DOZI – VREDE

Dozi – Vrede

DOZI VIER MEER AS TWEE DEKADES IN DIE MUSIEKBEDRYF MET ’N NUWE ALBUM

Wanneer jy die naam Dozi hoor, dink jy onwillekeurig aan treffers soos Grassade in die Wind, Ou Ryperd, Tussen Jou en My en meer en sien jy in jou geestesoog ’n prentjie van dié sagmoedige reus wat oor die afgelope twee dekades diep spore in Suid-Afrikaanse musiekharte kom trap het.

Nadat hy homself vir die afgelope paar jaar daarop toegespits het om vir ander kunstenaars die geleentheid te gee om hulle werk met gehore te deel by sy restaurant en kuierplek, Dozi’s Back to the Roots, het hy besluit om vanjaar weer op sy eie musiek te fokus en aanhangers te verras met ’n splinternuwe album, wat beloof om hulle stoutste verwagtinge te oortref.

VREDE is ’n versameling snitte wat jou nie net nostalgies sal laat verlang na die verlede nie, maar ook met hoop sal vul vir die toekoms en met waarderende oë sal laat kyk na die hede. Hierdie akoestiese-verwerking gaan voortbou op die wenresep waarvoor dié sanger oor die jare bekendheid verwerf het, maar ook ’n splinternuwe kant van sy musiek vir die publiek wys.

“Wat hierdie projek uniek maak, is dat dit lewendig op my plaas opgeneem is saam met baie ervare musikante. Almal het hulle skitterend van hulle taak gekwyt en dit het baie goed uitgekom,” verduidelik die ster oor die konsep agter die opname. “Ek het op die titel besluit omdat ek op hierdie stadium van my lewe moeg is vir alles wat nie vrede gee nie – enigiets wat konfronteer, lelik en negatief is. Daar moet net vrede wees.”

Elkeen van dieliedjies is noukeurig uitgesoek om Dozi se stem en styl te komplimenteer en die eindresultaat beloof om vir hom sommer ’n hele klomp nuwe luisteraars in te palm.Vir die afgelope ses jaar, het ek probeer om ’n restaurant aan die gang te hou. Dit het my laat besef hoe belangrik musiek eintlik vir my is. Dit is wat ek ken en waarvoor ek lief is en het my geïnspireer om hierdie album op te neem en eerder die restaurantbedryf vir diegene te los wat daarin spesialiseer,” vertel hy.

Dozi se negentiendealbum spog met twaalf oorspronklike snitte, waarvan hy drie liedjies self geskryf het. Stef Kruger het die res geskep en, volgens die sanger, was dit vir hom so lekker om weer saam met hierdie begaafde liedjieskrywer te werk. Die inhoud kan hoofsaaklik beskryf word as ’n kombinasie van dieper dinkmusiek, wat hier en daar afgewissel word met ’n ligter dansnommertjie. “Saam met ‘Op Aanvraag’ en die ‘Mercy’-album, beskou ek my nuutste vrystelling as iets wat die naaste kom aan die ware Dozi-klank en ek sien uit daarna om dit met gehore te deel. Die album is in vrede gemaak, in vrede weggestuur en nou moet dit in vrede geld maak,” verklap die musikant. Sy vorige album, Hande vol Genade, is positief ontvang en het baie goed by vertonings verkoop.

Omdat hy daarin glo om musiek te skep wat vir mense iets beteken, sonder hy die liedjie As Jy Deur Hel Gaan uit as een van sy gunstelinge. “Dis ’n lied wat so gepas is vir vandag se tyd. Ek glo daaraan dat as jy lirieke skryf dit oor iets moet gaan wat in elke mens se lewe iets kan beteken,” sê hy oor dié snit wat hy self geskryf het.

Ander titels op die album, soos Partykeer Somtyds, Galgtou, Dis Net Woorde en Groete verklap dat emosie ’n belangrike tema is wat aangespreek word en dit gaan beslis luisteraars se hartsnare prikkel. Die rede hoekom ek musiek skryf, is om iets in die wêreld beter te maak. Musikante is dissipels van die wêreld en dis hulle werk om mense se siele gelukkig te maak. As jy ongelukkig is en jy luister na die regte musiek, dan voel jy beter,” deel hy.

Dozi (oftewel Henk Opperman) is in Hluhluwe gebore en het op ’n plaas in Standerton grootgeword. Hy het op die ouderdom van twaalf begin sing en kitaarspeel en was sedertdien nog altyd ’n groot bron van vermaak vir sy vriende, familie en aanhangers.

Na sy diensplig, het hy grafiese ontwerp by die Technikon van Pretoria studeer en op ’n aand vir homself ’n optrede by die plaaslike Spur losgeslaan. Dit was die begin van ’n baie lang en suksesvolle musiekloopbaan. Hy het tot in die oggendure optredes gedoen, wat gelei het tot die ontstaan van sy bynaam – Dozi – omdat hy bedags baie lief was vir slaap.

Nadat sy paaie met Hansie Roodt en Lydia Winchester gekruis het, het dinge behoorlik begin vlam vat. Sy eerste album, Mercy, wat ’n geestelike Zoeloe-album was, is in 1999 uitgereik en het vir hom ’n SAMA-benoeming vir Beste Nuwe Kunstenaar besorg het. Verskeie bekroonde platinumverkopers, waaronder Op Aanvraag, Storm op die Horison, Siyaya – Ons Gaan… en talle nommer een-radiotreffers het daarna gevolg.

Oor die jare, het hy nie net ’n gereelde gesig geword by die land se grootste musiekfeeste en –konserte nie, maar ook bekendheid verwerf op die kassie op sy eie program – Kom ’n Bietjie Binne– asook as afrigter in twee seisoene van die realiteitsprogram, Supersterre en ’n gereelde gaskunstenaar op Noot-vir-Noot.

Volgens hom, is daar ook bittermin van die ouer kunstenaars saam met wie hy nog nie die voorreg gehad het om te werk nie. Hy sou egter nog graag saam met Jan Blohm wou optree, omdat hy so lief is vir blues-musiek en nog nooit regtig saam met musikante in daardie kringe gesing het nie.

“My inspirasie kom van wat ek hoor, ruik en sien en kom baie van binne af. Alhoewel ek gereeld kyk na oorsese goed, is ek bang om te veel belang te stel in wat in die musiekbedryf aangaan. ’n Mens is so geneig om in daardie groef te val en dan klink almal dieselfde,” sê hy. “Ek hou van enige tipe musiek en sal soms vir ure na klassieke musiek luister. Blues is net iets wat diep in my hart gekruip het, want ek hou van genres wat so ’n bietjie agter die tyd sit.”

VREDEis ’n moet-hê-album vir elke Dozi-aanhanger. Dit is ’n kombinasie van gevoelvolle hartsmusiek en lekker luistermusiek, waarsonder geen speellys volledig sal wees nie. “Musiek is my grootste liefde. Ek wil niks anders doen nie. Sodra ek begin besigheid doen en mense begin oor enige ander iets met my praat, sien ek skoon swart kolletjies voor my oë. Dit was nog altyd so, van skooldae af,” skerts hy. “Ek is so positief en vol planne oor die toekoms, dat ek myself soms bang maak. Die grootste plan is om aan te hou musiekmaak totdat ek eendag my kop neerlê.”

Sy nuutste vrystelling is nie net ’n duidelike bewys dat Dozi nogsteeds so passievol is oor wat hy doen soos altyd nie, maar ook ’n juweel vol treffers wat nog vir baie jare oor die radio gehoor sal word.

Laai die album hier af:

LYS VAN SNITTE:

  1. Partykeer Somtyds
  2. Dit Is Ook Maar Hier
  3. Dis hoekom
  4. Ek Wil Vir Jou Sê
  5. As Jy Deur Hel Gaan
  6. Dis Net Woorde
  7. Hiervandaan
  8. Groete
  9. Galgtou
  10. Sing Van Die See
  11. Skemer Hemel
  12. Smelt Kroes

 

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook:https://www.facebook.com/Dozifanpage/

Instagram: @doziopperman

 

PUBLISITEIT & BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES

Alishia van Deventer

Sel: 083 635 4717

E-pos:alishia@starburstmusic.co.za

Webblad:www.starburstmusic.co.za

 

 

 

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*