
Juan Boucher het pas die musiekvideo vir sy enkelsnit Koue Hande vanaf sy Hier Waar Ek Nou Is album bekend gestel.
Hier Waar Ek Nou Is, het Juan se aanhangers aan ‘n nuwe klank voorgestel. ‘’Ons was opsoek na ‘n nuwe klank vir Juan se album. Ons het geluister na John Mayer se Last Train Home. Die manier waarop hy die blues-kitaar saam met Synth en Dreamwave gekombineer het, het baie gegrens aan daai 80’s The Cure tipe klank en ons was mal daaroor. Ons het net gehardloop daarmee en dit het gemaklik en ongevorseerd gevoel om dit te implementeer,’’ het vervaardiger Tertius Human verklap.
Die Album is ‘n kulminasie van ‘n evolusie waardeur hy gegaan het met sy laaste drie albums. Dit is volwasse, minimalisties en verteenwoordig ‘n belangrikke mylpaal in sy loopbaan. ‘’Die album beteken vir my dat ek nou in die helfte van my loopbaan is en ek moet nog sewe skryf voordat ek ophou musiek maak,’’ het Juan vertel.
Boucher het reeds musiekvideos sy treffers Die Konings van Helde en Novah vanaf die Album vrygestel. Hierdie musiekvideos het reeds meer as 203k en 109k kykbeurte onderskeidelik op Youtube geniet.
Met Die Konings Van Helde se musiekvideo het Boucher hulde gebring aan van Suid-Afrika se grootste sport sterre, maar Koue hande volg ‘n tendens wat Boucher met sy Want Jy Weet musiekvideo begin het.
Want Jy Weet se musiekvideo is saamgestel uit tuisvideos wat Juan en sy vrou Shamodene tydens hul wittebrood in Namibië geneem het en het sy aanhangers ‘n meer intieme blik op sy lewe gegee. Juan het hierdie idee voortgesit met die vrystelling van Novah wat hy vir hul dogtertjie geskryf het. In die video het Juan kosbare tuisvideos van sy gesin met sy aanhangers gedeel.
Koue hande se musiekvideo volg Juan en sy band agter die skerms en op die verhoog tydens verskillende optredes. Dit wys ook tonele waar Juan padlangs toer in ‘n ou beetle, saam met sy Kitaarspeler Rudi Kleingeld en sy goeie vriend die sanger Len Muller. Die musiekvideo laat kykers toe om te ervaar hoe dit sou voel om saam met die band te toer en wys vir Juan waar hy op sy gemaklikste is – Op die verhoog waar hy sy musiek kan deel. ‘’Die lekkerste ding om te doen is om by al my mense uit te kom,’’ het Juan vertel.
Juan se dagboek is druk besig met optredes hierdie jaar, maar hy sien veral uit na sy konsert saam met Ray Dylan wat tussen die 11- 21ste Junie 2022 by Uroa Bay Beach Resort in Zanzibar sal plaasvind.
Boucher het ook verklap dat sy boek getiteld, Die Stories Agter My Potlood, ook uiteindeklik klaar is en binnekort op die rake sal verskyn.
Be the first to comment