ANDRIËTTE SAAI HOOP EN LIEFDE MET NUWE ENKELSNIT

Sedert kykers veertien jaar gelede met Andriëtte kennis gemaak het op die SA IDOLS-verhoog, het sy sommer baie diep in musiekharte kom kruip en al keer-op-keer bewys hoekom sy haar plek in die plaaslike musiekbedryf verdien.

Nou maak sy weer so met die uitreiking van ’n splinternuwe enkelsnit oor die liefde, wat haar strelende fluweelstem soos ’n handskoen pas.

SONDER LIEFDE is deur Noa Milan geskryf en Dirk van Niekerk vervaardig en gaan oor hoe liefde al is wat oor is in die moeilike tye waarin ons vandag leef en dat die gee en neem daarvan is wat ons staande hou.

“Ek glo in ware liefde en deurdruk-liefde en weet dat ons oukei sal wees solank ons liefde in ons lewens het,” deel die sangeres oor die inspirasie agter hierdie besonderse lied. “Almal was al lief vir iemand en wil graag liefde hê, daarom sal SONDER LIEFDE aanklank vind by ’n wye gehoor.”

Dieselfde boodskap, dat niemand sonder liefde kan klaarkom nie, word in die pragtige musiekvideo vasgevang wat vir dié snit verfilm is.

“Ons beeld oomblikke uit van hoe dit iemand se dag kan opkikker deur net liefde te toon en tyd aan hulle te gee,” verduidelik sy.

Die video is op die kassie te sien vanaf die 25ste November.

SONDER LIEFDE volg in die voetspore van talle radiotreffers, waaronder Mis jou Meer, Dink aan My, Vat my hoër, Sewe Oseane, Napoleon, My Kind, Bittersoet van Liefde, Dinge, Druppel in die See en vele meer.

Andriëtte het die musiekmark in 2007 betree nadat sy as naaswenner aangewys is van die Suid-Afrikaanse weergawe van die musiekprogram, IDOLS.

Kort daarna is haar eerste album, Diamant, uitgereik waarvoor sy in 2008 ’n Vonk-toekenning ontvang het vir Beste vroulike kontemporêre album gewen het. Nog ses suksesvolle albums het gevolg, waaronder Wat Rym met Liefde, wat ’n Ghoema toekenning gewen het in 2014 vir Beste vroulike kontemporêre album. Verder was sy ook al deel van van die grootste musiekkonserte in die land, waaronder Huisgenoot Skouspel en Krone.

Dié 36-jarige Kapenaar, gebore en getoë in Brackenfell, woon tans in Durbanville saam met haar man en drie seuns. Na skool het sy eers in die skoonheidsbedryf gewerk voordat die musiekgogga haar gebyt het. Tans ontvang sy verder musiekopleiding by Amanda Luyt.

Volgens die kunstenaar sing sy oor dinge wat haar hart raak en beskou sy Steve Hofmeyr, Laurika Rauch en Michael Bublé as haar grootste rolmodelle in die musiekbedryf. Sy sou ook graag nog eendag saam met Elvis Blue wou werk.

Die musiekbedryf het haar geleer dat sukses net deur genade bereik kan word en dat sy die beste moet maak van elke oomblik.

Wanneer sy nie sing nie, help sy graag uit by haar man se besigheid. Sy beplan ook om in 2023 nog nuwe musiek uit te bring.

SONDER LIEFDE is ’n inspirerende enkelsnit oor hoop en liefde wat elkeen wat daarna luister diep sal tref en moed sal gee vir die toekoms.

Hierdie sielvolle snit is nou aanlyn beskikbaar. Kry dit hier: https://linktr.ee/andriettemusiek

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*