Partymaal in jou lewe onmoet jy daardie een persoon wat jy net nie uit jou kop kan kry nie. Wat ookal jy probeer doen om jou aandag van hierdie persoon af te lei is tevergeefs. So persoon neem hul plek in in jou gedagtes sonder toestemming. Dis asof hulle daar bly sonder om huur te betaal, as’t ware leef hulle HUURVRY.
Die manne van ADAM is weer terug in die kollig en die keer gaan jy saamsing. Hul nuutste enkelsnit, HUURVRY, stuur die groep se klank in ‘n nuwe rigting wat weereens dié groep se musikale vernuf onderstreep.
“HUURVRY handel oor daardie persoon wat die volle omvang van jou gedagtes opneem. Hy/sy neem jou, soms sonder opset, op ‘n emosionele pretrit.”, verduidelik Christoff de Beer wie verantwoordelik is vir die skryf van die lied.
Die vervaardiging is behartig deur die gesoute span van MUSE Studios, Hugo Ludik en Brendan Campbell. Met HUURVRY ondersoek die groep ‘n nuwe klank wat goeie variasie tot hul bestaande repertoire voeg. Die dreunsang aard van die lied sal luisteraars wat soortgelyke emosies ervaar aanpor om saam te sing.
ADAM het reeds kennis gemaak met die publiek in 2009 en met 7 albums en 4 enkelsnitte later het die groep talle treffers tot die Afrikaanse musiekgenre gevoeg. Van hul grootste treffers sluit in: SAL OORLOG VIR JOU MAAK, HOOGTEVREES en LIEFDE SOLDAAT.
Die groep bestaan uit drie lede, Kyle Grant, Christoff de Beer en Hugo Ludik. Saam het hulle reeds duisende mense regoor Suid-Afrika met hul indrukwekkende drieledige harmonië vermaak op verskeie geleenthede. Saam spog die groep met 9 Ghoema’s asook ‘n SAMA-toekenning in die kategorie “Beste POP album in Afrikaans”.
Om ADAM se musiek op te som in een woord sal “oorspronklik” die beste woord wees om te gebruik. Elke lied en album wat deur die groep uitgereik word is vars, relevant en blywend. Min kunstenaars kry dit reg om deur die toets van tyd staande te bly soos ADAM. HUURVRY is weereens ‘n bewys dat die drie manne musikante in murg en been is. Eg aan hul aanpasbare aard wyk hierdie lied nie van hul norm af nie.
HUURVRY sal die tweede enkelsnit wees wat die groep uitreik in samewerking met VONK musiek. Die eerste was die treffer ROOI LIPPE wat gepryk het op talle trefferparades en speellyste op al wat ‘n radiostasie en stromingsplatform is.
Die lede van die groep verduidelik dat die arbeider sy loon werd moet wees en daarom spandeer hul self 4 ure of meer per dag om hul musiek te bemeester. “Soos met enige bedryf is dit die een wat die hardste werk wat die wa deur die drif trek.”, verduidelik hulle.
Of jy al kennisgemaak het met ADAM of nie, is HUURVRY ‘n liedjie vir jou. Om ‘n rooigesig te voorkom by jou volgende sosialegeleentheid, stel ons voor jy raak vertroud met die lirieke, want dié lied gaan nog baie gespeel word en saamsing is nie-onderhandelbaar nie.
HUURVRY is nou beskikbaar op alle digitale mediaplatforms.
STARBURST PROMOTIONS
Danelle Liebenberg
Sel: 0715347796
E-pos: danelle@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za
PLATEMAATSKAPPY:
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel: 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos: francois@vonkmusiek.co.za
Webwerf: www.vonkmusiek.co.za