RUDI MULLER – TETELESTAI

RUDI MULLER – TETELESTAI
Rudi Muller se jongste CD, Tetelestai, is ‘n album wat die klank van geestelike musiek in ‘n nuwe wentelbaan plaas. Dit is ‘n grootse, fyn georkestreerde versameling van liedjies met ‘n internasionale klank wat ver anderkant die grense van gospelmusiek die hartsnare sal roer.
“Ons het by vriende gaan kuier en die woord ‘Tetelestai’ was redelik sigbaar in en om hulle huis,” vertel Muller wat dié album as sy mees persoonlike tot nog toe beskryf. “My eerste reaksie was om te vra wat dit beteken, waarna my vriend verduidelik het dat dit die Griekse kruiswoorde van Jesus was: ‘Dit is volbring’. Kort daarna het die lirieke en melodie (vir die titelsnit) net begin vloei, minwetend watter impak dit later op my sou hê.”
Op 14 Julie 2013 het Muller hom langs sy pa se sterfbed bevind. “Die tyd het aangebreek om te groet. Die heel eerste woord wat ek saggies kon uiter, was ‘Tetelestai’… Dit is volbring. Ek word opnuut bewus van die werklike impak van die laaste kruiswoorde. Dit wat ons partykeer beskou as finaal was gespreek sodat elkeen van ons die ewigheid in harmonie eendag saam kan ervaar.”

Tetelestai bevat veertien liedjies wat ‘n Lof-keurspel en twee Engelse snitte insluit en is saam met Deon van der Merwe (van Touch of Class-faam), Hanalie Burger en Ruhan du Toit opgeneem. Van der Merwe en Burger het uiterste moeite gedoen met die verwerkings wat die luisteraar van die eerste note meesleur. “Dit was die hele uitkyk om op hierdie wyse God se Genade en sy Grootheid te besing. Hanalie en Deon is geniaal en hul talent en kreatiwiteit spreek vanself.”
Muller het vir sowat twee jaar lank aan die album en sy liedjies soos Vlambaar en die polsende Wat sal jy doen? gewerk. “Ek voel baie sterk daaroor, dat wanneer ‘n geestelike repertoire saamgestel word, moet dit ‘n werklike toonbeeld van ‘n persoonlike boodskap of ervaring wees.”

Hoewel Tetelestai volg op sy kragtige gospel-debuut Deurbraak en het dié sanger-liedjieskrywer van Nigel al ‘n handvol ander pop-albums op sy kerfstok, verkies Muller om nie homself as ‘n gospelsanger te etiketteer nie. “Ek probeer met al my foute diensbaar te wees en om as instrument gebruik te word. Ek glo elkeen van ons kan ‘n verskil maak, op watter wyse dit ook al mag wees.”
Tetelestai is soveel meer as net ‘n geestelike album en sal jonk en oud oor en oor bekoor met sy eietydse, dog instrumentale aanslag. Liedjies soos Jy bly my kind, Hoe groot is ons God, Kompas en Halleluja in my hart sal lank in die luisteraar se ore en harte bly eggo.
www.rudimuller.co.za

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


1 × 5 =