NUWE ROCKSENSASIE GAAN SUID-AFRIKA LAAT REGOP SIT!

NUWE ROCKSENSASIE GAAN SUID-AFRIKA LAAT REGOP SIT!

Hy loer agter sy donker sonbril uit; en met ’n stil en half skugter kyk in sy oë trek hy jou in. Daar is iets magies omtrent hom, hierdie gebore Vrystater wat lankal reeds Pretoria sy huis noem. ’n Oud Affies-leerling en COPA-student. ‘Iets’ maak dat jy nie kan ophou om vir hierdie twee-en-twintig-jarige jong man, met die swart leerbaadjie en stywe jeans, te kyk nie. Dalk is dit al die tatoes – daar is verseker stories daar iewers diep ingeteken…  Sy oë glimlag deurentyd versigtig en dit laat jou wonder wat in sy kop aangaan…

Lang donker lokke, wat tot op sy skouers hang, verklap sy kunssinnige kant en instinktief weet jy hy’s ’n rock– musikant. Maar dis ’n anderste tipe rocker dié. Hy is fiks, gesond, ‘skoon’… Hy praat sag en beheersd en jy wonder… Is dit die één waarvoor ons almal gewag het?   Die nuwe rocksensasie met lirieke wat sin maak? ’n Begaafde musikant wat nie bang is om sy eie styl en waarheid met aanhangers te deel nie, wat sy aangrypende hartslirieke, sielvolle stem en unieke stempel sal kom afdruk en saam met wie ons sommer kliphard sal kan rock?

Op die stel van die musiekvideo wat vir sy nuwe enkelsnit, EK KAN NET BID, wat deur CoolerBox Brothers by Monte de Dios verfilm word, is ’n reuse koepel met massiewe skerms. Vyftien mense hardloop rond en regisseur, George van Rooyen, skree instruksies oor die megafoon. Die aandlug is elektries en opwinding is tasbaar in die lug. Die verhoog is donker terwyl die klavier en sy band gereed staan en wag. Langs die klavier lê ’n bos geel sonneblomme. Hy verskyn skielik van nêrens af en skuif agter die klavier in. Sagte note weerklink en sielvol begin hy sing:

Vieruur die oggend as die bed steeds kraak,

 na al die oorlog, sukkel hy om te slaap,

 hy val deur die krake… hy val tot hy wegraak…

Saggies trek hy jou in en dan, dan staan ZAAN SONNEKUS in al sy glorie op vanuit agter die klavier en jy sien dit! ’n Totale transformasie vind voor jou oë plaas. Hy rock! ’n Atoombom ontplof op die groot skerm, hy skop in die lug, gryp en gooi die mikrofoonstaander, spring en swaai sy hare en nét daar word die verhoog, die gehoor én jy syne! Voor jy jou kan kry sing jy, néé, jy skree uit volle bors saam Ek kan net bid vir nou! Ek kan net bid vir jou!Die wysie en die woorde verlaat nooit weer jou kop nie…

Die woorde van sy nuutste enkelsnit sny reguit tot in jou siel en dis asof jy elke emosie saam met ZAAN SONNEKUS ervaar. “Dit gaan oor gebed in desperate tye. As ons almal net kan saam bid, saam leef, sal ons die wêreld kan verander,” sê hy oor dié lied.

Van desperate tye kan jy ZAAN SONNEKUS min vertel. Hy staan met sy hande uitgestrek wanneer hy sing:

“Ek kan net bid vir jou,

tot my dae opraak, ek het nog soveel vrae.

Ja ek sal veg vir jou,

en als waarvoor jy wou.

Tot my dae uitloop as jy jou siel verkoop.

Ek kan net bid vir nou. 

Ek kan net bid vir jou.”

Jy kan nie help om hoendervleis te kry terwyl hy dit sing nie. Jy kan nie help om trane af te vee nie – dit kom net vanself. Sy pa, broer en sussie is ook by die verfilming en sy ma ook – in die gees. Vooraf het hy reeds verduidelik dié lied is vir hom baie persoonlik en gaan oor hoe hy en sy ma vir mekaar gebid het in krisistye toe hulle bang was dat hulle mekaar gaan verloor.

“Die meeste van my liedjies begin as ’n gedig wat aangepas word om by die wysie te pas. Hierdie een is vir my soos ’n kleipot… wat tien-teen-een net so broos is soos wat ek was toe ek dit geskryf het, maar ook amper soos ’n gebed is wat my in al die chaos en verwoesting die krag gegee het om moed te skep en aan te hou veg. Dit is rondom my een-en-twintigste verjaardag geskep – net voor of na my ma na ’n rehabilitasiesentrum toe gegaan het. Sy was ’n ongelooflike en saggeaarde mens, het my alles geleer van liefde en vrede en was een van die beste kunstenaars wat al ’n kwas opgetel het. Maar soms maak trauma ’n mens dood aan die binnekant en dan vergeet jy wie jy eintlik is. Sy is die rede agter die liedjie. In my jonger dae, het ek ’n paar keer wakker geword met haar wat op my bed sit en vir my bid en ek dink dis wat my sover op die regte pad gehou het.”Hy erken dat liedjies skryf sy manier is om woede en pyn te verwerk. “2016 tot 2020 was ’n baie moeilike tyd in my lewe en toe my ma ook nog boonop oorlede is aan Covid-19 het dit my amper gebreek. Om nie kop te verloor in donker tye nie, sterk te staan en eerlik te wees, was die grootste uitdagings wat ek sover moes oorkom en ek sukkel steeds soms daarmee,” deel hy.“Ek sal nie verbaas wees as my musiek mense skok nie, omdat dit ’n nuwe klank het wat dalk dramaties of aggressief kan voorkom, maar as jy net bietjie dieper luister sal jy betekenis vind in die liedjie en hopelik maak dit iets binne in almal wakker wat dit hoor. Die lied is ’n geringe blik op wie ek is, maar kan dalk iets heeltemal anders vir iemand anders beteken”, sê hy en dan sit hy die sonneblomme op die klavier neer en sê: “Dis vir haar. Ek vereer die persoon wat hierdie lied geïnspireer het,” draai om en stap weg.

En dis al wat hy ons gee – ’n geringe blik op ZAAN SONNEKUS, maar ons is reeds verslaaf aan hom en ons soek meer!

 

Kyk die video hier:

ZAAN SONNEKUS se debuut-album sal in September 2021 deur CoolerBox Brothers uitgereik word.

EK KAN NET BID is nou aanlyn op alle digitale platforms beskikbaar. Laai dit hier af: xxx

KREDIET:
Liedjievervaardiger: Tertius Human

Musiekvideo-vervaardigers: Kobie Koen, Marno Koen, Michael Van Zyl

Musiekvideo-regisseur: George Van Rooyen

Musiekvideo-konsep: Zaan Sonnekus, Kobie Koen, George Van Rooyen, Michael Van Zyl

Choreografie:  Willie Venter

 

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/ZaanSonnekus.music

Instagram: @Zaan_Sonnekus

Webblad: www.zaansonnekus.com

YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCCZIFQkm_94s3jtwi81kM_g

SoundCloud: https://soundcloud.com/zaan-sonnekus

 

PUBLISITEIT & BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES

Alishia van Deventer

Sel: 083 635 4717

E-pos: alishia@starburstmusic.co.za

Webblad: www.starburstmusic.co.za

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


19 − two =