
Mnr. SA nuutste enkelsnit – Ek Staan Stil
Die nuutste Mnr SA, Hannes Van Der Walt, is reg om groot spore te trap in die musiekbedryf met sy nuutste enkelsnit. Hannes het sy eerste album ”Versoening” vrygestel in 2008 en het sedertdien nog twee albums vrygestel. Met sy nuutste enkelsnit EK STAAN STIL en Mnr SA titel is Hannes nou reg vir die volgende stap in sy loopbaan en gereed om groter mylpale aan te durf.
EK STAAN STIL is geskryf en vervaardig deur Hannes Van Der Walt en Tertius Human. Die liedjie vertel die storie van hoe ’n mens kan twyfel of jy op die regte pad is in die lewe en of ’n mens die regte besluite neem. Dit is metafories geskryf met die bedoeling om te sê dat ’n mens nie altyd vorentoe of agtertoe hoef te beweeg nie. Soms is dit goed om net stil te staan, te waardeer en dankbaar te wees vir waar jy nou is op jou lewenspad.
Luisteraars sal verseker aanklank vind by hierdie lied in hierdie moeilike tye waar so baie van ons vorentoe probeer beweeg, maar terug gehou word deur die pandemie. Dit is die ideale inspirasielied vir enige Afrikaanse gemeente.
Hannes het groot geword in Kempton Park en is van kleinsaf baie passievol oor musiek. Hy geniet dit om Gospel te sing en sy geloofoortuiging met ander te deel.
Hannes is baie gedrewe om ’n verskil te maak en sal graag mans se vooropgestelde idees in die manier hoe hul groot gemaak is wil aanspreek. Hy wil graag daarop fokus deur sy NPO wat minder-bevoorregte kinders voed asook deur sy musiek.
Be the first to comment