Die geliefde Suid-Afrikaanse kunstenaars, Riaan Grobler en Jomari, stel Vrydag, 25 Oktober 2024, hulle jongste enkelsnit, “Moskonfyt”, vry op alle digitale platforms. Hierdie danstreffer is die titelsnit van hul nuutste album, wat ook “Moskonfyt” genoem word. Die album bestaan uit 12 liedjies wat elkeen ’n unieke klank en storie meebring.
“Moskonfyt” is meer as net ’n vrolike danstreffer – dit is ’n verhaal wat regte mense en hul lewensreis verewig. Die liedjie is geïnspireer deur die egpaar, Elsie en Quentis, en hul unieke liefdesverhaal. Jomari het hulle gevra of sy en Riaan ‘n liedjie mag vervaardig oor hul verhaal, en hulle het met liefde ingestem. Die resultaat is ’n tong-in-die-kies liedjie wat die luisteraars met sy speelse energie en aansteeklike ritme sal meevoer.
Vir Riaan is “Moskonfyt” nie net ’n liedjie om op te dans nie, maar een wat diep konneksies vorm deur sy lirieke en storievertelling. Hy beskryf die liedjie as ’n “lekker danstreffer” wat mense aanmoedig om saam te sing en hulself heeltemal oor te gee aan die vrolikheid daarvan. Dit verteenwoordig die eenvoud en vreugde wat in die klein oomblikke van die lewe gevind kan word.
Die album, “Moskonfyt”, is ‘n mengsel van ligte, energieke danselemente en diep, betekenisvolle ballades. “Ons wou iets skep wat mense aanmoedig om te dans, maar wat hulle ook op ‘n nostalgiese reis neem,” sê Riaan. Die album sluit liedjies in soos “Hartklop Van Suid-Afrika”, “Boonste Rak Beautiful” (met Leon Ferreira), “Twee Harte” en “One Day At A Time”. Daar is ook gunstelinge soos “Toe Val Ek Weer” en “’n Dag Sonder Jou”, wat reeds as enkelsnitte vrygestel is.
“Moskonfyt” is nie net ’n album vir dansvloere nie; dit bevat ’n verskeidenheid klanke wat luisteraars op ’n reis van herinneringe, liefde en hoop neem. Riaan en Jomari het met hierdie album daarin geslaag om ’n balans te vind tussen treffende danselemente en die emosionele diepte van country- en balladestyl musiek. Met die mooiste lirieke wat die hart raak en die energie van liedjies wat jou voete laat beweeg, is “Moskonfyt” die perfekte metgesel vir enige musiekliefhebber.
Met hierdie versameling van uiteenlopende musiekstyle en temas, hoop Riaan en Jomari dat die publiek nie net sal dans nie, maar ook ’n diep emosionele reis sal ervaar.
“Moskonfyt” is nou beskikbaar op alle digitale platforms – ’n moet vir elke musiekversameling!
Geniet die album op die platform van jou keuse – https://vyd.co/Moskonfyt