
Sanger Wouter van de Venter se loopbaan het al verskeie hoogtepunte opgelewer. Hy is bekend as ‘n gerekende musikant, ‘n gesoute liedjieskrywer en ‘n mentor vir vele Afrikaanse liedjieskrywers. Maar selfs as ‘n reus in die bedryf, was hy nie voorbereid vir wat 2020 sou inhou nie. Sy nuutse enkelsnit, Ek Val kan gesien word as ‘n opsomming van die lesse wat hy tydens die onsekere tye geleer het.
Maart 2020 was die begin van moeilike tye vir almal en het musikante se lewens onherroepelik verander. Niemand kon werk nie. ‘n Inperking wat slegs 21 dae lank sou wees het bykans twee jaar lank voortgeduur. “Onkostes het nie minder geraak nie,” het Wouter vertel. “Skoolgelde het nie minder geraak nie, kos het nie goedkoper geraak nie. Ek het eerlikwaar nie meer geweet watter kant toe nie. Maar ek was nie alleen nie…’’
Meeste musikante was skielik afhanklik van aanlyn vertonings en donasies. “Ek was bang. Dit was toe al winter. Ek was reeds agterstallig met al die betalings en toe was daar nog beurt-krag ook. Ek moes struggle vir sigarette en struggle vir n ou doppie. So jy is nugter en in jou moer!’’ skerts Wouter.
Dit is toe dat hy weer begin kontak maak met van sy ou kollegas. Al die vriende het mekaar moed ingepraat, opgebeur en probeer ondersteun. Vandaar het Wouter inspirasie vir Ek Val gevind.
Wouter het sy goeie vriend Jahn Beukes gekontak om met die verwerking te help, en toe hy die snare hoor, het hy vir sy vrou Anita vertel dat dit ‘n duet moet wees. Anita was seker dat daar net een persoon kon wees en dit was Nianell.
Wouter het besluit om sy musikant-vriende Clinton Wairing en Leon Ecroignard ook te betrek. Wouter en Sonia (Nianell) het as studente al saam begin optree en hyself, Clinton, Leon en Jahn Beukes het vir ongeveer 5 jaar saam met Laurika Rauch gespeel. Hy en Leon het ‘n verdere bykans 5 jaar met die groep Ses Snare as stigterslede getoer.
“Dit was ‘n soort reünie, en dit was heerlik om weer deel te wees van mekaar se lewens. Dit was ook lekker om mekaar weer te sien en te gesels oor die ou dae en om te braai! So ja, die liedjie is iets heeltemal anders as wat ek gewoonlik doen,” deel Wouter.
Wouter dra die liedjie op aan sy vrou Anita wie hom deur die moeilike tyd gedra het en hy hoop dat die lied luisteraars ook sal moed gee wanneer dinge moeilik begin raak, want ons val nie maklik nie.
Die liedjie is beskikbaar op alle digitale platforms.
https://linktr.ee/woutervdventer
Be the first to comment