SANGER VRA HULP OM HONGER TE STOP

Sanger vra hulp om honger te stop

Die Afrikaanse sanger Willem van der Ryst se jongste musiekvideo is spesiaal aan Helpende Hand opgedra om mense van die hongersnood in Afrikaanse gemeenskappe bewus te maak.

Die sanger, bekend vir sy treffers, “Knipmes-aand” en “Buffelram”, was al op verskeie radiostasies se Top 40-trefferlyste. In samewerking met Solidariteit Helpende Hand wil hy sy talent gebruik om  nou aan die gemeenskap terug te gee. Met sy jongste lied “Gee ʼn Bietjie” wil hy mense inspireer om mekaar te help.

Van der Ryst was saam met Helpende Hand toe beeldmateriaal vir “Gee ʼn bietjie” geskiet is. Hy het eerstehands ervaar wat die #StopHonger-voedingsprojek doen om daagliks duisende kleuters landwyd van ʼn bord voedsame kos te voorsien.

Hy sê die opname van die video het gemengde gevoelens in hom laat ontstaan.

“Dit was so lekker om die kindertjies so gelukkig te sien. Ek het ʼn interessante ding waargeneem; al is hulle nie so bevoorreg soos ander kinders nie, glimlag hulle die heeltyd – dit verg nie baie om hulle gelukkig te maak nie. Die grootste ding waarna hulle daagliks uitsien is die bord kos wat hulle by hul kleuterskool kry. Dit is hartverskeurend hoeveel kinders van ʼn ete by die skool as hul primêre ete vir die dag afhanklik is,” sê Van der Ryst.

#StopHonger sorg tans dat minstens 8 000 behoeftige kleuters en hul gesinne in Afrikaanssprekende gemeenskappe kos kry.

“By Helpende Hand is hongersnood onder ons mense ʼn alledaagse gesprekspunt. Dit hang soos ʼn donker wolk oor ons en is iets waaroor ons elke minuut van elke dag dink. Ons dink ook aan die feit dat ons nie almal kan help nie – ons kan maar net bietjie vir bietjie help. Om ʼn gemeenskap te mobiliseer om mekáár te help, is die sleutel tot ʼn volhoubare oplossing,” sê René Roux, adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie by Helpende Hand.

“Met die bekendstelling van ‘Gee ʼn Bietjie’ deur Vonk Musiek, vat ons hande en poog ons om die gemeenskap te mobiliseer om hulle harte en beursies vir die kleuters oop te maak. Ons vra die gemeenskap om ondersteuners van ʼn maatskaplikgebaseerde organisasie te word wat gemeenskappe bemagtig en help om tot hul volle potensiaal te ontwikkel.”

 

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*