
Spoegwolf – Die Donker Toring
In die laat tagtigs het mense soos Johannes Kerkorrel albums uitgebring wat jou oë laat rek het. Alternatief, tog emosiebelaaide lirieke met rou, eerlike stemwerk. En hier verskyn weer een van dáárdie albums. Spoegwolf het in 2012 ontstaan toe die lede; Danie, Chris, Albert en Moskou saam in die Paarl op skool was. Danie en Moskou is ook broers. Danie skryf die liedjies en doen die stemwerk. Chris sorg vir die kitare, klawers en die produksie. Albert is op baskitaar, terwyl Moskou die dromme en perkussie behartig.
Hul album is akoesties goed versorg en die liedjies bevat tema’s wat allerdaags is, maar wat min ander oor sing. Snitte met titels soos Geel, Hartaanval, Seer maak jou so nuuskierig dat jy wil spring deur die snitte en weer terugkom na waar jy was.
Hierdie album is nie net vir die jeug nie, maar beslis vir enigeen wat van rou, eerlike musiek hou. Die album het ontwikkel in ‘n ateljee in Stellenbosch waarna die grootste gedeelte opgeneem is by Sunset Recording Studios deur Gurgen von Wechmar.
Hierdie nuwe groep gaan beslis onder die volk se vel inkruip. Hul tree landwyd op, maar is veral gewild in Pretoria en Potchefstroom tussen die studente.
Wanneer die laaste snit uitdoof, verstaan jy hoekom hulle ook tans benoem is vir ‘n GHOEMA! Toekenning. Hou hierdie seuns dop! Hulle gaan nostalgie skep vir ‘n nuwe generasie.
Hierdie album het my laat besef, Alternatief is ‘n relatiewe begrip.
Be the first to comment