Die geliefde Suid-Afrikaanse sanger en musiekant, Mari Bosman, het op 6 September 2024 haar nuutste enkelsnit, “Tussen Jou En My”, op alle digitale platforms vrygestel. Dié liedjie bring ’n vars klank in Afrikaans met ’n aansteeklike ritme en ’n storie wat luisteraars sal terugvoer na hul sorgvrye jongdae.
Mari beskryf die liedjie as ‘n viering van vriendskap en herinneringe van haar tienerjare, veral die dae toe dinge nog eenvoudig en sorgeloos was. “Tussen Jou En My” roep herinneringe op van skoolvakansies en die soort vriendskappe wat oor die jare steeds standvastig bly. Die kernboodskap van die liedjie is duidelik: Leef meer in die oomblik en minder in die toekoms.
Die musiekvideo vertel die verhaal van twee vriende, met Christoff de Beer van ADAM wat die rol van ‘n boekwurm vertolk, terwyl sy beste vriendin net kitaar wil speel en hom in die moeilikheid wil bring. Die video eindig op ’n hoë noot, met ’n lewendige optrede van die vriendin en haar “band” – ’n weerspieëling van die lewenslange band tussen vriende.
Wat Mari se weergawe van Willem en Jan se “Tussen Jou en Mij” uniek maak, is haar liefde vir Nederlandse musiek en haar vasberadenheid om ’n oorspronklike liedjie te vertaal en eie te maak in Afrikaans. Dit was vir haar ’n uitdaging om die lirieke getrou te vertaal, terwyl sy steeds die oorspronklike gevoel vasvang, en sy glo dat hierdie vertaling een van daardie “hidden gems” is wat net moes ontstaan.
Mari Bosman se “Tussen Jou En My” beloof om nie net nostalgie op te wek nie, maar ook om luisteraars te inspireer om die oomblikke wat die lewe bied, ten volle te geniet.
Beskikbaar vanaf 6 September 2024 op alle digitale platforms.