
BEKROONDE LIEDJIESKRYWER EN SANGER, WOUTER VAN DE VENTER IS TERUG MET ‘N NUWE ENKELSNIT
Die Bobaas liedjieskrywer Wouter van de Venter het pas sy langverwagte nuwe enkelsnit Sonneblom vrygestel. Wouter se musiekvideo vir sy lied, As Die Hippies Begin Dans spog met meer as 2 miljoen kykbeurte op Youtube en hy sien uit daarna om sy nuwe musiek met sy aanhangers te deel.
Wouter het bekendheid verwerf as deel van die groep Ses Snare waar hy sedert 2007 saam met Mathys Roets en Mel Botes optree, maar het vir so lank as wat hy kan onthou liedjies geskryf. Aanvanklik het hy net in Engels geskryf maar hy was nooit regtig tevrede met die songs nie tot Desember 1995 waar hy sy pen vir sy eerste Afrikaanse liedjie gewend het. Vir die eerste keer was hy gelukkig met die song, hy wou niks verander nie en net so is sy debuut album, wat in 1998 vrygestel is, Voel Vere gebore.
Liedjies soos My Lam en sy eerste en enigste politieke liedjie Ou Maat was goed ondersteun deur RSG en hy is ook gevra om aan die 10 jaar reunie van die Voëlvry beweging deel te neem aan Kaktus op die vlaktes by die KKNK. Hier het hy vir die eerste keer voor en saam met sy helde Koos Kombuis, Valiant Swart en Johannes Kerkorrel opgetree.
Ander hoogtepunte van Wouter se loopbaan is toe hy Breyten Breytenbach se gedig, Ballade Van Ontroue Bemindes vir die liedjeboer Anton Goosen getoonset het en toe Dozi se liedjies Pretoria Prinses, Soutsmaak, As ek verlief raak, Sonder Jou en Kom ‘n Bietjie Binne opgeneem het. ‘’Ek moet erken dit was nogal ‘n draaipunt in my loopbaan. Danksy Dozi het soveel meer mense my baby’s gehoor en ek sal hom altyd dankbaar wees daaroor. Ek het nou so baie navrae vir songs, ek kan nie by bly nie.’’ Deel Wouter.
Sy Album Donkerkant is ‘n lekker harde rock album met een ballade wat baie goed vir hom gedoen het. Sy liedjie Ek Roep Jou Naam” is onder andere ook opgeneem deur Theuns Jordaan, Laurika Rauch & Christiaan Kritzinger. (Christiaan Baartman)
Volgens Wouter is songwriting ‘n gawe van bo wat regtig somtyds so vinnig gebeur dat jy regtig nie krediet vir die liedjie kan neem nie. ‘’Ek dink baie wiskundig oor skryf. Ek deel ‘n song op in lirieke en in musiek. Omdat ek musiek geswot het, het ek nooit regtig veel waarde geheg aan lirieke nie. Die melodie en die riffs en die groove is al wat vir my belangrik was. Dis nou maar die laaste paar jaar wat ek regtig ingaan in die lirieke.’’
Sedert 2015 woon Wouter in die Weskus waar hy die sangpaar Wynand & Cheree Strydom se Fine Tune Studio vir hulle bedryf.
My beste pel op die weskus. Go Wouter!! Nog baie in die pyplyn!!