
Agt maande nadat die bekroonde rock-indoena, argitek en liriekskrywer Daniel Eewrick sy Suid-Afrikaanse musiekwortels uitgetrek het, en in Nederland in die geskiedkundige stad Den Bosch verplant het, is hy terug met nog ’n enkelsnit Elke huis het sy kruis.
Dié snit is vanaf sy album Op die leë paron (sic) wat sewe jaar gelede met ’n Ghoema vir beste alternatiewe album in Afrikaans bekroon is.
Hoewel Daniel al so Nederlands soos ’n paar klompe en ’n bos tulpe is, het hy nog nie die Afrikaanse idoom, wat so romerig in sy lirieke voorkom, verloor nie.
Elke huis het sy kruis is ’n sprekende voorbeeld daarvan – eersgenoemde is ’n bekende idoom wat nie net deur Afrikaanssprekendes gebruik word nie, maar ook deur tweedetaalsprekers (dáárdie idome waarmee Graad 12’s in die
Afrikaansklas gepeper word.)
Dié liedjie, vertel Daniel, het hy vir sy susterskind, Nicolene Ferguson, geskryf. “Die liedjie se sentrale tema wentel om wense. Wense vir haar toekoms vorentoe; dieselfde wense wat enigiemand het vir iemand vir wie hul lief is.”
Die kombuis figureer ook sterk in die liedjie… “elke huis het sy kombuis….beminde kombuis.”
Dit is in ’n kombuis, rondom die kombuistafel waar wense gewens word, waar stories vertel word, vertel Daniel. Daniel, wat voorheen in Gqeberha (Port Elizabeth) in die Oos-Kaap, gewoon het, se kombuis in sy woonstel in Den Bosch is aansienlik kleiner, maar hy kuier gereeld saam met sy Nederlandse vriende om die kombuistafel. “Ons het lang gesprekke oor die lande waar ons vandaan kom; oor ons drome, en natuurlik ook ons wense…”
Daniel, wat veral bekend is vir sy glas- en sement argitektoniese ontwerpe, het in middel Februarie vanjaar by die internasionale werwingsmaatskappy Tailorminds aangesluit, waar hy aan onder meer by die konstruksie van farmaseutiese-geboue betrokke is.
Dié nuwe fase(de) – dit is ’n woord wat nogal baie deur argitekte gebruik word – het ook ’n nuwe era in sy musiekloopbaan ingelui.
Dié lirieke van Elke huis het sy kruis is in tipiese Daniel-styl geskryf. Daar is geen geforseerde rympatroon nie en die woorde gaan sit stewig in die luisteraar se hart.
Die liedjie is net soos sy vorige snitte netjies verpak en tegnies goed versorg. Dit is deur die musiekvervaardiger Peter Pearlson opgeneem.
Net soos sy vorige enkelsnit Op die leë peron het hy ook ’n musiekvideo van Elke huis het sy kruis in Nederland geskiet, maar die tegniese versorging en redigering daarvan is in Suid-Afrika gedoen.
Daniel meen dat Nederlandse musiek nie veel van Afrikaanse musiek verskil nie. “Dit klink nogal baie dieselfde – as jy nie mooi na die woorde luister nie, sal jy dink dit is Afrikaans. Afrikaanse musiek het natuurlik meer ’n Afrika-inslag, maar oor die algemeen is dit baie dieselfde.”
Wat is jou grootste wens?
“’n Wens dat alle goeie wense moet waar word.”
Vir meer inligting:
Lydia Winchester
Sel: 082 554 8453
E-pos: lydiaw@mweb.co.za
Kyk die musiekvideo hier:
Be the first to comment