
Henning Joubert – Karookind
Die nuwe enkelsnit van Henning Joubert, getiteld Karookind, neem ‘n mens na ‘n byna vergete landskap vir sommige met die terugbring van goeie herinneringe.
Henning het die lied geskryf in die Karoo tussen die berge rondom die Touwsrivierdistrik toe hy ‘n paar jaar gelede daar gewerk het as instrukteer by ‘n anti-wildstroop opleidingsfasiliteit. Daar is ‘n plek genaamd Sewefontein, waar daar letterlik sewe fonteine bo in die berg lê. Dit was vir Henning en sy nooi ‘n spesiale plek en daar is die lied gebore.
Dit handel oor geduld, die kuns van wag, die betowering van die Karoo en om alles natuurlik te aanvaar soos dit uitwerk of nie uitwerk nie.
Die opname het plaasgevind by Vonk se studio, met Vinnie Henrico op tromme, Denny Lalouette op baskitaar en sy dogter, Veronique, die agtergrondstem. Henning het al die kitaarwerk gedoen en sing die lied in ‘n meer opgewekte styl as wat dit aanvanklik geskryf is. Oorspronklik was die klank meer ‘n akoestiese bluegrass feel en ‘n weergawe hiervan is eersdaags beskikbaar in ‘n konsert saam met Henning en Gian Groen. Tertius Human het die opname behartig as ingenieur en gehelp met die verwerking.
Karookind vorm deel van die album Namib Nagte en is beskikbaar op iTunes, Spotify, Joox en Google Play.
Be the first to comment