Sedert die grendelstaat in Maart afgekondig is, moes musikante ander planne maak o.a. aanlynvertonings. Anton Goosen het besluit om sy Anton en Vrinne-vertonings aanlyn te laat herleef met sy program Kaggelkuiers met Anton en Vrinne – elke Sondag 15hoo.
Eerskomende Sondag 1 November is dit die 17e episode van die aanlyn interaktiewe gesels-en-musiekprogram Kaggelkuiers met Anton en Vrinne. Die hoogtepunt-program is saamgestel uit die vorige 16 episodes. Van die gaste wat reeds aanlyn om die virtuele kaggel gekuier het is o.a. Jan Blohm, Dozi, Valiant Swart, Gian Groen, Hanlie Retief, Frazer en Deniel Barry (Tribal Echo), Lise Swart, Riku en Jackie Lätti, Churchil Naude, Beeskraal, Jakkie Louw, Pietman Geldenhuys, Lochner de Kock en Johrné van Huyssteen, Dana Snyman, Willim Welsyn, Vinnie Henrico en Neil Sandilands.
Na die hoogtepunt-program volg Deon Meyer se kuier op 8 November en die gegrendelde jaar word verder afgesluit deur Richard van der Westhuizen, Luna Paige, Jack Parow, Andra en Conrad Jamneck, Jannie du Toit en Andy Lubbe.
Die gaste wat kom kuier gesels oor hulle lewe, projekte waarmee hulle besig is en maak lekker musiek. Anton begin en eindig die program elke week met ‘n keurspel uit sy repertoire.
Jaco van Dyk stap al van die begin af die pad saam met Kaggelkuiers. Nie net is hy ons tegniese guru nie maar hy sorg vir groot pret en lekker gesels elke week.
Kaggelkuiers saai uit op Anton Goosen Liedjieboer bladsy op Facebook, asook op Youtube en Jaco van Dyk se Woes platvorms. Die programme is gratis om te kyk maar Anton dek kostes deur weekliks ‘n skakel te plaas waar kykers donasies kan maak of ‘n lootjie kaartjie kan koop waar hulle wonderlike pryse kan wen. Tixsa hanteer die kaartjieverkope van die lootjies en donasies namens Anton.
Be the first to comment