Deon onthou duidelik die aand toe daardie sin ontstaan het: “Ons het na ‘Dorp Toe’ van Fatman geluister oppad na ‘n kuier. Daardie aand, daardie vibe… dit is iets wat altyd by my sal bly.”

    “Dit is jou mamma se taal”

    Vir Deon is Afrikaans persoonlik – dit is die taal van sy ma, die taal van sy grootwordjare in Namakwaland, en die taal waarin hy musiek ontdek het. Die frase “Dans in Afrikaans, dit is jou mamma se taal” is ‘n ode aan sy ma en alles wat sy vir hom beteken het op sy musikale reis.

    Deon se nuwe liedjie is propvol Afrikaanse kleur – van Skêr Kwagga en Appel se lemoene tot plaaspop – dis ’n nostalgiese reis deur plaaslike verwysings soos net hy dit kan doen.

    In ware Deon Groot-styl is die lied propvol inside jokes, kultuurverwysings en karaktertjies soos Skêr Kwagga – ‘n knipoog na Afrikaanse films en stories. Dis meer as

    net ‘n lied; dis ‘n kultuurstuk. “Ons vier nie net 100 jaar van Afrikaanse musiek nie – maar alles Afrikaans: flieks, sêgoed, stories, en natuurlik braai en brandewyn,” lag hy.

    Die term “plaaspop” wat sterk in die koor uitstaan, beskryf die unieke styl van die lied: ’n mengsel van modern country, rock en bluegrass – iets nog nie voorheen in Afrikaans gehoor nie.

    Met sterk ritmes, treffende lirieke en beelde van vuur op die water, witskoene wat brand, en glase wat volgemaak word, is Dans in Afrikaans bedoel om mense aan die beweeg te sit. “Ons wou hê alles moes beweeg – die kitare, lirieke, selfs die styl van die video,” sê Deon. Dit weerspieël ook hoe hy en sy band optree op die verhoog – energiek, opreg en altyd gereed vir ‘n jol.

    Deon se raad aan jong Afrikaanse kunstenaars is eenvoudig maar kragtig: “Moet nooit ophou nie. Wees uniek. Leer, groei en bou aan jou drome.” Dit is dieselfde passie en vasberadenheid wat hom dryf om liedjies soos Dans in Afrikaans te skryf – liedjies wat nie net vermaak nie, maar ook inspireer.

    “Hy’s die ou wat die partytjie aan die gang kry,” sê Deon met ‘n glimlag. “Daai laaste ou wat jy nooi, maar die een wat jy eerste wil hê. Want niemand hou van ‘n vervelige party nie!”

    In een woord beskryf Deon die lied as trots – trots op Afrikaans, op kultuur, op herkoms en op wie ons is. Met Dans in Afrikaans bring hy ‘n viering van ons taal en ons mense, met energie, humor en hart.

    Of jy nou op ‘n plaaspartytjie is, op ‘n dansvloer in die stad, of sommer net by ‘n kuier, een ding is seker: dis tyd om te dans in Afrikaans.

    Facebook Tiktok Instagram

    PUBLISITEIT & BEMARKING :
    Vonk Musiek
    Ashley Du Toit
    Sel: 083 963 3055
    E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

    PLATEMAATSKAPPY :
    Vonk Musiek
    Francois Roux
    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

  • Wynand Strydom bring huldeblyk aan ’n geliefde vriend met sy nuwe liedjie “Saam Staan”

    Wynand Strydom bring huldeblyk aan ’n geliefde vriend met sy nuwe liedjie “Saam Staan”

    In ’n tyd waarin egtheid en emosie al hoe meer skaars raak in kommersiële musiek, bring Wynand Strydom vir ons ’n lied wat nie net diep persoonlik is nie, maar ook ’n universele boodskap van verlange en herinnering dra. Sy nuutste vrystelling, “Saam Staan”, is nie net ’n lied nie – dit is ’n huldeblyk, ’n herinnering, en ’n glasie wat gelig word vir dié wat nie meer hier is nie.

    Die lied is oorspronklik geskryf deur Morne Postma en Wouter van de Venter, in herinnering aan Morne se oorlede vriend, Rudi. Maar vir Wynand het dié woorde twee jaar gelede, op Kersdag, ’n nuwe betekenis gekry toe sy eie beste vriend, Johan van der Merwe, oorlede is.

    “Ek het die liedjie altyd mooi gevind,” vertel Wynand. “Maar ná Johan se dood het dit my op ’n heel ander manier getref. Ek het toe vir Morne genader en gevra of ek dit mag verwerk en opneem – as ’n ode aan my vriend, en aan vriendskap self.”

    “Saam Staan” spreek van die stil oomblikke wanneer jy om ’n braaivleisvuur sit, of selfs alleen is, en jou gedagtes wegdwaal na iemand wat jy liefgehad het en verloor het. Dit raak aan die rou van ’n vrou wat haar lewensmaat mis, en herinner aan die krag van vriendskap en die waarde van saamstaan – selfs ná die afskeid.

    Met lirieke soos:

    “Saam staan deur duk en dun / Ek lig my glas op waar ek aan jou dink”

    raak die lied elkeen wat al ’n geliefde moes groet. Dit is ’n lied wat jou nooi om te onthou, maar ook om te vier – die lewe, die liefde, en die nalatenskap van iemand wat sy merk op jou hart gemaak het.

    Die brug van die liedjie dra ’n besondere diepte:

    “Ja die lewe is duur, maar jy’t die prys betaal / Ons liewe Vader het ’n yster kom haal.”

    Hier bring Wynand eer aan die krag, moed en karakter van sy vriend – iemand wat tot op die einde bly veg het, en steeds ander geleer het om sterk te wees.

    Musikaal is die lied ’n sielvolle ballade met opregte Afrikaanse klankkleur – Wynand se stem bring die emosie eerlik en rou oor. “Saam Staan” is meer as net ’n snit op ’n speellys – dit is ’n herinnering wat weer lewe kry met elke luister.

    Vir enigiemand wat al ’n vriend, ’n broer, ’n pa, ’n sielsgenoot verloor het – “Saam Staan” is ’n liedjie wat met jou sal praat. Dit nooi jou om stil te staan, te onthou, en dan – om weer op te staan, saam te staan, en aan te gaan met die lewe.

    Facebook Instagram

    PUBLISITEIT & BEMARKING :
    Vonk Musiek
    Ashley Du Toit
    Sel: 083 963 3055
    E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

    PLATEMAATSKAPPY :
    Vonk Musiek
    Francois Roux
    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

  • TINO SE NUWE ENKELSNIT “ROSIE ROSIE” NEEM LUISTERAARS OP ‘N EMOSIONELE REIS NA DIE SEE

    TINO SE NUWE ENKELSNIT “ROSIE ROSIE” NEEM LUISTERAARS OP ‘N EMOSIONELE REIS NA DIE SEE

    Met sy kenmerkende stem en digterlike lirieke, bring Tino weer ‘n meesterstuk om na te luister met sy nuwe enkelsnit, “Rosie Rosie” — ‘n lied wat luisteraars neem op ‘n reis van verlange, verandering en ‘n nuwe begin

    Die lied vertel die storie van Rosie, ‘n vrou wat die stad agterlaat om haar ware self te vind langs die see. Maar Rosie is meer as net ‘n karakter — sy is ook ‘n simbool van hoop, van innerlike groei, en van die moed om jou hart te volg.

    “Ek wou ‘n storie vertel oor iemand wat smag na ‘n plek waar hulle werklik behoort,” sê Tino. “Dis ‘n universele gevoel – die verlange na ‘n lewe wat sin maak, wat jou siel genees. Rosie Rosie verteenwoordig daardie reis.”

    Met lirieke soos “Jy laat die son skyn, jy laat die donkerte verdwyn” en “hier uit die dieper blou”, skep die lied ‘n amper filmiese ervaring – iets wat vir Tino baie belangrik is in sy skryfproses. “Ek wil hê mense moet die lied voel én sien, soos ‘n fliek in hul koppe.”

    Die lied se klank is dromerig en nostalgies – ‘n mengsel van akoestiese warmte en oop lug-emosie. “Ons het gesoek na iets wat soos ‘n road-trip lied voel,” sê hy. “Tertius Human van Vonk Musiek het my gehelp om presies daardie gevoel vas te vang.” Die inspirasie het van plekke soos Stellenbosch en Oudtshoorn gekom – waar van die lirieke ontstaan het – maar ook uit Tino se eie lewenservarings: “Ek het self al groot veranderinge gemaak, soos om van Zim na Suid-Afrika te skuif. Ek weet hoe ‘n nuwe plek jou hele wese kan verander.”

    En of Rosie nou ‘n regte persoon is of nie, sy leef nou in die harte van luisteraars. Die kitaarwerk en subtiele reverb roep beelde op van ‘n briesie aan die kuslyn, en skep ‘n gevoel van vryheid wat mense diep tref. “Ek wou hê dit moet mense laat voel soos om langs die see te staan en diep asem te haal.”

    Volgens Tino is “Rosie Rosie” een van sy mees beeldryke en lirieksterk liedjies tot dusver – en hoewel dit vir nou as ‘n losstaande enkelsnit uitgereik is, is daar dalk ‘n album aan die horison. “Dalk,” sê hy met ‘n glimlag. “Daar’s altyd nuwe musiek op pad.”

    Die reaksie van aanhangers tot dusver is presies wat Tino gehoop het: “‘Mense sê dit voel soos ‘n road-trip-lied, en dit is presies wat ek wou bereik.’”

    Met “Rosie Rosie” bewys Tino weer hoekom hy een van die mees belowende stemme in Afrikaanse musiek is – ‘n kunstenaar wat nie net musiek maak nie, maar stories vertel wat diep in jou vassteek.

    Facebook Tiktok Instagram

    PUBLISITEIT & BEMARKING :
    Vonk Musiek
    Ashley Du Toit
    Sel: 083 963 3055
    E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

    PLATEMAATSKAPPY :
    Vonk Musiek
    Francois Roux
    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

  • Waarskuwing: Mieliebom mag boepies laat wip en braaibroodjies laat brand – Frikkie is terug!

    Waarskuwing: Mieliebom mag boepies laat wip en braaibroodjies laat brand – Frikkie is terug!

    Daar’s boem, daar’s bam… en dan is daar Frikkie se Mieliebom!

    Ja-nee, mense, sit daai visstok neer en vat ’n sluk van daai dubbeltjie, want die superster van Brakpan, Frikkie (of soos sy ma hom noem: Anton Myburgh), is terug—en hy gooi nie met klippies nie… hy gooi met ’n regte mieliebom van ’n enkelsnit!

    Frikkie, die man met die visstok in die een hand en ’n brandewyn in die ander, het weer die Afrikaanse musiekdorp laat skud soos ’n boot op die dam op ’n windrige dag. Sy nuutste lied, “Mieliebom,” is ’n ode aan daai een perfekte visvangdag—’n bietjie te veel brannas, ’n bietjie te min sein, en net genoeg chaos om die tannie by die huis se hare regop te laat staan.

    Lirieke soos net Frikkie dit kan doen:

    “’n Dip vir my bom, ’n dop vir my tjom – dis tyd om in te gooi.”

    “Ek wil nie gebel word nie, deur mamma van die huis af nie.”

    Dis duidelik: Frikkie sing nie van droomwêrelde of hartseer liefdes nie—hy sing van die lewe soos dit regtig is. En as jy nog nooit daai braaibroodjie op die kole vergeet het nie… leef jy dalk nie hard genoeg nie.

    Frikkie sê self:

    “What happens at the visvang trip, stays at the visvang trip.”

    Ons het so ’n vermoede dié video gaan meer views kry as jou een vriend se trouvideo waar hy omval met die koek.

    Meer as musiek – dis ’n leefwys en anders as die gemiddelde liefdesballade, vertel “Mieliebom” die storie van die lewe soos dit regtig is – met braaibroodjies, tjops, Coke, geen selfoonsein en heelwat brannas.

    Frikkie beskryf die lied in drie woorde:

    “Hy pomp, pappa.”

    Dis vir die ouens wat weet hoe dit voel om jou visstok te gryp, die koelbox te laai, en ’n naweek van pure pret aan te pak. Dis musiek wat nie net geluister word nie – dis geleef.

    Die inspirasie? “’n Hele paar brandewyne,” sê Frikkie met ’n skalkse glimlag.

    Dis daardie eerlike gees wat “Mieliebom” so lekker maak – dis nie hier om kunsmatig diep te wees nie. Dis reguit, skreeusnaaks en vol vet pret – net soos ‘n visvangnaweek saam met jou tjommies.

    “Mielie bom, mielie bom, lekker lekker lekker lekker mielie bom…”

    Dis aansteekliker as ‘n koue op ‘n koue winterkamp!

    Frikkie se finale woorde?

    “Dis ’n visvang tune.”

    Duidelik. Direk. Duidelik dors.

    Met ’n musiekvideo wat hy self beskryf as “iets soos The Hangover met visstokke”, en selfs ’n SWAT-span in slow motion met ketties, sê ons net: Hollywood wie?

    Frikkie wys weer dat jy nie ’n Oscar nodig het om mense te laat lag, skoffel en sommer net lus te maak vir die lewe nie. Hy sê self hy hoop mense voel lus vir visvang en kuier wanneer hulle dit hoor.

    Glo my—ná die eerste luister, pak jy sommer jou koelbox en laai die visstokke.

     “Mieliebom” is nou beskikbaar op alle digitale platforms!

    Luister dit op Spotify, Apple Music, Deezer, en kyk die video op YouTube –

    maar wees gewaarsku: Jy mag dalk jou braaibroodjie verbrand van die lag.

    Facebook Tiktok

    PUBLISITEIT & BEMARKING :
    Vonk Musiek
    Ashley Du Toit
    Sel: 083 963 3055
    E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

    PLATEMAATSKAPPY :
    Vonk Musiek
    Francois Roux
    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

  • RUDI KLEINGELD WYS ONS: OOMBLIKKE WORD GEMAAK IN HARMONIE

    RUDI KLEINGELD WYS ONS: OOMBLIKKE WORD GEMAAK IN HARMONIE

    Met sy nuutste enkelsnit, Oomblikke, bring Rudi Kleingeld ‘n diep filosofiese en introspektiewe boodskap na die Afrikaanse musiektoneel. Die lied, wat deur ‘n kombinasie van 90’s rock en sokkie Afrikaans gekenmerk word, dwing die luisteraar om te besin oor die aard van tyd, verandering en identiteit.

    Volgens Rudi het die idee vir Oomblikke ontstaan uit die besef hoe vinnig tyd beweeg – ‘n gevoel wat net al hoe sterker raak namate mens ouer word. “Die wêreld en samelewing ontwikkel so vinnig, maar dit voel nie asof die mens se ‘menswees’ saam vooruitgaan nie. Persoonlik voel dit soms asof ek wakker word in ‘n wêreld wat ek nie ken nie,” sê hy. Hierdie besef het hom gelei om lirieke te skryf wat ‘n balans tref tussen nostalgie en ‘n soeke na betekenis.

    Die reël “Ek’s nie gister se kuns werd nie” is veral treffend en weerspieël sy besef dat, hoewel hy geïnspireer is deur die kunstenaars voor hom, hy nie net kan herhaal wat sy helde gedoen het nie. “Ek moet my eie manier vind om my merk te los. So skryf my naam op die horison, want dit is waar ek myself sal vind,” verduidelik hy.

    Kleingeld beskryf die klank van Oomblikke as ‘n kombinasie van 90’s rock met ‘n tikkie nostalgie en grunge. “Daar is baie meer harmonie bygevoeg, en ek was veral geïnspireer deur Queen se musiek,” sê hy. Hy noem ook dat hy kunstenaars soos Soundgarden, Collective Soul, Nothing But Thieves en Jan Blohm geluister het tydens die skeppingsproses van die lied.

    Die produksie van die snit is gedoen deur Tertius Human, wie Kleingeld beskryf as een van die beste vervaardigers in Afrikaans. “Ek geniet elke kreatiewe oomblik saam met hom,” sê hy oor die ervaring van die opnameproses.

    Die lirieke van Oomblikke dra ‘n rebelsheid in sig, wat ‘n uitdaging aan die norm bied. Die frase “Tattooer my ‘n ruglyn” is ‘n metafoor vir die behoefte aan rigting in ‘n wêreld waar tegnologie en sosiale media mense maklik koersloos kan laat voel. “Soms moet ons iets hê om ons te herinner aan ons doel en waarheen ons oppad is,” sê hy.

    Die reël “Ons is oomblikke gemaak in harmonie, vandag hier en more uitgespoel” verwoord die kortstondigheid en onvoorspelbaarheid van die lewe – ‘n sentrale tema van die lied. “In vergelyking met die groter tydlyn is ons maar ‘n spikkel wat skaars gesien word. Dit gaan vinnig verby en niks word gewaarborg nie,” voeg hy by.

    Kleingeld hoop dat luisteraars hul eie betekenis in sy musiek sal vind. “Ek voel dat iemand wat my musiek luister, hul eie boodskap of betekenis daaruit sal kry,” sê hy. Hy meen ook dat Afrikaanse musiek tans vinnig ontwikkel en dat ernstiger temas weer gewild gaan raak, in plaas van die braai-en-brandewyn-liedjies wat lank die mark oorheers het.

    Met opwindende projekte in die vooruitsig, insluitend ‘n cover van een van sy gunsteling Afrikaanse liedjies, beplan Kleingeld om Oomblikke so wyd moontlik te deel. “Indien die geleentheid daar is, sal ek dit graag live wil opvoer,” sê hy.

    Oomblikke is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Moenie hierdie diep, sielvolle weergawe van verganklikheid en identiteit misloop nie – dit is ‘n lied wat jou laat dink oor die oomblikke wat verbygaan en dié wat jy vir altyd wil vashou.

    Facebook Tiktok Instagram

    PUBLISITEIT & BEMARKING :
    Vonk Musiek
    Ashley Du Toit
    Sel: 083 963 3055
    E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

    PLATEMAATSKAPPY :
    Vonk Musiek
    Francois Roux
    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

  • Jessica” brand ná 17 jaar nog steeds warm in Ray Dylan se hart!

    Jessica” brand ná 17 jaar nog steeds warm in Ray Dylan se hart!

    Na 17 jaar bring Ray Dylan een van sy grootste treffers, Jessica, terug met ‘n splinternuwe opname. Die lied, wat sedert sy oorspronklike vrystelling in 2008 diep in die harte van luisteraars vasgesteek het, kry nou ‘n moderne klank en vars produksie – terwyl dit steeds sy nostalgiese sjarme behou.

    Vir Ray Dylan was die besluit om Jessica weer op te neem ‘n natuurlike een. “Na 17 jaar bly die liedjie ‘n treffer – tye en klanke het verander, en dit was tyd om vir Jessica ‘n nuwe baadjie aan te trek,” verduidelik hy. Hy wou die lied aanpas vir vandag se musieklandskap terwyl hy sy oorspronklike gevoel behou. “Klanke en digitale opnames het met die tyd verbeter, en ek het gevoel die song verdien vandag se moderne klanke.”

    Om weer die lirieke van Jessica te sing, was vir Ray ‘n emosionele ervaring. “Dit is altyd vir my lekker om Jessica te sing, omdat mense na twee dekades steeds elke woord ken. Die lied lê my na aan die hart – dit was een van my eerste groot treffers,” sê hy.

    Maar Jessica het oor die jare ‘n nuwe betekenis gekry. “Ek spot altyd en sê vir mense, ‘be careful what you sing for’, want hier is Jessica nou ‘n werklikheid – die liefde van my lewe: my vrou.”

    Hoewel Ray Dylan die lied se oorspronklike struktuur behou het, is daar moderne aanpassings gemaak. “Ons het die liedjie so oorspronklik as moontlik probeer hou, maar kitare en dromme speel nou ‘n groter rol,” verduidelik hy. “Ek was ook hierdie keer baie meer betrokke by die produksie, en ons het seker gemaak die nuwe klank is vars en relevant.”

    Met sy kenmerkende romantiese en nostalgiese sfeer, glo hy dat Jessica steeds ‘n spesiale plek in mense se harte sal hê. “Met die moderne klank van vanjaar se weergawe sal die jongspan dit verseker waardeer en lekker daarop kuier en dans!”

    Vir Ray Dylan speel musiek ‘n groot rol in herinneringe en emosies. “Elke lied het sy eie storie en sy eie betekenis. Jessica se lirieke oor jeugherinneringe, ‘n eerste soen, en die liefde van jou lewe resoneer met mense oor generasies heen.”

    Hy onthou hoe Jessica aanvanklik nie eens op die oorspronklike album sou verskyn nie. “Ek moes omtrent smeek om dit op die album te kry, en toe is dit net as ‘n bonussnit uitgereik – maar toe word dit die album se grootste treffer!”

    Met die sukses van Jessica wonder hy  baie of hy nog van sy treffers moet heropneem. “Ek sou graag Hokaai Stoppie Lorrie wou herwerk, met nuwe klank en moderne produksie. Dalk is daar ‘n verrassing op pad…”

    Maar vir nou, bly Jessica die middelpunt van die aandag. “Ek glo mense van alle generasies sal steeds op die nuwe weergawe wil dans.

    Met sy 2025-opname van Jessica bewys Ray Dylan weer eens hoekom hy een van Suid-Afrika se mees geliefde kunstenaars bly. Die lied, nou met ‘n moderne aanslag, is steeds ‘n nostalgiese reis na die tye van eerste liefde, sonskyn en jeugherinneringe – en dit beloof om nuwe en ou aanhangers se harte te steel.

    https://youtu.be/ScIlwPxwD4k

    Facebook


    Tiktok


    Instagram

    PUBLISITEIT & BEMARKING :
    Vonk Musiek
    Ashley Du Toit
    Sel: 083 963 3055
    E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

    PLATEMAATSKAPPY :
    Vonk Musiek
    Francois Roux
    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

  • “Mari Bosman Keer Terug Met ‘n Hartroerende Ballade – ‘Iets Goed’”

    “Mari Bosman Keer Terug Met ‘n Hartroerende Ballade – ‘Iets Goed’”

    Mari Bosman, bekende sangeres en liedjieskrywer, is terug met ‘n kragtige en eerlike ballade wat dieper delf in die emosies van verlange en hoop. Haar nuwe enkelsnit, “Iets Goed”, is ‘n rou en eerlike weergawe van die soeke na liefde en vervulling, en beloof om ‘n spesiale plek in die harte van haar luisteraars te vind.

    Bosman, wat bekend is vir haar diep lirieke en opregte musiek, het “Iets Goed” geskryf vanuit haar eie lewenservaring. “Ek is mal oor ballades skryf, en gewoonlik skryf ek oor myself,” vertel sy. “Maar hierdie liedjie is rou en eerlik, en ek glo heelwat mense kan daarmee vereenselwig.” Die lirieke dra ‘n sterk boodskap van verlange na ‘n spesiale persoon – iemand wat dalk nog nie in haar lewe is nie, maar vir wie sy reeds wag.

    Die inspirasie vir die liedjie het ontstaan uit die idee dat mens soms so gefokus is op die jaag van drome dat belangrike verhoudings afgeskeep word. “Dit kan ‘n baie alleen beroep wees,” erken sy. “Die lekkerste gevoel is om ‘huis toe’ te kom na iemand na ‘n toer. En as dit ontbreek, mis mens daardie persoon – al het ons dalk nog nie ontmoet nie.”

    Die lirieke van “Iets Goed” neem die luisteraar op ‘n visuele reis, van ‘n eerste koppie koffie met ‘n uitsig oor die see, tot die mistige berge, die Bosveld en die Karoo. Hierdie beelde weerspieël Mari se persoonlike band met die natuur en hoe dit haar musiek inspireer. “Ek sorteer gewoonlik my gedagtes by die see. Die vars lug gee my nie net inspirasie nie, maar ook perspektief.”

    Sy glo dat musiek ‘n manier is om hoop oor te dra. “Hoop is die mooiste ding in die wêreld. Sonder dit maak die lewe nie sin nie,” sê sy. Die lirieke van “Iets Goed” dra hierdie idee pragtig oor – ‘n mengsel van verlange, geloof en die wete dat iets goeds op die regte tyd sal kom.

    Mari erken dat sy sterk glo in die konsep van ‘sielsgenote’. “Ek wag nog vir die regte persoon,” sê sy. Een van die mees treffende reëls in die liedjie, “Ek ken jou nie, maar ek begin jou mis”, weerspieël hierdie diepe verlange. Dit is ‘n universele gevoel – die wete dat daar iemand spesiaal daarbuite is, selfs al het julle nog nie ontmoet nie.

    Die slotreël van die lied, “Dalk moet ek ophou soek en geduldig wag vir iets goed”, bring die tema van hoop en geduld na vore. Bosman sien dit as ‘n positiewe konklusie – ‘n erkenning dat ware liefde op die regte tyd sal kom.

    Die produksie van “Iets Goed” is deur Tertius Human hanteer, en  Mari beskryf die eindresultaat as “uniek en perfek.” Die lied het ‘n warm, intieme klank wat die eerlikheid van die lirieke komplementeer. Wanneer gevra hoe sy ‘n musiekvideo vir die liedjie sou voorstel, sê sy: “Ek sou iets intiems wou doen, waar ek regtig die gehoor intrek en vir hulle sing – asof hulle in my woonkamer saam met my sit.”

    Met die vrystelling van “Iets Goed”, wys Bosman ‘n nuwe, dieper kant van haarself aan haar luisteraars. Dit is ‘n ballade wat diep voel en eg is – iets wat aanhangers van haar musiek ongetwyfeld sal waardeer. Sy verklap ook dat daar meer musiek in die pyplyn is, insluitend ‘n spesiale liedjie genaamd “Roepstem”, wat deel is van die viering van Afrikaans se 100-jarige bestaan.

    Intussen nooi Mari haar aanhangers uit om “Iets Goed” te luister, te ervaar en dalk selfs met hul eie liefdesverhale te vereenselwig. Soos sy dit self stel: “Lief, ek wag al jare vir iets goed.”

    Facebook Tiktok Instagram

    PUBLISITEIT & BEMARKING :
    Vonk Musiek
    Ashley Du Toit
    Sel: 083 963 3055
    E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

    PLATEMAATSKAPPY :
    Vonk Musiek
    Francois Roux
    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za
    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za

  • Zoé ry die “Golwe” van Selfontdekking in Haar Nuutste enkelsnit

    Zoé ry die “Golwe” van Selfontdekking in Haar Nuutste enkelsnit

    Met haar splinternuwe enkelsnit Golwe neem Zoé haar luisteraars op ‘n eerlike en persoonlike reis van selfontdekking en verandering. Golwe simboliseer vryheid, ‘n nuwe begin en die uitdagings wat gepaard gaan met groot lewensveranderinge. Golwe is nie net ‘n afskeid van haar tuisdorp, Tzaneen, om ‘n musiekloopbaan in die stad n ate jaag nie – dit is ook haar reis om haar eie pad as kunstenaar en jong volwassene in ‘n onbekende wêreld te vind.

    Zoé se vorige werke – Liefhê, Crazy Meisie en Klein Dorpie Mentaliteit (saam met Zaan Sonnekus) – het ‘n trilogie gevorm oor hartseer en die letsels wat liefde soms nalaat. Maar met Golwe los sy nie net haar tuisdorp agter nie; sy los ook daardie seer agter en tree sy ‘n nuwe fase van selfontdekking binne.

    “Hierdie liedjie gaan oor meer as net ‘n fisiese verhuising,” verduidelik Zoé. “Dit is ‘n sielkundige verskuiwing – ek los die ou ek, die seer en die verlede agter en stap met oop arms die onbekende binne.”

    Golwe is eerlik en diep persoonlik. Golwe verwoord die mengsel van opwinding en onsekerheid wat gepaard gaan met die besluit om ‘n bekende lewe agter te laat en ‘n nuwe hoofstuk te begin. “Die liedjie gaan oor die ervaring van wegtrek van die huis af, na ‘n nuwe plek waar jy net jouself kan wees. Dit gaan oor die nuwe ervarings wat mens opdoen as jy vir die eerste keer op jou eie moet bly.”

    Vir Zoé was hierdie verandering uitdagend en bevrydend. “Ek het alles wat ek my hele lewe lank geken het gelos om stad toe te trek en my drome na te jaag. Dit is skrikwekkend, maar terselfdertyd ook ‘n ongelooflik verrykende ervaring.” Hierdie gevoel van sprong en verkenning kom sterk na vore in die reël: “My sak is klaar gepak, reis met hoë hoop en sonbrille aan.”

    In die liriek “Verken my guitar, ontdek die dinge wat ‘n pen kan doen,” reflekteer Zoe op hoe musiek en skryf haar help om haarself beter te verstaan. “Hierdie liedjie het my die vrymoedigheid gegee om oor nuwe onderwerpe te skryf. Skryf is ‘n vorm van terapie vir my, en ek doen dit amper elke dag om my emosies te verwerk.”

    Zoé gebruik ‘n treffende vergelyking in die reël: “Het geleer, die lewe ontvou soos ‘n kunswerk.” Sy verduidelik: “Wanneer jy te naby aan ‘n skildery staan, kan jy op die klein, onvolmaakte detail vaskyk. Maar as jy ‘n paar tree terugstaan, sien jy die groter prentjie en verstaan hoekom sekere merkies en vlekke daar moet wees.”

    Die beeld van ‘n sikloon in die reël “So spoel my skoon, eks in die middel van ‘n sikloon” is vir haar ‘n metafoor vir die uitdagings wat sy moes trotseer.  “Ek moes my instink volg

    om uit daardie sikloon te kom. Soms moet jy nie luister na wat ander sê nie, maar net doen wat jy weet reg is vir jouself.”

    Van kleintyd af het Zoé geweet dat musiek haar passie is. “Ek het ‘n doel gekry,” sing sy in Golwe, en sy verduidelik dat sy uiteindelik seker is oor haar pad. “Ek moes eers myself verloor in loopbane wat my nie vervul het nie, om te besef dat sang en musiek regtig my roeping is.”

    Met Golwe hoop Zoé om ander te inspireer wat hul eie reis van selfontdekking aanpak. “Ek preek altyd dat mens groot moet droom en hard moet werk. Ek hoop hierdie liedjie help ander om die reis te waardeer en te onthou dat daar lig aan die einde van elke tonnel is.”

    Met Golwe, begin Zoé nie net op ‘n skoon bkadsy nie – sy skryf ‘n hele nuwe hoofstuk.

    Facebook Tiktok Instagram

    PUBLISITEIT & BEMARKING :

    Vonk Musiek

    Ashley Du Toit

    Sel: 083 963 3055

    E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

     

    PLATEMAATSKAPPY :

    Vonk Musiek

    Francois Roux

    Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160   

    E-pos : francois@vonkmusiek.co.za

    Webwerf: www.vonkmusiek.co.za