
Met die eerste paar note van Jan Rhaap se nuutste enkelsnit, Jan Ek Kan Nie Dans Nie, word jy dadelik herinner aan Kenny Loggins se 1984 treffer Footloose. Die lirieke vewys tong-in-kies na Patrick Swayze en Jennifer Grey se onvergeetlike pas de deux in die film Dirty Dancing en noem selfs die Jerusalema dans wat die wêreld laat skoffel het, toe ons niks anders mag gedoen het nie.
Hoe is dit dan dat ʼn liedjie wat sal maak dat jy jou metgesel dansvloer toe wil sleep getiteld is Jan Ek Kan nie Dans nie? Wel, sedert Jan Rhaap begin musiek maak het, het hy hom uitgemaak as ʼn storieverteller. Die liedjies waarby Jan aanklank vind is die wat net so maklik as ʼn storie om ʼn kampvuur kon vertel word.
Dit is wat Jan Ek Kan Nie Dans Nie vir Jan laat uitstaan het. Die melodie het ʼn spesiale kwaliteit gehad, maar die storie was goud. ‘’Die liedjie gaan oor daai een vriend wat ons almal het, wat na elke troue genooi word met ‘n metgesel, maar nooit een saamvat nie. Sy plan is om op die troue sy metgesel te ontmoet vir die volgende klomp troues, maar sy prioriteite is nie op die regte plek nie. Hy kuier altyd te lekker en kom nooit by die ontmoeting uit nie,’’ het Jan gedeel
Jan Ek Kan nie Dans Nie is deur die bekroonde liedjie skrywer en vervaardiger Loki Rothman geskryf en is deur Tertius Human by Coolerbox Studios verwerk en vervaardig. “Ons wou graag die komiese kant van die liedjie laat uitstaan deur ‘n partytjie atmosfeer te skep. Die liedjie se tempo en kitare maak dat jy dadelik wil dans as jy hom hoor,” vertel Jan
Die Liedjie dien ook ʼn baie belangrike rol op Jan se Album Elmboog na Bo. ‘’Ons wou ʼn balans handhaaf tussen liedjies met diep lirieke en dieper temas aan die een kant en sorg vir opgewekte kuier musiek aan die ander kant. ’’
Vir Jan is die dit nou een van sy gunsteling liedjies om by optredes te doen. ‘’Dit is ongelooflik lekker om die liedjie lewendig op ‘n verhoog te sing, die mense is dadelik in ‘n partytjie gees en dis presies wat ons wil hê,” het hy geskerts.
Hierdie lied volg op ʼn ongelooflike goeie jaar vir Jan Rhaap so ver. Hy is met die onlangse Vonk Erkennings Aand met goue status vir sy liedjie Huisie In Die Bos vereer en het ook multi-platinum status vir sy musiekvideos vir Huisie in die Bos en Ramskilpad ontvang.
Jan Rhaap is tans besig om hard te skaaf aan nuwe musiek wat hy beoog om later die jaar vry te stele en bly besig met optredes. Hy sal ook binnekort te sien wees op die Bokboot toer in samewerking met Bokradio wat op die 29ste April vanaf Kaapstad na Walvisbaai vertrek.
Be the first to comment