
Bob Dylan het dié liedjie in 1964 deur Columbia Records uitgereik. Die gewig van die woorde blyk tydloos te wees. So ook die mensdom se onvermoë om ag te slaan op die kunstenaar se pleidooi. Ek het altyd gewonder wat sou mens noop om met lirieke soos dié vorendag te kom? Natuurlik was daar eksterne omstandighede in die 60’s. Bob Dylan was die tipe kunstenaar wat dit reggekry het om ons kollektiewe angs, frustrasie, woede, hunkering en kinderlike idealisme vlerke te gee, sonder om te verval in sentimentele stroop.
Ek wou die lied in Afrika plaas. Ek wou glad nie hê dat dit soos American Folk tradisie klink nie. Schalk Joubert verdien spesiale melding. Hy’t die versoek onmiddellik gesnap en met die baskitaar “groove” vorendag gekom, sommer net daar en dan. Ek dink sy opname was slegs die enkel “take”. Dit was die fondasie vir die ander musikante se bydraes: Louis Mhlanga (elektriese kitaar), Shannon Mowday (saksofoon), Jacques du Plessis (Saag), Magda de Vries (Marimba).
Die isiZulu mansstemme asook die Zulu konsertina is deur David Jenkins (Qadasi) en Stanley Radebe (Maqhinga) behartig en die isiXhosa stemme deur Lelethu Zulu en Sibongiseni Wani.
Die vertaling is bloot: “verander want die tye verander”.
Dit is protesmusiek. Dis die mooiste manier hoe ek ons kollektiewe onvergenoegdheid met die politiese, sistemiese en burokratiese status quo kon uitrduk. Die lelikste manier wil ek my nie indink nie. Ek dink Bob het seker ook iets gevoel. Ek’t die liedjie opgeneem om simbolies vir Bob te sê “I heard you”. Ek hoop hy kan dié weergawe hoor. Jy ook. Iewers binne-in is die pleidooi om onsselwers te verhef tot ons hoogste aanbod van menswees. Die tye verander.
Nou beskikbaar op alle digitale platforms – https://linktr.ee/neilsandilands
Be the first to comment