SANGER EN LIEDJIESKRYWER, SIMONÉ ROETS, RAAK HARTE MET DEBUUT-ENKELSNIT

’n Passieprojek wat in Brisbane, Australië, gebore is, het gelei tot die vrystelling van ’n inspirerende enkelsnit wat daarop gemik is om vir luisteraars hoop te gee.

DANS IN DIE DONKER, deur die Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Simoné Roets, gaan daaroor om nie te wag totdat alles perfek is in jou lewe voor jy met oorvloed leef en liefhet nie.

Dié snit, uit die pen van Simoné en Jattie de Beer van Artistry Productions, is geïnspireer deur die besef dat moeilike tye onvermydelik is en ons dalk meer moet fokus op ‘hoe’ ons daardeur gaan eerder as om te vra ‘hoekom’ dit met ons gebeur. “Pyn en mooi loop dikwels hand-aan-hand,” sê Simoné. “Die lewe is nie altyd een of die ander nie. Inteendeel, dit is soms ’n bietjie morsig en donker, maar ons kan vreugde en vrede vind te midde van die chaos.”  

DANS IN DIE DONKER se boodskap is veral relevant in vandag se tyd, waar so baie mense swaarkry. “Die boodskap is eerlik, maar steeds opbouend en lekker om na te luister,” verduidelik Simoné. “Dit het ’n unieke klank en bied ’n vars benadering tot Afrikaanse musiek, wat ek glo by luisteraars sal aanklank vind.”

Die musiekvideo vir hierdie treffende lied sal op 28 September bekendgestel word.

DANS IN DIE DONKER is die eerste vrystelling vanaf Simoné se opkomende Afrikaanse album. “Ek en my man het ’n naby-vriend verloor in Desember 2019. Kort daarna, is Australië onder Covid-grendeltyd geplaas, en ek het nie meer ’n verskoning gehad om nie te skryf nie. Ek het tyd op hande gehad en vir die eerste keer gevoel dat ek iets het om te sê. Vir een of ander rede, het die inspirasie my in Afrikaans getref. Daar in die verte, het ek net weer besef hoe diep-mooi ons taal is.”

Simoné, wat al vir 4 jaar oorsee woon, is tans in Suid-Afrika vir die opname van haar debuut-album. “Die idee om dit in persoon, op Suid-Afrikaanse bodem, op te neem het aan die einde van 2020 posgevat. Gelukkig het omstandighede in ons guns uitgewerk en kan ek dit so doen.”

Simoné en haar vervaardiger, Jattie, werk al vir baie jare saam. “Ons het baie dieselfde idees oor dit wat vir ons mooi is, daarom is daar ’n lekker sinergie tussen ons. Ruimte word altyd toegelaat vir in-die-oomblik-kreatiwiteit en ons tye saam in die ateljee is altyd vir my ’n hoogtepunt.”  

Die resultaat van hierdie goeie verhouding, is dat luisteraars kan uitsien na ’n Afrikaanse – album met baie detail en diep deurdagte lirieke – wat harte raak, inspireer en uitdaag. Simoné hoop dat luisteraars met haar liedjies sal kan vereenselwig. Vir haar gaan musiek nie oor sukses nie, maar eerder oor die voorreg om iets uit niks te skep en met ander te deel.

Soms moet ’n mens net doen wat in jou hart en in jou hande is en nie te veel verder daaroor dink nie. Ek wil graag ook ander mense aanmoedig om te doen waaroor hulle passievol is en om hulleself nooit te vergelyk met ander nie,” meen sy. “Dit gesê, bly dit ‘n uitdaging om nie te veel vas te haak by hoekom jy jou musiek daar buite sit nie, maar eerder die proses te geniet en nie te gestoord wees oor wat ander daarvan gaan dink nie.”

Simoné het in Nelspruit groot geword en in sport uitgeblink as kind. Toe sy begin Regte studeer het was haar vriendekring ‘n klomp kreatiewe mense wat haar gehelp het om ’n ander deel van haarself te ontdek. Net daar het haar passie vir musiek vlam gevat en het sy besluit om haar eerste kitaar te koop.

In 2016, het sy ’n kortspeelplaat vrygestel genaamd Take Over. My Dear en Create In Me is geskryf toe sy in 2018 saam met ander musikante aan ’n projek gewerk het. Die musikant is ook baie betrokke by die Hillsong City Campus in Brisbane.

Mense assosieer Simoné hoofsaaklik met haar regsagtergrond en haar avontuurlus en dit het soms ’n invloed op haar selfvertroue, maar omdat musiek ’n kreatiewe uitlaat is gee dit vir haar baie vryheid om haarself uit te druk en teen haar eie tempo te groei.

DANS IN DIE DONKER is opreg en eerlik, en gaan beslis heelwat Afrikaanse musiekharte verower.

Dit is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Laai dit hier af:

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Instagram@simone_roets_

Facebook: https://www.facebook.com/simoneroets.music/

YouTubehttps://www.youtube.com/channel/UC2_Nq9GLhF-RdnWAhGLQoFQ

 

PUBLISITEIT & BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES

Alishia van Deventer

Sel: 083 635 4717

E-pos: alishia@starburstmusic.co.za

Webblad: www.starburstmusic.co.za

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


10 − 6 =