Vonk Musiek se Digitale kompetisie vir aspirant-musikante : ELKE BOEMELAAR SE DROOM – Koos Kombuis

Hierdie ikoniese debuut CD van Koos Kombuis (1994) is onlangs op alle digitale platforms deur Vonk Musiek heruitgereik, en om dit te vier word ‘n opwindende kompetisie geloots.

Die wenner staan ‘n kans om ‘n splinternuwe Yamaha F-310 akoestiese ghitaar te wen!

Al die snitte op “elke boemelaar se droom” is reeds op Youtube gelaai as liriek-videos en as ‘n bonus is sommige van Kombuis se bekendste liedjies o.a. Lisa se Klavier, Bicycle sonder Slot, Travel in Staail, Johnny is nie dood nie, ook met ghitaar-akkoorde gelaai sodat aanhangers die liedjies maklik tuis onder die knie kan kry en saam kan tokkel…

Aspirant musikante word uitgedaag om hulle eie video weergawe van enige liedjie vanaf “elke boemelaar se droom” tuis op te neem en in te stuur om sodoende in aanmerking te kom om ’n Yamaha F-310 akoestiese ghitaar te wen.

Hoe om deel te neem:

·        Alle video inskrywings moet digitaal gelaai word op sosiale media (Youtube, Facebook, TikTok of Instagram)

  •  “Tag” Vonk Musiek (op sosiale media)
  • “Like” Vonk Musiek se Facebook en Instagram blad
  • Stuur die skakel van jou weergawe op whatsapp na 061 3122 160 of per epos na francois@vonkmusiek.co.za .
  •   Die wenner word aangekondig op Vonk se Faceboekblad
  • Die sluitingsdatum is 12 Junie 2022.

Agtergrond inligting:

                          ELKE BOEMELAAR SE DROOM– KOOS KOMBUIS

“In 1994 het Koos Kombuis se destydse bestuurder Dirk Uys, my gevra om

‘n album met Koos Kombuis op CD behoorlik op te neem om hom “famous te maak met ‘n radio-vriendelike opname sodat die tannies ook van sy musiek hou”.

Ek dink nie ek het al so hard aan die regie van enige album gewerk soos hierdie een nie. Daar was verskillende fasette in Koos se skryfwerk en ek wou sy liedjie-kuns so holisties as moontlik probeer uitstal op een album o.a. sy liefdesliedjies, sy humor, die meer kontroversiële liedjies…

Die keuses het o.a. Lisa se Klavier, Travel in Staail, Johnny is nie Dood nie, Boer in Beton, Kytie, Sommige ou Tannie-blues ens. ingesluit asook ‘n spanpoging met “Voete van Johannesburg” waarop verskeie kunstenaar-vriende kom saam speel en sing het.

Die opnames was gedoen by Downtown ateljees in Johannesburg met die bekroonde Peter Pearlson as ingenieur. Toe Koos die eerste keer in die ateljee instap was hy verstom “jislaaik, dis fênsie studios”. Van die musikante op die album was o.a. Victor Masondo, Rob Watson, Jethro Butow, Piet Botha, Jennifer Ferguson, Valiant Swart, Gloria Bosman, ens. Jethro het die kreatiewe ghitaar “riff” op Johnny uitgedink wat sedertdien sinoniem met die liedjie geword het. (Johnny was ‘n tromspeler wat op die spoorlyn in Stellenbosch oorlede is)”

Elke Boemelaar se droom was Koos se eerste opname op CD en die resultaat was ‘n ikoniese baken in Afrikaanse musiek. Van kultus-status na popster.

In die CD-boekie het Koos geskryf: “Hierdie is ‘n album vir die nuwe Suid-Afrika. Dit is nie meer deel van die struggle soos my uitreikings by Shifty nie. Dis ‘n plaat vir die mense wat ek liefhet, oor die mense wat ek liefhet”.

Koos Kombuis se kommentaar:

“Radio Kombuis is terug! Ja, dit is vir my ‘n riem onder die hart dat hierdie album nou digitaal beskikbaar gaan wees. Dit herinner my aan daardie eerste geskiedkundige samewerking tussen my en Anton Goosen.

Vandag is niemand seker of “Elke Boemelaar se Droom” die laaste Afrikaanse album van die Ou Suid-Afrika of die eerste Afrikaanse album van die Nuwe Suid-Afrika was nie, maar dit gryp terug na van die seerste, deurmekaarste, en tog ook mees kreatiewe momente van ons lewens. Dit is veral verblydend dat ‘n liedjie soos “Die Rooi Kombuis”, geskryf deur my en getoonset en geproduseer deur Anton, nie verlore gaan nie. Dankie vir die memories.

Natie Botes: “ As dit kom by my baie persoonlike smaak kom sê ek, Boemelaar het een van die beste rock songs in “alternatiewe” Afrikaans opgelewer – Voete van Johannesburg. Koos se beste vocal performance. Die idee van ‘n reënboognasie behoort soveel aan Koos & Anton as aan Madiba en Francois Pienaar. Hier was ‘n album vir die tyd, óór die tyd”.

Kabous Verwoed: “Die eerste keer wat Koos Kombuis ‘n gepoleerde album, in pas met internasionale standaarde, op die mark gehad het”.

Kerneels Breytenbach: “A tramp’s dream”.

Karin Zoid: “Klankbaan van die gang in my hoërskool koshuis”.

Gian Groen: “Dit is ‘n revolusionêre onthou-stuk van my rock & roll opvoeding”.

Churchil Naude: “Ek het in my jong dae baie Afrikaanse musiek geluister en gehoor op TV en radio, maar Boemelaar se droom  was die eerste album wat ek gevoel het nie te koekerig en te wit was nie waar ‘n ou net sing en ek kan relate wat hy praat.

Schalk Joubert: “Koos Kombuis se kommersiële deurbraak”.

Danie Marais: “Met “Elke boemelaar se droom” breek Koos Kombuis deur tot ‘n heel nuwe mark en word ‘n huishoudelike naam met liedjies soos “Lisa se klavier” en “Bicycle sonder ‘n slot”, wat voorheen net in alternatiewe kringe gehoor is”.

Jan Blohm: “Inspirerend”

Charlie Beesskraal: “Elke boemelaar se droom van Koos Kombuis was definitief ‘n loopbaanbreker vir die Afrikaanse alternatiewe bewegings wat met fantastiese regie deur Anton Goosen bemeester is. Hierdie liedere het vinnig volksbesit geword vir ons land se dwarstrekkers teen kommersiële kommunisme. In die 90’s het hierdie liedere soos “anthems” geword veral onder studente en koshuise. Hierdie liedere homself gevestig as ‘n volwaardige respekteerbare liedjieskrywer met min akkoorde”.

Frazer Barry (Tribal Echo): “Toe ek die album die eerste keer gehoor het, kon ek nie glo dat iemand met so ‘n brose stem my met soveel oortuiging kon tref nie. Die Album is ‘n volkskat met van die treffendste musiek wat ooit in Afrikaans geskep en vervaardig is. Kwailappies! Julle het mooi gemaak daai tyd”.

Andries Bezuidenhout: “ ‘n Album met immergroen treffers (Johnny is nie dood nie, Bicycle sonder ‘n slot), maar wat in geheel iewers tussen ‘n musical, ‘n rock opera en ‘n stedelike hoorspel is”.

Wimpie van der Sandt: “Elke Boemelaar se droom is die gees van hele voëlvry beweging opgesom in een album”.

Eckard Potgieter: “Ikoniese album wat vir ons Johnny is nie dood nie en Bicycle Sonder ‘n Slot gebring het”.

Charles Leonard: “Koos Kombuis in al sy ongeskeerde glorie”.

Kobie Koen: “Die basiese struktuur en die blouprint van moderne Afrikaanse musiek, musiekfondasie en n kulturele erfenis”

Theunis Engelbrecht: “Uitstekend en baie entertaining”.

Valiant Swart: “Elke Boemelaar Se Droom, was soos sy vorige twee albums propvol onvergeetlike liedjies – kitstreffers, as’t ware; die groot verskil was dat dit meteens die hoofstroom-mark bereik het, te danke aan ‘n swaargewig- produksiespan”.

House of Bushrock was die produksievervaardiger en Vonk Musiek reik Elke Boemelaar se Droom uit en is dit nou 27 jaar later beskikbaar op alle stroming-en digitale platvorms: youtube, apple music, spotify, deezer ens. ens.

Kyk die musiekvideo’s hier: https://www.youtube.com/playlist?list=PLXERKVPluFK7d6xx7BYrgKmDvFIC7ZXI1

 

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*