
Jan Blohm – Jenny
JAN BLOHM SE NUWE ALBUM IS ‘N LIEFDESVERHAAL
“Die boodskap is eenvoudig. Ons het nie veel meer nodig as liefde en menslike konneksie nie.” – Jan Blohm
Jan Blohm, se konsep-album, JENNY, wat uit veertien snitte bestaan is pas bekendgestel. Dit vertel die storie van twee tieners wat in die 1980’s in die klein konserwatiewe spoorwegdorpie, De Aar, woon. Dit is die eerste keer wat hy so ’n projek aanpak, maar volgens hom is dit iets wat al lank in sy kop broei en eendag die klankbaan van sy fliek met dieselfde naam gaan wees.
“Die album is nie net nog ’n versameling liedjies nie,” verduidelik die kunstenaar. “Ek het baie moeite gedoen om oor die afgelope vyftien jaar liedjies en gedigte saam te sit om ’n storie te vertel. Dis soos ’n fliek van Jenny se lewe.”
Jenny, was die eerste enkelsnit wat vanaf die album vrygestel is en die doel daarmee was om die album en sy hoofkarakters aan die luisteraar bekend te stel. Dié liedjie pronk steeds op verskeie radiotreffersparades.
Die tweede enkelsnit wat pas vrygestel is, Karoo, skep die omgewing en lê klem op die landskap wat deur hierdie mense se are vloei en dit vir hulle moeilik maak om elders aan te pas. Dis ’n lied oor Jenny se eie hunkering om terug by die huis te wees. In hierdie lied deel hy die volgende hoofstuk in Jenny se verhaal en kry hy dit reg om luisteraars verlief te maak op die besonderse landskap… al was hulle dalk nog nooit daar nie.
Die musiekvideo van, Karoo, wat in een dag op De Doorns, Touwsrivier, Karoo 1 Hotel verfilm is, is beeldskoon en mense besef nie regtig hoe mooi die landskappe, kranse en berg is totdat jy na hierdie video kyk en na die sanger met sy rou emosionele stem luister nie.
Kyk die video hier:
Die video is geskiet en vervaardig deur Lionel Smit Side Film Productions met kamera werk deur Ruan Kotze, terwyl die hommeltuig deur Nic van der Westhuizen hanteer is met ondersteuning deur assistant Andrew Milton en fotografie deur Coetzer Cooke.
Alhoewel hy bekendheid verwerf het vir sy kenmerkende rock-blues klank, het Soul-musiek nog altyd ’n groot invloed op die musikant se styl gehad en hierdie element is duidelik in Karoo – asook die res van die album – teenwoordig. “Ek het vir hierdie album baie inspirasie geput uit Suid-Amerikaanse koormusiek en die werk van verskeie Soul-kunstenaars,” erken die sanger.
Omdat konsep-albums geneig is om op ’n sentrale tema te fokus – in hierdie geval Jenny se storie – hoop Jan dat mense die album van begin tot einde sal luister. “Ek hoop luisteraars geniet dit. Die meeste mense hou van stories en hierdie is ’n liefdesverhaal wat met ’n hele album vertel word.”
Volgens hom, gaan die album oor liefde en die idee dat dit nooit sterf nie en jou altyd weer sal vind. “Die boodskap is eenvoudig. Ons het nie veel meer nodig as liefde en menslike konneksie nie.”
Jenny volg in die suksesvolle voetspore van Die Liefde Album, wat baie goed ontvang is, talle Ghoema-toekennings gewen en verskeie radio-treffers opgelewer het.
Snitte op die album:
- LEVI JEANS
- NONNIE
- JENNY
- OU KAROO
- SOOS ‘N LADY
- WAAROM NIE NOU
- LALLIE
- WAAR KRY JY JOU NAAM VANDAAN?
- NOG ‘N SONG
- AS JY MY NOU KON SIEN
- SANNIE VAN DER SPUY
- DANS MY DEUR ‘N VELDBRAND
- DAWID
- MY BEMINDE
Die musikant het in die bedryf begin as lid van die rockgroepe, Demigods, Ledd Eye en Duin 7, voordat hy in 2004 sy solo-loopbaan afgeskop het met die vrystelling van sy eerste album, Melkstraat Confessions. Dit het nuwe lewe kom blaas in die Afrikaanse rockbedryf en aan hom drie GMT-toekennings besorg vir Album van die Jaar, Liedjie van die Jaar (Breyten se Brief) en Beste Nuwe Kunstenaar van die Jaar.
Sy tweede album, ’n Stille Runaway, is heeltemal self vervaardig en is in 2005 uitgereik. In dieselfde jaar, het Jan ook die hoofrol gespeel in die Afrikaanse dramareeks, Dit Wat Stom Is, waarvan hy die titelsnit – Dromer – geskryf en gekomponeer het.
Groen Trui het kort daarna gevolg, waarna 7 Jaar in 2009 vrygestel is en verskeie toekennings vir dié rocker ingepalm het.
Oor die afgelope paar jaar, het hy ’n gewilde gesig geword by die land se grootste musiekfeeste en het hy die rede geword hoekom betekenisvolle musiek weer ’n volwaardige plek in die bedryf het.
JENNY is nou hier aanlyn beskikbaar:
SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/janblohmfanpage/
Instagram: @janblohm2020
Twitter: @JanBlohm
PUBLISITEIT & BEMARKING
Starburst Promosies
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za
Be the first to comment